DIE ANDER SÊ
Boere is nie uniek in die gewelddadige misdaadaanslag wat hulle ervaar nie, maar die aard van dié aanslag is eiesoortig, skryf mnr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV). Dieselfde geld mense wat nagskofte werk, sekerheidswagte, Uber-bestuurders en winkelwerkers. Hulle ly almal onder skokkende vlakke van geweld en het almal rede om openbare aandag op dié risiko te vestig.
Kritici van die Swart Maandag-protes moet egter waak daarteen om die plaasmoord-krisis in ’n kompetisie oor wie in die samelewing meer of minder kwesbaar is, te verander, want dit is ’n sinnelose en vernietigende oefening. Die gemeenskaplike vrees vir geweldsmisdaad behoort Suid-Afrikaners eerder te verenig.
Die IRV het al nie-amptelike onderhoude met senior polisiebeamptes gevoer wat by van die mees skokkende plaasmoordtonele teenwoordig was. Hulle was oortuig dat daar geen politieke motivering vir dié moorde was nie. Hulle was egter polisiebeamptes en nie beleids- of politieke kenners nie.
Die instituut meen die politieke retoriek wat boere beskryf as diewe, moordenaars en verkragters wat van hul plase verwyder behoort te word, het in ’n reeds gewelddadige en woedende samelewing bygedra tot ’n situasie waar dit eerder meer as minder waarskynlik is dat boere aangeval en vermoor sal word.