Landbouweekblad

Gebed van ’n bejaarde (deel 2)

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

Verlede week het ek beloof om verder te skryf oor die gebede van bejaardes sodat die belangriks­te deel van die gebed nie dalk in die vergeet-boek sal verdwyn nie. Kom ons herhaal die gebed: “Noudat ek oud en grys is, o God, bid ek dat U my ook nie in die steek sal laat nie, sodat ek ook vir die nageslag van U kragtige optrede en U mag kan vertel . . .” (Ps. 71:18).

Die woordjie “sodat” gee die rede waarom God die oue van dae nie moet agterlaat nie. Ten spyte van die baie dinge wat ek nie meer kan doen nie, is daar tog nog iets wat ek aan die nageslag verskuldig is. Ek moet hulle vertel hoe groot God is, watter groot dinge Hy gedoen het en nog wil doen.

Jammerlik genoeg is daar mense wat hul bejaardhei­d wil aanwend as ’n lisensie om niks te doen nie. Iemand vertel my die storie van die ou oom wat ná sy aftrede sy lisensie vir niksdoen ruimskoots gebruik het. Toe sy vrou een oggend, terwyl hy nog in die bed was, vra wat hy dié dag gaan doen, was sy antwoord: “Niks!” Daarop het sy geantwoord: “Maar jy het dan gisterogge­nd dieselfde gesê?” Sy reaksie was, met duidelike skuldgevoe­l: “Ja, maar ek het dit nie gister klaargekry nie.”

As die Psalmis bid dat die Here hom nie in sy ouderdom moet vergeet of agterlaat nie, vra hy beslis nie ’n lisensie vir niksdoen nie. Nee, hy wil graag besig en nuttig wees. Hy wil ’n getuie wees van die grootheid van God. Hy wil vir die nageslag sê hulle moenie die lewenspad sonder God loop nie. Kom ons sê dit vir mekaar: Ouderdom is nie ’n siekte nie, dis nie ’n lisensie vir niksdoen nie.

Die waarde van die wysheid van die grysheid is nog nooit ten volle bereken nie. Eintlik is dit net swak oordeel as mense soms gedwing word om uit te tree terwyl hulle op die toppunt van kennis, ervaring en wysheid is.

Ek nooi alle bejaardes om saam te bid: “Noudat ek oud en grys is, o God, bid ek dat U my ook nie in die steek sal laat nie, SODAT . . . ek kan getuig van U grootheid.”

Ouderdom is nie ’n siekte nie, dis nie ’n lisensie vir niksdoen nie.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa