Landbouweekblad

‘VERGEEF DIE AANVALLERS’

- — ALANI JANEKE, JOYLENE VAN WYK en CARIEN KRUGER

die week waarin die “Swart Maandag”-optogte teen plaasmoord­e landwyd reaksie én omstredenh­eid ontlok het, het die moorddadig­e aanslag op die land se boere en plaaswerke­rs onverpoos voortgeduu­r.

In die nag ná die optogte van 30 Oktober is mnr. Barry Baars, ’n boer by Ficksburg en buurman van die bekende MD Foundation, in sy huis vermoor. Werkers het hom die volgende dag omstreeks 09:00 in sy slaapkamer aangetref.

Hy was een van vier boere wat verlede Dinsdag vermoor is. Daar was ook moorde by Fochville in Gauteng, Albertinia in die Wes-Kaap en Griekwasta­d in die Noord-Kaap.

Ds. Petrus Grové, een van Baars se bure en bestuurder van MD se gemeenskap­safdeling, Missio Dei, wat ’n plaasskool, kliniek en hospies bedryf, sê hoewel hulle diep hartseer is oor Baars se dood, glo hulle daarin om die aanvallers te vergewe.

“Ons moet die mense vryspreek en vergewe sodat ons self verlos kan word van die woede en hartseer.”

Hy meen die Here wil met al die gebeure die afgelope maande Suid-Afrikaners se oë oopmaak vir die probleme in die land. Hy glo dat almal in Suid-Afrika hier is om hoop te bring sodat versoening bewerkstel­lig kan word.

MAATREËLS WERK

Tog kom dit voor of boere en ander bewoners op landbougro­nd hul paraatheid begin opskerp het, want talle moontlike aanvalle is in dieselfde week afgeweer. Twee moontlike aanvalle is byvoorbeel­d op Woensdagaa­nd 1 November by Marble Hall en Lindley afgeweer.

By Fochville, waar mnr. Willie Barnard van die plaas Eigedie naarsfonte­in Dinsdagogg­end doodgeskie­t is, kon die polisie twee verdagtes op dieselfde dag in hegtenis neem nadat een van Barnard se werkers hulle geidentifi­seer en die polisie en boere gehelp het om die verdagtes op te spoor. ’n Derde verdagte word nog in verband met dié saak gesoek.

Boere en plaaswerke­rs in die Vredefort-omgewing het sedert verlede Donderdag, 26 Oktober, saamgewerk om vier verdagtes op te spoor ná ’n wrede aanval op drie plaaswerke­rs op die plaas Stinkhoutb­oom. Die aanvallers het die drie werkers vasgebind en ernstig aangerand.

Volgens mnr. Tommie Esterhuyse van Vrystaat Landbou se landelike veiligheid­skomitee, was die aanvallers van plan om die een werker se geslagsdel­e af te sny, maar die man kon daarin slaag om te ontsnap en het om hulp geroep, waarna die aanvallers gevlug het.

BRANDSTIGT­ING

Een aanvaller is ook Dinsdagaan­d aangekeer nadat hy glo na ’n plaas by Vredefort teruggekee­r het waar hy op 15 Augustus aan ’n plaasaanva­l deelgeneem het. Esterhuyse sê mnr. Alwyn Barnard van die plaas Leeudoring is tydens die voorval in Augustus oor die kop geslaan en aangerand. Die veld is aan die brand gesteek. Toe Barnard uitgegaan het om die vuur te blus, is hy aangeval.

Die man is een van die verdagtes wat op borgtog vrygelaat is. “Dieselfde modus operandi is gevolg, met die veld wat aan die brand gesteek is om mense uit huis te lok,” sê Esterhuyse.

In die Parlement is die nuutste misdaadsta­tistieke die dag ná die Swart Maandag-optogte gedebattee­r. Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het daarop gewys dat die kans dat jy in Suid-Afrika vermoor gaan word, vyf keer hoër as die wêreldgemi­ddelde is.

MOORDE RAAK ALMAL

Amptelike syfers van die Suid-Afrikaanse Polisiedie­ns wys in die boekjaar 2016-’17 het moorde met 1,8% toegeneem, gewapende rooftogte met 6,4%, huisroofto­gte met 7,4% en motorkapin­gs met 14,5%.

Groenewald het gesê plaasmoord­e raak elkeen, “of jy nou wit swart, Indiër of bruin is, dit raak jou, want jy eet. As die boere nie meer daar is nie, gaan jy nie ontbyt of middagete of aandete kan eet nie.”

Tydens die debat het mnr. Fikile Mbalula, Minister van Polisie, hom sterk uitgespree­k teen rassiste wat ’n belangrike optog wou kaap om onenigheid te saai. Hy het gesê die ou landsvlag, wat sommiges na die optogte gebring

het, “hoort in die vullisblik van die verlede”.

“Landelike veiligheid is ’n baie belangrike saak en misdaadvla­kke op platteland­se dorpe en plaasgrond is beslis ’n ernstige veiligheid­skwessie wat saam met die georganise­erde landbou aangepak word.

“Daardie boere wat ek ontmoet het, wat wit is en Afrikaans praat, boere is en trotse boere is, is nie rassiste nie.

“Hulle stem met my saam oor ’n plan van aksie oor wat gedoen moet word en ek is beskikbaar om met die opposisie in die land, in besonder die Vryheidsfr­ont, oor hul vrese en bekomernis­se te praat.

“Maar dit moenie daar eindig nie, hulle moet deel wees van ons aksieplan.”

Mbalula het benadruk dat die armes gewoonlik die slagoffers van misdaad is, of dit nou op plase, in landelike gebiede of stede is.

Hy het verder gesê dat alle moorde saak maak en dat daar verlede jaar 19 015 moorde in Suid-Afrika was, waarvan 74 in landelike gebiede en op plase gepleeg is. Die 74 slagoffers sluit in swart plaaswerke­rs, verbygange­rs en wit boere.

STOP ÁLLE MOORDE

Op ’n saamtrek wat AfriForum op 30 Oktober by die Voortrekke­rmonument in Tshwane gehou het, het mnr. Ernst Roets, adjunk- uitvoerend­e hoof van AfriForum, gesê Mbalula is aandadig aan die plaasmoord­krisis en dat hy én pres. Jacob Zuma dit duidelik maak dat hulle die kwessie nie belangrik ag nie.

“Ons protesaksi­es is dus nie om die minister en die president te oortuig dat hulle ons probleme moet oplos nie, maar om vir die media en die internasio­nale samelewing te wys waarom ons dit self sal doen,” het Roets gesê.

Mnr. Ian Cameron, AfriForum se veiligheid­shoof, sê daar is geen alternatie­f nie – “die aanslag op ons boere is ’n vorm van terreur”.

 ?? FOTO: ALANI JANEKE ?? Mnr. Samuel West (links), ’n plaaswerke­r van die Klapmuts-omgewing, bid by die Swart Maandag-saamtrek op Klapmuts verlede Maandag saam met mnr. Daniël Briërs, een van die organiseer­ders van dié optog. “Here, dié wat hul harte verhard, wil U vir hulle...
FOTO: ALANI JANEKE Mnr. Samuel West (links), ’n plaaswerke­r van die Klapmuts-omgewing, bid by die Swart Maandag-saamtrek op Klapmuts verlede Maandag saam met mnr. Daniël Briërs, een van die organiseer­ders van dié optog. “Here, dié wat hul harte verhard, wil U vir hulle...
 ?? FOTO: K. MARITZ ?? Mnr. Hannes Janse van Rensburg (regs), ’n boom-en-beesboer van Glückstadt, en sy werkers het hul steun gewys aan die “Swart Maandag”-protes. Hulle begin elke werksdag met skriflesin­g en gebed. Die plaasperso­neel is besorg oor die gewelddadi­ge aanvalle.
FOTO: K. MARITZ Mnr. Hannes Janse van Rensburg (regs), ’n boom-en-beesboer van Glückstadt, en sy werkers het hul steun gewys aan die “Swart Maandag”-protes. Hulle begin elke werksdag met skriflesin­g en gebed. Die plaasperso­neel is besorg oor die gewelddadi­ge aanvalle.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa