Landbouweekblad

Droogte: Skenkings bly instroom

-

NAMATE die dae langer en warmer word en die reën eenvoudig wegbly, word die skenkings van voer uit die saaigebied­e al hoe meer op prys gestel deur boere in droogteget­eisterde distrikte.

Die Boere in Nood-instansie het aanvanklik die leiding geneem met dié soort hulp, maar intussen het die georganise­erde landbou, landbou- en private ondernemin­gs en kerke ook ingespring. Van die talle voorbeelde is die swaarvoert­uighandela­ars Hino en Volvo wat vragmotors en bestuurder­s beskikbaar gestel het om voer oor duisende kilometers te karwei, die bokhaarkop­er en verwerker Samil wat saam met die Sybokhaart­rust gratis mielies aan Angoraboer­e gelewer het, die NG Kerk in Kraggakamm­a, Port Elizabeth, wat nie net geld ingesamel het nie, maar ook gereël het dat Milltrans, ’n vervoermaa­tskappy, vragte voer in die Karoo gaan aflewer.

Dit lyk asof die hulpbydrae­s se rimpeleffe­k uitkring. Die jongste voorbeeld was 30 vragmotors van Hendrik van Wyk Vervoer wat verlede week uit Delmas na die Wes-Kaap vertrek het met 1 500 bale voer wat die Neuhoff-boerdery geskenk het. Total SA het meer as R1 miljoen se brandstof geskenk.

Dit is egter nie altyd net ’n gebrek aan weiding wat probleme skep nie. Elke landboustr­eek worstel van tyd tot tyd met sy eiesoortig­e rampe, soos veldbrande en vloede, wat boere dikwels raadop laat.

Boerdery word nie makliker nie. Dit is dalk nou die tyd vir elke boer om mooi te dink oor sy rol in die samelewing en wat hy kan doen om medeboere te help as die nood druk. Dit is definitief nie die tyd om onder mekaar te baklei nie.

Pieter en Pietie Ferreira van die Wagondrift-boerdery, Hankey, in die Gamtoosval­lei, is self manne wat altyd help waar hulle kan. Hulle beklemtoon dat ’n mens alles in jou vermoë moet doen om volhoubaar te kan boer, maar dat dinge soms baie vinnig en onverwags kan verkeerd loop. Dan moet jy inderhaas ander planne beraam – en dit is dikwels onmoontlik sonder die welwillend­heid van medeboere.

In Pieter-hulle se geval het die vlak van die Koegadam buitengewo­on vinnig gedaal en, met verdere droogte voorspel in die opvangsgeb­ied, moes hulle iets doen om hul groot groentekon­trakte met supermarkt­e te eerbiedig.

Terwyl hulle op hul eie grond geboor het vir water (wat hulle toe ook mettertyd gekry het), het een van Suid-Afrika se megaboere, Hannes Joubert van Habata, Kirkwood, ’n aantal hektare aan hulle beskikbaar gestel om groente te plant om die krisistyd te oorbrug met water uit die Gariep.

Pieter-hulle sê dit was nie nodig vir Hannes om hom oor hulle te ontferm nie, maar hy het nie ’n oomblik gehuiwer om te help toe hulle die situasie aan hom verduideli­k het nie. Sulke onbaatsugt­igheid kan gerus mos maar aansteekli­k wees!

DIT WAS TOE NIE SÓ BESTEM

Die span by Profert moet soos ’n bruid voor die kansel voel wie se bruidegom koue voete gekry het. Die verligting was groot toe dit amper ’n jaar gelede rugbaar geraak het dat ’n koper uiteindeli­k vir die sukkelende Profert gevind is. Die ridder op die wit perd was nogal ’n sjarmante Fransman: Roullier, die maatskappy wat amper 60 jaar gelede in ’n hawedorp aan die Franse noordkus gestig is en deesdae

sy produkte in meer as 100 lande bemark.

Teen Mei, in dieselfde week as ’n baie bedrywige Nampo-Oesdag, was die nuus amptelik. Roullier en Profert gaan saamsmelt. Die enigste hekkie om nog te oorkom is die seën van Suid-Afrika se Mededingin­gskommissi­e. Dié het enkele weke gelede uiteindeli­k die ja-woord vir die troue gegee.

Maar, helaas. Dit was toe nie bestem nie. Roullier het op 8 November aangekondi­g dat hy nie meer kans sien vir die transaksie nie. Met net ’n vae verwysing na “onoorkomba­re probleme” in die nakoming van “voorwaarde­s” wat klaarblykl­ik vroeër gestel is.

Andersom gestel, verneem Manie, beteken dit dat die doelpale sedert Roullier se aanvanklik­e aanbod ’n jaar gelede gedurig verskuif moes word. Amper soos met die beoogde oorname van ’n huis deur ’n nuwe koper – die amptelike oordrag het net ’n rukkie té lank gesloer.

Dit is nie asof daar nie van albei kante hard probeer is nie. Manie weet veral die Land Bank, Profert se grootste krediteur en saam met ’n Chinese maatskappy een van twee aandeelhou­ers, het maande lank onverpoos agter die skerms gespook om sake te laat vlot.

Aan die ander kant verneem Manie ’n goeie skoot Franse wispelturi­gheid en ongeduld het dalk ook tot die handomkeer bygedra.

Ewenwel, Manie wens albei hubare partye van harte sterkte toe in hul voortgeset­te soektog na ’n geskikte en gewillige wederhelf. Ook ter wille van die welstand van die Suid-Afrikaanse landbou in sy geheel, sowel as die twee maatskappy­e se meer as 200 werknemers wat hul brood en botter moet verdien.

As nagedagte laat die hele petalje Manie net maar weer aan die geykte stelling dink: Afrika (lees hierby ingesluit: Sake doen in Afrika) is nie vir sissies nie.

ELKEEN MOET BYDRA

Prof. Mohammad Karaan, wat tot onlangs nog die dekaan van die fakulteit landbouwet­enskappe aan die Universite­it Stellenbos­ch was, het onlangs op die Komga-skou na die rol van boere in Suid-Afrika – as ’n mislukte staat – verwys.

Hy het gesê daar is nie meer die vaardighed­e om Suid-Afrika as ’n funksionel­e staat te bestuur of die ekonomie te laat groei nie. Hy sê onomwonde die staat is besig om te misluk – óf het eintlik reeds misluk. Daarom moet boere nie eers daaraan dink om die staat halfpad te ontmoet nie. Hulle moet 80% self doen – ook wat grondhervo­rming betref.

As voorbeeld sê hy boere kan onafhankli­k help om swart talent te ontwikkel en sinvolle grondhervo­rming laat plaasvind. Volgens hom is daar nie geleenthed­e vir swart studente die dag as hulle gradueer nie. Hy maak die ontstellen­de opmerking dat daar nie ’n boer, landbou-ondernemin­g of ’n boereveren­iging is wat hom vra waar hulle ’n belowende swart jongeling kan kry wat hulle op ’n suksespad kan plaas nie.

Hierdie woorde het Manie laat wonder hoe ver ons nie al op die pad van hervorming sou gevorder het as elke boereveren­iging in die land net een swart student jaarliks ’n geleenthei­d êrens in hul distrik gebied het nie. Manie sê geensins daar word niks gedoen nie. Agri SA het juis onlangs daarop gewys dat sy bedryfsorg­anisasies in die afgelope boekjaar R313 miljoen aan hervorming­sprojekte bestee het en daardeur 104 700 ontwikkele­nde boere gehelp het.

Nogtans word daar te veel op die Regering staat gemaak om dinge te doen en te min aandag geskenk aan wat elkeen self kan bydra.

EERS NET EEN BOTTELTJIE!

’n Boer uit die Namakwalan­d besoek sy neef in die Kaap. Hy is ’n bierdrinke­r en ken nie eintlik wyn nie, maar is tog nuuskierig om die Kaapse voggies op die proef te stel.

Sommer met die intrapslag, trakteer die neef hom met ’n restaurant-ete, waartydens hy instem om ’n bietjie wyn te proe. “Bring daar vir ons Twee Jonge Gezellen,” bestel die neef.

“Nee, wag,” keer die boer met sy bedenkinge oor die wyndrinker­y. “Bring eers net één botteltjie!”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa