Landbouweekblad

Hart tot hart

- HART TOT HART DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

God hou nie van ’n langafstan­dverhoudin­g nie.

Elke keer wanneer ek iemand bystaan in sy of haar ellende, wonder ek: Waarom het dit met hom of haar gebeur, en nie met mý nie? Moet ek aanneem dat ek dalk ’n beter persoon is? Die blote gedagte skree egter in my binneste: “Nee, nee, dit kan tog nie so wees nie.” Watter logika is daar aan sulke gedagtes?

Elke keer loop ’n mens jou vas in God se andersheid. Ons mense werk met begrippe soos redelikhei­d en onredelikh­eid, maar vir God is daar ook iets soos bowe-redelikhei­d. God beweeg in ’n wêreld waar ons nog nooit was nie en om sy weë te wil inpas in ons beperkende grense, wil net nie altyd werk nie.

Sy weë is immers nie ons weë nie en sy gedagtes nie ons gedagtes nie. Soos die hemel hoër is as die aarde, is sy weë hoër as ons weë en sy gedagtes hoër as ons gedagtes (vgl. Jes. 55:8-9).

Nou kan ons terugkom by die vraag “Waarom ek?” Waarom nie ek nie? Die feit is dat ons gewoon nie oor die kundigheid beskik om al dié vrae te beantwoord nie. Elke probeersla­g sal ons in ’n kraaines van verwarring agterlaat.

Kom ons wees eerlik: Dit is nie maklik om jouself te versoen met die weë van ’n God wat jy nie verstaan nie. Dit is ook nie reg om maar net te swyg en in jou binneste te brom nie. Wat bly oor as jy nie hoorbaar mag kla nie, maar ook nie stilswyend in jou binneste mag brom nie?

Daar is eintlik maar net een regte weg: Gaan sê dit, met die nodige respek, vir God dat jy dit onmoontlik vind om te verstaan. Ek dink nie God sal vir jou kwaad wees as jy dit so doen nie. God hou van eerlike mense wat openhartig met Hom gesels. Immers, met die uitstortin­g van sy Gees het Hy dit juis maklik gemaak om vrymoedig met Hom te praat. God hou nie van ’n langafstan­dverhoudin­g nie.

In sy brief aan die Filippense praat Paulus van die nabyheid van God en die voorreg om ons begeertes (ook die begeerte om beter te verstaan) aan God bekend te maak (Fil. 4:5-6).

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa