Navorsing: Staan koring voor ’n nuwe begin?
MEER as R50 miljoen aan tegnologie-heffingsgeld is vir die eerste keer in die afgelope bemarkingsjaar van koring- en garsboere ingesamel. R46,1 miljoen daarvan is pas aan saadtelers uitbetaal as aansporing om die land voortaan toegang tot beter kultivars te gee.
Mnr. Andries Theron, voorsitter van die Suid-Afrikaanse agentskap vir kultivar- en tegnologieontwikkeling (Sacta) en boer van Moorreesburg, sê vergeleke met die werklike lewering van koring is daar op 92,4% van die oes ’n heffing van R25/ton betaal. By gars is die heffing op 91,7% van die oes betaal en hy beskou dit as ’n goeie poging vir die eerste jaar.
Theron het op ’n vergadering van die koringforum in Pretoria gesê die heffinginkomste, ook bekend as eindpunttantieme, is op grond van markaandeel tussen saadmaatskappye verdeel.
Drie faktore is gebruik om markaandeel te bepaal: Statistieke oor werklike saadverkope (30%), boere se verklarings oor die kultivars wat hulle geplant het (50%), en analise en identifikasie deur steekproewe (20%).
PESSIMISTIES
Theron sê hoewel die heffings een suksesstorie is, het hy boere nog nooit só pessimisties oor die koringbedryf gesien nie. “Ek dink die ergste lê nog voor. Ons is nog nie by ’n draaipunt nie. Die koringbedryf het oor die jare net agteruitgegaan. In 1990 is nog 1,5 miljoen ha land- wyd beplant, teenoor 2016-’17 se 496 350 ha.
“Ten minste is daar nou ’n oplossing vir saad wat op plase teruggehou word, asook aansporing vir telers om nuwe kultivars te ontwikkel en na Suid-Afrika te bring. Daar is ook hernude belangstelling onder plaaslike telers.”
Hy sê boere is bereid om die heffing te betaal en gaan nie terugkeer na die ou bedeling nie. “Dit is die een ding wat ons van produsente se kant kan doen om ons situasie te verbeter. Ek glo ons sal spoedig beter kultivars en beter opbrengste begin sien.”
Theron sê op sy eie plaas het hy vanjaar die minste reën sedert 1928 gehad. “Die gemiddelde vir April tot September is 380 mm tot 420 mm. Vanjaar was dit net 126 mm en ek is verstom oor wat daar steeds op die lande staan. Ek kan dit net toeskryf aan beter kultivars en beter bewerkingsmetodes”.
Omdat tot 70% van saad op koringplase vir aanplantings teruggehou word, was daar voorheen geen aansporing vir telers om nuwe kultivars op die mark te bring nie.