SA MELKBOERE BEÏNDRUK DUITSE BOERE
’n Toergroep van dertien boere en hul melkkonsultant het van SuidAfrika se belangrikste melkproduksiestreke verlede maand besoek. Landbouweekblad het die reis meegemaak.
Suid-Afrika is dalk nie ’n swaargewig ten opsigte van die volume melk wat gelewer word nie, maar die land se boere word onder die bestes ter wêreld gereken. Daarteenoor is Duitsland die grootste melkproduserende land in die Europese Unie, maar die Duitsers sukkel die afgelope paar jaar met winsgewendheid op plaasvlak.
Me. Sibylle MöcklinghoffWicke, ’n landboukundige van die melkinnovasiespan in Hessen, Duitsland, reël jaarliks ’n buitelandse besoek vir melkboere in haar bedieningsgebied.
“In Duits het ons ’n uitdrukking wat lui: ‘Kyk verby die rand van jou bord.’ Dit beteken eenvoudig dat jy jouself ook aan ander idees en ervarings moet blootstel,” sê sy. “Vir melkboere is nuwe idees veral belangrik om markkragte, regulasies en bedryfskoste die hoof te bied. Ons boere het die afgelope ruk met lae melkpryse gesukkel. Met sekere veranderings in die melkkwotastelsel, omgewingsbeleid en minder subsidies verlaat veral kleiner boere die bedryf.”
Duitsland het in 2016 sowat 33,4 miljoen ton melk gelewer, luidens ’n verslag van die International Farm Comparison Network (IFCN). Dit is meer as tien keer soveel as die 3,2 miljoen ton melk wat Suid-Afrika in dieselfde tydperk gelewer het.
DIESELFDE PROBLEME
Sibylle het Suid-Afrika ’n paar jaar gelede besoek en gesien hoe melkboere te midde van groot struikelblokke teen ’n laer koste as in Duitsland melk lewer.
“Duitse boere sit met soortgelyke probleme as julle in SuidAfrika. Op hierdie toer het ons ook geleer dat voerkoste en die melkprys ’n bekommernis is vir boere oral ter wêreld. Botterinvoer uit Ierland is byvoorbeeld ook ’n groot kwelling vir Duitse melkboere.
“Wat die groep nogal verras het, was hoe Duitse en Suid-Afrikaanse boere ook dieselfde probleme het met arbeidskwessies.”
Sibylle sê kultuurverskille tussen werkgewer en werknemer is ’n beduidende kwessie.
“Duitsland het ’n baie lae werkloosheidsyfer en plaasarbeiders kom dikwels uit Oos-Europese lande. ‘Vuil’ en harde werk is nie gesog onder Duitse burgers nie.
“Weens die hoë minimum loon en arbeidsintensiewe aard van ’n melkplaas verkies boere dus gewoonlik om meer te belê in melkrobotte en voeroutomate. Vir handearbeid stel hulle dikwels werkers uit ander lande aan. Dit bring ander probleme.
“Swak geletterdheid, kommunikasie in Duits en ’n kultuurverskil kan sorg vir wrywing, misverstande en frustrasie.
“Betroubaarheid, werksure en indiensnemingswetgewing veroorsaak ook probleme. Werknemers uit ander lande wil natuurlik ook genoeg verlof neem om hul families gereeld te besoek.”
Die toergroep was verras deur die hoë werknemergetalle en hoeveelheid tyd en geld wat boere in werknemerwelstand en opleiding bestee.
In ’n gesprek met die toer-
groep het aspekte, soos opleidingsprogramme, kleuterskole en selfs persoonlike ontwikkeling en maatskaplike bystand vir werknemers, uitgestaan as “onverwags” en “bemoedigend”.
EVARINGS
Die droogte in die Oos- en WesKaap het die groep ontnugter. Die brandskade by Knysna was vir kilometers aaneen op die roete duidelik en het die bus tjoepstil gelaat.
“Ons kan onsself nie indink hoe dit moet wees om nie genoeg water te hê nie. Die aanpassing by omstandighede is verstommend en die planne wat boere beraam, is eenvoudig inspirerend,” het die egpaar Jörg en Ute Orth gesê. Hulle boer met sowat 230 koeie en sê as dit vir langer as drie weke nie by hulle reën nie, raak hulle benoud.
Die groot verskil tussen ryk en arm was vir die stoettelers Reiner en Helga Schmidt ’n skok. “Telkens wanneer ons verby ’n township ry, laat dit jou stom. Sóveel mense wat in absolute armoede leef, ruk ’n mens.”
Die Schmidts het ’n Holstein-stoetery en teel ook met Simmentalers.
Helga voeg by dat die lewensvreugde, van mense in Suid-Afrika haar opgeval het, al het gesprekke met boere ook oor moeilike onderwerpe, soos politiek en plaasmoorde, gegaan. “Dit is opmerklik hoe almal eenvoudig aangaan met die lewe en vriendelik bly. Niks kry julle onder nie. Vir ons was dit ook interessant om te sien hoe jul boere in die vrye mark meeding en winsgewend bly met laekostestelsels. Ons het op baie van die plase sekere metodes bevraagteken omdat ons sekere dinge baie anders doen.
“Dit is egter ook goed om elke nou en dan jou eie manier van doen te bevraagteken, veral as ander stelsels bestaan wat óók werk en dalk winsgewender is.”
DIE ROETE
Die roete is gekies om die land se hoogste melkproduksiestreek in die Tsitsikamma in te sluit. Van 1997 tot 2016 het melkproduksie met 33,6% in die Wes-Kaap en met 105,8% in die Oos-Kaap toegeneem (Bron: Lacto Data, November 2017). Hulle is saam met KwaZulu-Natal die belangrikste provinsies vir melkproduksie.
Die weidingsgebaseerde laekosteproduksiestelsels in die Oos- en Suid-Kaap en die meer intensiewe produksiestelsels in die Wes-Kaap is besoek. Die groep het ook Fairview se melkbokplaas in die Paarl, ’n paar wynkelders en toerismebesoekpunte in en om Kaapstad, asook die Agri Expo Livestock-skou besoek.
Gewapen met notaboeke, kameras en slimfone – en Sibylle as tolk – het die groep die plaasbesoeke op mnr. Gerhard van Rensburg se plaas Blenheim buite Port Elizabeth begin.
Dié plaas het ’n melkkudde van sowat 400 Jerseykoeie wat daagliks ongeveer 9000 liter teen ’n stalgemiddelde van 21 liter per koei in die 30 punt-visgraatmelkstal lewer. Gerhard en sy vrou, Mildred, boer reeds 27 jaar saam. Gerhard se fyn bestuur maak dit moontlik om ’n unieke kombinasie van ’n hoëkonsentraatvoerstelsel én ’n weidingstelsel toe te pas. Sy koeie se liggaamskondisie het beïndruk, ten spyte van die droogte en weidings wat in ’n herstelfase is.
PLAAS 2. Op Rosenhof naby Oesterbaai in die distrik Humansdorp, boer die broer en suster Jacobus en Maizie Vermaak, wat die plaas ’n paar jaar gelede by hul pa, Johannes, oorgeneem het. Die plaas het Holsteins, Jerseys en kruisings in ’n melkkudde van sowat 1 150 koeie. Die plaas het ook Anguskruisbeeste en Meatmasterskape.
Dié twee se boerderyvennootskap en bestuurstyl het die Duitse toergroep gefassineer. “Jy sal dit nie sommer in Duitsland sien nie. Die manier hoe hulle mekaar respekteer en saamwerk is wonderlik,” sê mnr. Gerd Grünhaupt. Hy en die hele groep was in ekstase toe hulle agterop bakkies gelaai is om die koeie se aantog na die melkstal te aanskou.
“Om meer as duisend koeie te sien op pad melkstal toe was indrukwekkend!” sê Helga.
Die Vermaaks is ook betrokke by die Rheebok Rant-projek vir swart ekonomiese bemagtiging. “Ons doen dit omdat ons glo in die land se toekoms en deel van die oplossing wil wees,” sê Maizie.
“Hul houding maak jou hart warm,” sê Ute.
PLAAS 3. Buite die Wes-Kaapse dorp George lê Skimmelkrans, die plaas van mnr. George Kuyler. Hier het die groep se fokus na doeltreffendheid en knap finansiële bestuur verskuif.
George boer met Holsteins en Jerseys en het ’n kudde van sowat 1 200 lakterende koeie. Die stalgemiddelde is 18 liter per koei en die totale lewering 22 000 liter per dag.
“Ons is besig om die kudde ten volle oor te skakel na Jerseys aangesien ons melkkoper ’n premie betaal vir hoë melkvastestowwe. Jou kudde moet nooit jou plaas ontgroei nie. Ons het daarom nog ’n plaas gekoop sodat ons die kudde kan vergroot. Deur rioolwater te suiwer, het ons ook genoeg water om weidings te besproei,” het George gesê op ’n vraag oor sy toekomsplanne.
PLAAS 4. Die Van Greunenboerdery by George het twee Holsteinkuddes (2 000 koeie) en een Jerseykudde (3 000 koeie). Bloubessies, groente en aartappels word ook op groot skaal verbou. Mnr. Nelius van Greunen en sy vrou, Rika, het die groep die plase gewys.
Drie melkstalle word ingespan om bykans 5 000 koeie per dag te melk. Die diversifikasie van die plaas en hoe die Van Greunen-broers saam die boerderyonderneming bestuur, was tydens dié besoek die fokuspunt. Die Holsteins se stalgemiddelde is sowat 25 liter per koei per dag en die Jerseys s’n 20 liter.
Die gemiddelde daaglikse produksie vir die onderneming is sowat 110 000 liter en die jaarlikse produksie beloop 40 miljoen liter melk.
PLAAS 5. Fair Cape Dairies buite Durbanville is sekerlik een van die land se beste voorbeelde van ’n boerdery wat deur waardetoevoeging en produkontwikkeling groot finansiële sukses behaal.
Die vyf Loubser-broers en die maatskappy se ontstaan en besigheidsbelange is aan die groep uitgelê. Ook die belangrikheid van risikoverspreiding en nismarkontwikkeling, soos die Ayrshire-suiwelprodukte wat Fair Cape aan Woolworths lewer, is bespreek. Die omvang en besigheidsaanslag van die plaas en melkverwerkingsaanleg is deur mnr. Johannes Loubser verduidelik. Die Duitsers het ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse melkbedryf gekry by mnr. Melt Loubser, hoof- uitvoerende beampte van die maatskappy en voorsitter van die SA Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro).
PLAAS 6. Die plaas Klipheuwel van JH Blanckenberg buite Durbanville is waar mnr. Philip Blanckenberg as vierde geslag die leisels hou. “Die eenvormigheid van die kudde dui op goeie teeldoelwitte en bestuur van koeigroepe,” sê mnr. Reiner Schmidt. “As ons van teling praat, is hierdie kudde my gunsteling van die toer.”
Philip is ’n bobaas-kuilvoermaker en mnr. Manuel Schneider was veral geïnteresseerd in sy kuilvoerresep. Die behuisingstel- sel het ook sy oog getrek. Manuel se kudde is tans sowat 600 koeie groot en hy het pas ’n nuwe stal laat bou wat ’n kudde van sowat 1 000 koeie sal kan huisves. “Dit is interessant om die verskillende behuisingstelsels te sien, veral die gebruik van gedroogde mis as beddegoed. Dit is beslis ’n opsie wat ek wil ondersoek.”
INDRUKKE
Die Duitse studietoergroep het bestaan uit melkboere wat met kuddes van 60 tot 600 koeie boer.
Mnr. Ihno Stähle en sy vrou, Pina, gebruik melkrobotte op hul plaas. “Vir ons was dit opmerklik om te sien hoe aanpasbaar Suid-Afrikaanse boere is. Hulle is planmakers,” sê Pina.
“Een van die dinge wat ons kan leer, is om ’n bietjie meer te ontspan. Die atmosfeer op Suid-Afrikaanse plase is baie meer daarop toegespits om die lewe te geniet. Ons kan daaruit leer en minder gespanne wees oor klein dingetjies wat ons pla,” sê Ihno.
“Die menslike faktor en die verhouding tussen die boer en sy kudde is iets wat melkboere met outomatisering verloor,” merk Pina op. “Ons hou van hoe die Suid-Afrikaners betrokke is by hul kuddes.”
Ook Gerd, wat met sowat 300 koeie boer, stem saam dat die benadering tot koeihantering en koeigemak goed is in Suid-Afrika. “Hierdie toer het my laat nadink oor die impak van ’n ‘moderne’ melkerystelsel op iets so aards en organies soos ’n koei. Ons werk met lewende wesens, die grond, weiding en voergewasse op ons plase. Ek voel na dese dat my koeie meer moet uitkom op weidings en in sonlig. Plek is ’n probleem, maar ek gaan probeer om ’n plan te maak,” sê Gerd.
Mnr. Michael Vogt boer met sowat 60 koeie en gebruik ’n melkrobot. “Die les vir my is dat selfs ’n klein plaas fyn bestuur verg. Vir ’n klein kudde om te groei móét sy bestuur so goed wees soos dié van ’n groter boerderyonderneming. Die stelsels moet eers gevestig wees voordat jy groter word. Jou visie vir jou plaas kan nie net ’n aantekening op papier bly nie, maar moet met aksie gepaardgaan.”
“Outomatisering en die gebruik van minder mense is nie altyd beter nie. Met die fokus op die dier is dit soms beter om méér hande en oë te hê wat kan help raakvat en probleme raaksien,” sê mnr. Olaf Fackiner. “My verwagtinge op hierdie toer is oortref. Suid-Afrika kan trots wees op sy melkboere.”