Kredietverlaging nou onafwendbaar
Die bekendmaking van die Mediumtermynbegrotingsraamwerk het niks gedoen om vertroue in die Regering en die Suid-Afrikaanse ekonomie te herstel nie. Inteendeel, beleggers gaan eerder die land verlaat.
Die Mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat op 25 Oktober deur mnr. Malusi Gigaba, Minister van Finansies, in die Parlement voorgehou is, toon ’n verdere verswakking in die kernaanwysers van staatsfinansies en sal volgens my tot verdere kredietafgraderings lei.
Waarskynlik die grootste skok is dat staatskuld in die volgende paar jaar verder gaan toeneem tot meer as 60% van die bruto binnelandse produk (BBP), nadat mnr. Pravin Gordhan, die voormalige Minister van Finansies, belowe het dat staatskuld teen sowat 50% van die BBP gaan stabiliseer. Die rand het sommer begin verswak terwyl Gigaba nog met sy toespraak in die Parlement besig was. Dit is ’n aanduiding dat vertroue in die ekonomie ’n verdere nekslag toegedien is. Beleggers gaan eerder hul geld uit Suid-Afrika neem as om in dié omstandighede te belê.
Gigaba het deurgaans gesê vertroue is nodig om die ekonomie te laat groei, maar daar was basies geen beleidsuitsprake om vertroue te skep nie. Inteendeel.
Die ander skoksyfer is dat die Regering in 2018-’19 sowat R70 miljard minder in belasting gaan inkry. Dit bou voort op die huidige boekjaar se tekort van R50 miljard op die begrote inkomste. Die Regering wil egter nie staatsbesteding besnoei nie, maar gaan net nog geld leen, al is renteterugbetalings reeds die grootste enkele uitgawe-item. Dit is soos ’n boerdery waar jou uitgawes (waarvan ’n groot deel onproduktief is) baie meer is as jou inkomste. Pleks van om onproduktiewe uitgawes uit te skakel, gaan leen jy net al hoe meer. Geen wonder die Regering wil banke en die Reserwebank ook kaap nie.
Gegewe ’n noodwendige verdere kredietafgradering, gaan die rentekoerse op staatseffekte verder styg (dit het reeds gestyg terwyl Gigaba gepraat het). Die Reserwebank gaan genoodsaak word om te volg. Só ondermyn die Regering self ekonomiese groei.
Gigaba het glad nie gesê hoe staatsbesteding in toom gehou gaan word nie, maar wel dat die belastinglas in Februarie se begroting verder verhoog gaan word en dat die Regering nog gaan leen.
Die beleid wat deurgaans deurskemer, is dat die Regering meer wil inmeng in die ekonomie en ’n groter rol wil speel, wat hy tans nie regkry nie. Een van die min ligpunte is dat die Regering die staat se aandeel in Telkom wil verminder en ’n buite-aandeelhouer vir die SAA en moontlik Eskom wil inkry. Die werklikheid is besig om deur te dring. Dit is in wese ’n erkenning dat die Regering die staatsbeheerde ondernemings gaan privatiseer as deel van regrukpogings. Dit sal goed wees vir die ekonomie as dit wel gebeur, want die private sektor sal sulke ondernemings baie meer suksesvol kan bedryf.
Een van die grootste struikelblokke is dat die ekonomie baie stadiger groei as wat die Regering verwag het. Die gevolg is dat daar ook minder inkomstebelasting geskep word en dat die staat se belastinginkomste verswak. Aangesien die Regering nie besteding wil inkort nie, is dit onafwendbaar dat die belastinglas gaan toeneem.
MEER SÊ VIR REGERING
Internasionaal word daar tans debat gevoer oor hoe ongebreidelde kapitalisme ook kan lei tot ’n wantoedeling van hulpbronne wat nie die maatskaplike behoeftes van ’n land weerspieël nie. Terselfdertyd word daar wêreldwyd erken dat ’n beheer-ekonomie (sosialisme of kommunisme) misluk het en dat die oplossing nie meer regeringsinmenging is nie.
Heelwat senior ANC-leiers wat in Rusland ’n draai gaan maak het, het nog nie besef dat kommunisme en sosialisme misluk het nie en wil ekonomiese groei aanmoedig deur groter inmenging (dink maar aan myne, landbougrond en swart ekonomiese bemagting) deur staatsbeheerde ondernemings.
Die feit is dat die meeste staatsbeheerde ondernemings in Suid-Afrika tegnies insolvent is. Miljarde rande se staatsgeld word
benodig om hulle aan die gang te hou, sonder dat daar grondliggend herbesin word oor die rol van die staat en sy ondernemings en sonder om ’n groeibeleid uit te spel.
GRAFIEK 1 toon die verloop van staatsinkomste (belasting) en -uitgawes oor die afgelope paar jaar en tot 2020 (soos in die MTBR aangedui word). Staatsinkomste word begroot om met 25,4% oor die drie jaar te styg, terwyl daar min ekonomiese groei verwag word. Die belastinglas gaan dus in die Februarie-begroting drasties toeneem, terwyl Gigaba reeds erken het dat daar tekens van belastingontduiking en -vermyding is. Mense is doodgewoon sat daarvoor om meer belasting te betaal.
STAATSKULD GROEI ONKEERBAAR
Gegewe bogenoemde probleme en die Regering se weiering om besteding in te kort, is Suid-Afrika skynbaar reeds verby die punt waar staatskuld gediens kan word binne normale norme. Die probleem word al hoe groter en gaan ’n yslike tameletjie word.
GRAFIEK 2 toon hoe die staatskuld begroot word om in die volgende paar jaar te styg.
Hoewel voorsien word dat die begrotingstekort sal stabiliseer, is dit op baie hoër vlakke as wat ’n jaar gelede voorgehou is. Die begrotingstekort word groter en van die projeksies is dat dit tot 6,6% van die BBP gaan groei as daar nie opgetree word nie.
Die Regering beoog om vanjaar bykans R250 miljard te leen om sy uitgawes te dek. Daarvan sal min in die buiteland geleen kan word weens die kredietafgraderings. Dit sal dus plaaslik geleen moet word.
As jy geld leen om toekomstige groei te finansier (deur in infrastruktuur te belê), is dit een ding, maar die geld word meestal geleen om lopende uitgawes te dek. Dit is geld wat belastingbetalers en die private sektor baie produktiewer kon aanwend. Daar is ook beperkte spaargeld in die ekonomie, en nou word dit na die staat gekanaliseer. Dit is een van die redes waarom rentekoerse dalk sal moet styg, terwyl dit eerder moet daal.
In die era van mnre. Trevor Manuel en oudpres. Thabo Mbeki was daar ’n surplus op die begroting en was staatskuld minder as 25% van die BBP. Onder pres. Jacob Zuma se “leierskap” het dissipline oor staatsfinansies verval en is groot bedrae aan maatskaplike toelaes, staatsondernemings en die salarisse van staatsdienswerkers bestee. Die nuwe Regeringsleiers gaan ons moeilik uit dié gat grawe.
Daar is tans 17,2 miljoen mense wat maatskaplike toelaes ten bedrae van sowat R160 miljard ontvang. Daar is bewyse dat ’n beduidende deel daarvan aan voedsel, drank en tabak bestee word, en sommige mense voer aan dat dit ’n bedekte subsidie is om die vraag na landbouprodukte te stimuleer.
BELASTINGLAS BLY GROEI
Die gevolg van groter wordende staatskuld is dat die belastingbetaler net nog verder gemelk gaan word. GRAFIEK 3 toon hoe belasting as ’n persentasie van die BBP die afgelope tyd gestyg het. Dit is kruipende sosialisme en ’n onvolhoubare stand van sake in ’n ontwikkelende ekonomie waar ’n mens soveel geld moontlik in die private sektor se sak wil hou om dit self te gebruik en te belê.
In Suid-Afrika het jy ’n ondoeltreffende staatsdiens waar ’n beduidende deel van die belastinggeld gesteel of korrup aangewend word. Die gevolg is dat vir elke R1 wat jy uit die private sektor se sak haal, baie min doeltreffend bestee word. Dit is ’n grootskaalse vermorsing van hulpbronne en sekerlik een van die redes waarom die ekonomie heelwat onder sy groeipotensiaal presteer.