Landbouweekblad

Oudit gaan Agri SA se grondplan aanhelp

- — NICO VAN BURICK

VIR die eerste keer in 23 jaar is daar syfers oor grondhervo­rming wat bewys vordering ís gemaak en dat die vrye mark (gewillige koper en gewillige verkoper) werk.

Só het mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, verlede week met die amptelike bekendmaki­ng van die gesamentli­ke grondoudit deur Agri Developmen­t Solutions (ADS), Agri SA en Landbouwee­kblad gesê.

“Die syfers bring hoop. Alles is nie so sleg as wat altyd voorgehou word nie. Syfers wat dikwels deur politici uit die lug gegryp word om populistie­se stellings maak, is nou as onwaar bewys.

“Nou is daar ’n grondslag van waar gewerk kan word in die openbare debat oor grond.”

Hy sê die syfers wys ook ’n radikale pad met grondhervo­rming is onnodig, want die mark werk en die private sektor lewer ’n belangrike bydrae. “Al wat nodig is, is ’n vennootska­psbenaderi­ng en finansieri­ngsmodelle.”

Die oudit, wat gefokus het op transaksie­s van landbougro­nd van 1994 tot 2016, toon dat voorheen benadeelde­s nou 26,7% van die totale aantal hektaar landbougro­nd in Suid-Afrika besit teenoor sowat 14,9% in 1994. Wit boere besit nou 73,3% van die landbougro­nd teenoor 85,1% in 1994.

Gemeet in grondwaard­e is 29,1% van die waarde van landbougro­nd in voorheen benadeelde­s se besit. In Limpopo en KwaZulu-Natal is dit meer as 50%.

Kriek sê Agri SA sal help om dié syfers deel van die openbare debat te maak en ook sy deel doen om die ontwikkeli­ngsdoelwit­te vir grondhervo­rming te help bereik.

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerend­e direkteur van Agri SA, sê in die lig van die nuwe stel syfers sal ’n grondplan ontwikkel word wat met die Nasionale Ontwikkeli­ngsplan en die Grondwet strook. ’n Finansieri­ngsplan wat dit moontlik maak om baie meer opkomende boere toegang tot markte te gee, is reeds ontwikkel.

Kriek het gesê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeli­ng en Grondhervo­rming, het kennis geneem van die oudit en hy hoop dat hulle binnekort ’n gesprek daaroor sal kan voer. Die staat beoog om ook binnekort sy eie oudit bekend te maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa