Belasting op beleggings
Jy het jou geld in die sweet van jou aanskyn verdien, maar Jan Taks staan gereed om sy pond vleis te eis. Wees bewus van die verskillende belastings wat op beleggings betaalbaar is en maak jou somme deeglik.
Vandag kyk ek na die risiko wat belasting op jou beleggings kan hê.
Ons vriend Jan Taks word nie verniet die Ontvanger van Inkomste genoem nie. Met elke stukkie inkomste wat jy verdien, staan hy gereed om te ontvang. Selfs op jou spaargeld waarop jy reeds belasting betaal het, vat hy ’n deel van die groei van daardie geld.
Die belastings ter sprake is inkomstebelasting (tot 45%) op die groei wat uit rente en huur verdien word, dividendbelasting (20%) op dividende wat uitbetaal, en kapitaalwinsbelasting (tot 18% en 36% in die geval van trusts) op die wins as jy aandele verkoop. Kapitaalwinsbelasting is nie eintlik ’n afsonderlike belasting nie, want dit is inkomstebelasting op kapitaalwins.
Kom ons haal nou die spulletjie uitmekaar en kyk of daar êrens ’n skuilplek is teen Jan Taks se gierigheid. Ons kyk eerste na diskresionêre beleggings en dan na die verskillende produkte waarin jy jou spaargeld kan laat groei om die effek van belasting op jou belegging te temper.
Met diskresionêr word bedoel dit is reeds jou geld. Jy het dit verdien en jy het belasting daarop betaal. Soos dit ’n verantwoordelike mens betaam, het jy nie alles uitgegee nie, maar ’n groot deel daarvan gespaar. Terloops, ek meen jy behoort 25% van jou inkomste te spaar, maar dit eers daar gelaat.
Diskresionêr beteken verder jy kan te eniger tyd jou geld onttrek. Die belastings daarop werk só: Jy moet jaarliks die rentegroei wat jy gekry het, in jou belastingopgawe noem (dit is belasbaar as inkomste). As jy jonger as 65 is, kry jy ’n rentevrystelling van R23 800 en as jy ouer as 65 is, kry jy ’n korting van R34 500. Jy hoef nie dividendbelasting aan te meld nie. Dit is ’n terughoubelasting; jy sien dit nie.
As jy jou belegging te gelde maak of van fondse verwissel waar aandele verkoop moet word, kom kapitaalwinsbelasting ter sprake. Die aankoopprys word afgetrek van die waarde op die dag van die verkoop en dít is jou wins. Jy kry egter ’n jaarlikse vrystelling van R40 000. Jy word teen jou marginale koers belas op 40% van wat ná die vrystelling oor is. Dit is ’n maksimum van 18% vir kapitaalwinsbelasting.
BELEGGINGS
Indien jy in die sogenoemde belastingvrye produk spaar, is geen belasting op die groei in die belegging ter sprake nie. Dit is egter ’n skrale troos, want jy gaan nie daarmee ryk word nie. Dit is omdat jy tot R33 000 per jaar in die produk beperk is – as jy nie addisioneel daarop belas wil word nie.
Hierdie belegging word met ná-belaste geld gedoen.
Wat polisse betref: In ’n polis word inkomstebelasting op rente- en huurinkomste gehef, nie teen jou marginale koers nie, maar wel teen 30%. Die effektiewe kapitaalwinsbelasting is dus laer. Die storie dat polisse belastingvry is, is een van die grootste leuens in die finansiëledienstebedryf.
Vir iemand in die hoër inkomstebelastinggroep is dit ’n belastingvriendelike opsie. Jy kry egter nie die vrystellings op rente en kapitaalwinsbelasting nie. Jy moet ook vir vyf jaar in die polis belê. Verder is daar die verspot hoë vooruitbetaalde kommissie en administrasiekoste wat enige belastingvoordeel kan uitwis. Sommige produkverskaffers bied dié polisse sonder hierdie vooruitberekende koste aan. Wees bedag daarop.
Laastens is daar uittree-annuïteite. Die geld wat jy spaar – binne die perke van 27,5% of R350 000 per jaar – word gespaar vóórdat jy belasting daarop betaal soos hierbo genoem. Alle groei in die uittree-annuïteit is ook belastingvry. Dit moet daar bly tot jy 55 word en wanneer jy uittree, is die inkomste wat daaruit onttrek is, teen die gewone inkomstebelastingkoerse belasbaar.
Die geld wat jy aan ’n diskresionêre belegging onttrek, is nie belasbaar nie (want, soos hierbo bespreek, het jy reeds die belasting daarop betaal).