Landbou in die Vrystaat
Danksy die hulp van borge, landboumaatskappye, boere en ouers herleef die landbou weer op groot skaal by die Hoërskool Kroonstad in die hartland van die Vrystaat. Jong mense kan nou weer broodnodige praktiese ervaring en kennis opdoen om hul plekke vol te
Kroonstad het weer ’n landbouskool met ’n volwaardige boerdery. Hulle bedryf nie net ’n presisie-saaiboerdery nie, maar het ook ’n pekanneutboord onder besproeiing gevestig en is besig om ’n stoetkudde op te bou.
Die boerdery dien voorts as standplaas vir proewe deur verskeie landboumaatskappye. Een van die Landbou navorsingsraad se 20 nasionale sojaboon kultivar proewe word daar gedoen.
Dít alles is bewerkstellig met die ruim hulp van landboumaatskappye en skenkings uit ander oorde.
Kroonstad was jare lank die tuiste van die Hoër Landbouskool Kroonstad (Lanties), wat ook ’n boerdery bedryf het. Dié landbouskool, Hoër Tegniese Skool De Wet Nel en die Hoërskool Kroonstad het in 1994 saamgesmelt om die huidige Hoërskool Kroonstad (Blouskool) te vorm. Die Departement van Onderwys het toe alle subsidies vir die boerdery onttrek en dit moes geprivatiseer word.
In daardie stadium is die volgende vertakkings bedryf: Kontantgewasse, vleis- en melkbeeste, varke, lêhoenders, wolskape en aangeplante weiding.
Die onttrekking van die regeringsubsidies in 1996 het’ n reuse- ekonomiese uitwerking op die boerdery gehad, sê mnr. Riaan Burger, die skools e bemarkingsbestuurder. Die boerdery moes van sy bedrywighede staak om kop bo water te hou, wat op sy beurt ’n uiters nadelige uitwerking op die opleiding van landbouleerlinge gehad het. Dít was nie net by die Blouskool die geval nie, maar by alle ander landbouskole in Suid-Afrika.
Teen 2006 het die skool besluit om sy landbou-afdeling ten volle te laat herleef. Die vertakkings wat weer op die been gebring is, was melkbeeste, varke, wolskape en braaihoenders, met die doel om sinvolle opleiding vir leerlinge te bied.
Ouers en landboumaatskappye het dié herlewing moontlik gemaak omdat die boerdery self dit nie kon finansier nie. Ongunstige ekonomiese en klimaatstoestande het die boerdery egter toe gedwing om weer op vertakkings klem te lê wat deel van die landbou kurrikulum vorm en wat volhoubaar bestuur kon word. Dit was kontantgewasse, vleisbeeste en wolskape.
In 2013 is die terrein en geriewe opgeknap vir die aanbied van die Nasionale Jeug skou- kampioenskapsbyeenkoms. Dit was onder die leiding van mnre. William Drinkwater, die skoolhoof, Philip Wepener en Frikkie van Zyl, die landbou-departementshoof. Hierdie opknapping het die geleentheid geskep om ook inligtingsdae en kursusse aan te bied.
HELPENDE HAND
Riaan sê verskeie belanghebbendes het daartoe bygedra om die boerdery weer tot ’n volhoubare eenheid op te hef.
Die saaiprojek het sy ontstaan te danke aan die inisiatief van mnr. Flip van der Merwe, ’n oudleerling van HTS De Wet Nel. Hy het onder die vaandel van die Renosterkop-studiegroep die leiding geneem om landboumaatskappye by verskeie proewe op die standplaas van die boerdery te betrek. Dít was die begin van ’n omwenteling in die boerdery, waarin mnr. Ferdie Klopper, huidige voorsitter van die landboukomitee, en die maatskappye Pannar, Monsanto, Agricol, Senwes, Nulandis en Syngenta die leidende rol gespeel het.
Kynoch het verlede jaar ook tot die boerdery by die skool toegetree, en ’n protokol is onder die leiding van dr. John Tolmay en mnre. Jakes du Plessis en JB Joubert gevestig.
Sedertdien is 19 maatskappye by die saaiprojek betrokke. Verskeie statistiese proewe word gedoen, waaronder bemesting-, kultivar-, saadbehandeling- en blaarvoeding proewe.
Agri Seker plant ook proewe, waar hy onder meer haelsimulasies doen.
GROENDAG
Noukeurige aantekeninge word van talle aspekte van die saaiery gehou, sê Riaan. Dit sluit in bewerkings, plantdatums, kulti-
vars, bemestings, die toediening van onkruiddoders, insekplae en opbrengs per hektaar.
Dié data sal dan gebruik word om betekenisvolle inligting aan besoekers op hul beplande Groendag-boeredag op 21 Februarie volgende jaar oor te dra. Boere, leerlinge, verteenwoordigers van maatskappye en ander besoekers sal die geleentheid kry om hul mielie-, sojaboon- en sonneblomproewe te besigtig.
Intussen gebruik die boerdery ’n hommeltuig om maatskappye deurgaans op die hoogte van vordering met hul proewe te hou.
STOETKUDDE
Die veebedryf het ook sy steun aan die boerdery gegee. Deur middel van die tydskrif Veeplaas het verskeie telersgenootskappe by ’n stoetveeprojek betrokke geraak. ’n Betrokke telersgenootskap skenk tien verse wat aan die tydskrif behoort, maar as deel van die skool se kudde aangehou word. Benewens twee aanteeldiere word die res van die aanteel die skool se eiendom.
Hierdie projek bemagtig die Blouskool om sy eie Santa Gertrudis-stoetkudde op die been te bring, sê Riaan. Die skool het vanjaar op die Alfa-ekspo in Parys ’n eerbewys van die Universiteit van die Vrystaat se departement landbou-ekonomie ontvang vir die beste kuddebestuur en byhou van aantekeninge van die 13 skole wat by die stoetveeprojek betrokke is.
PRESISIE-SAAIERY
Onder die leiding van mnre. Louis Lingenfelder, bemarkingsbestuurder van Hinterland, en Ferdi Pieterse, uitvoerende bestuurder van Senwes se toerusting-afdeling, het Senwes ook besluit om by die skool se boerdery betrokke te raak. Dié maatskappy het ’n John Deere-trekker en -planter tot die skool se beskikking gestel, waarmee saad en kunsmis afwisselend toegedien kan word. Die hoofdoel daarmee is om vir die boer te wys wat die winsmarge per plant, pleks van opbrengs per hektaar, is.
PEKANNEUTE
Hoërskool Kroonstad se boerdery het intussen besluit om verder te diversifiseer en 500 pekanneutbome is onder drupbesproeiing op die plaas Rustpan gevestig.
Die oogmerk is om die pekanneutboord met verloop van tyd tot 20 hektaar uit te brei.
’n Spilpunt is gekoop en eersdaags sal 15 ha lusern ook onder besproeiing op Rustpan gevestig word.
VENNOOTSKAPPE
Die landbou vorm die kern van enige land. Dit verseker voedselsekerheid as dit volhoubaar bedryf word en is van kritieke belang vir die oorlewing van enige land se ekonomie, sê Riaan.
“Bloues is in die hartland van die Vrystaat geleë, waar gemengde boerdery beoefen word. Die rol van landboumaatskappye vir die voortbestaan en oorlewing van landbou op skolevlak moenie geringag word nie.
“Skole is weens beperkte finansiering nie in staat om op hul eie met wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling tred te hou nie. Die gesofistikeerdheid van hedendaagse boerderye noodsaak skole daarom om met die samewerking van ander belanghebbendes en vennote in die saai- en veebedryf ’n instelling te bied wat die vermoë het om toegeruste skoolverlaters die wêreld in te stuur.
“Hierdie skoolverlaters moet die nodige praktiese ervaring en vaardigheid ten opsigte van die nuutste tegnologie aanleer om in die behoeftes van die landboube- dryf te voorsien, maar ook om hul eie ondernemings te begin en te bedryf.
“Vennootskappe moet met private instansies gesluit word en tot voordeel van albei partye bedryf word sodat die nuutste tegnologie en praktyke op praktiese wyse deur die skool én die private instellings aan leerlinge oorgedra kan word.”