Maak wins met regte speengewig
Die Bonsmarakoeie van die Buckridgeboerdery en die stoetery Berco Bonsmaras het die afgelope drie jaar ’n gemiddelde dragtigheidsyfer van 90,3% gelewer. Dié boerdery wil dié syfer tot bo 95% opskuif.
Twee jaar gelede was die dragtigheidsyfer van sowel die stoetery as die kommersiële boerdery van Buckridge en Berco Bonsmaras 91%. Met verlede jaar se droogte het dit tot 87% gedaal, maar vanjaar was dit weer 92%, sê mnr. Frans Seevinck (36). Hy boer saam met sy pa, Bart, en broer Henk in die distrik Vryburg.
“In die afgelope agt jaar het ons dit reggekry om die gemiddelde speengewig met 10-15 kg te verhoog. Ons wil dit met nóg 10-15 kg verhoog. Dit is ’n uitdaging, maar met die korrekte seleksie sal ons daarby uitkom.” Hul doelwit is om met streng bestuursmetodes die dragtigheidsyfer bo 90% te hou.
HERBESETTING
“Ons doen baie dinge om die boerdery doeltreffend te bestuur. Ons is nie skaam om hulp en raad te vra nie.”
Frans sê hulle het in ’n stadium gesukkel met die herbesetting van die eerstekalfkoeie.
“Op ’n Voermol-beesinligtingsdag is 13 stappe genoem wat kan help om die herbesetting van eer-
stekalfkoeie te verbeter. Daarna het ons ons bestuur aangepas en op twee stappe besluit. Ons plaas die eerstekalfkoeie apart van die ander koeie in groepe by die bul, en vandat hulle gekalf het totdat hulle weer gedek is, gee ons vir hulle ’n produksielek.
“Hierdie veranderinge het ons herbesetting van eerstekalfkoeie met 10-15% verbeter. Ons doen dit nou al sewe jaar lank, en van die tweede jaar af was die herbesettingsyfer elke jaar bo 90%. Vanjaar was dit 94%.”
Kunsmatige inseminasie (KI) word op ’n groot deel van die kudde toegepas.
“Ons insemineer die verse en doen waarneming vir ses weke. Van die koeie word ook geïnsemineer. Ons pas vol sinchronisering toe waarna die koeie een keer geïnsemineer word. ’n Opvangbul word dan by koeie geplaas sodat daar een bul by elke 50 koeie is.”
WINSGEWENDHEID
Die koeie word 60 dae ná kalftyd gesinchroniseer en geïnsemineer. Frans sê dit hou twee voordele vir die boerdery in.
“Ons spaar geld op bulaankope. In ons geval kan bulaankope met 25% verminder en gevolglik kan ons meer in een goeie bul belê. Dit het ook die gehalte van die vroulike diere en karkasse drasties verbeter.”
Met hierdie bestuursmetodes het die Seevincks daarin geslaag om die afgelope klompie jare swaarder speenkalwers te speen en om ’n hoë dragtigheidspersentasie te handhaaf. Dit dra alles tot die boerdery se winsgewendheid by.
“Die speenkalf is ons produk. As jy met goeie seleksie die regte soort bulle teel, kan jy tot 20 kg ekstra per kalf verwag. Só voeg jy R700 se bykomende waarde per dier toe,” sê Frans.
“Die doelwit is om 20 kg vleis per hektaar te lewer. Dit wissel. Tydens die droogte was dit 16 kg per hektaar, maar vanjaar het ons 22 kg per hektaar gelewer.”
Bonsmarakoeie is hoog in aanvraag in Suid-Afrika en die verkoop van jong vroulike diere vorm deel van hul bemarking.
Die Berco-kudde is die afgelope twee jaar nasionale wenners in die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) se karkaskompetisie. In die kategorie vir kommersiële enkelbeeste het Berco in 2015-’16 ’n punt van 99,97% gekry en in 2016-’17 ’n punt van 99,25%.