Dís hoekom boere steeds mielies plant
’n Nuwe era met nuwe probleme wat saam met die verwagte goeie jare kom, lê vir saaiboere in Suid-Afrika voor.
Die Oesskattingskomitee het einde Oktober vanjaar die eerste plantvoornemens vir die nuwe somersaaityd bekend gemaak wat op opnames onder saaiboere gebaseer is. Voorheen is bevind dat daar nie groot afwykings is van die plantvoorneme na werklike oppervlaktes wat beplant is nie – mits die weer met planttyd “normaal” is.
Iets wat skokgolwe in die mark veroorsaak het, is dat die totale aantal hektaar wat boere met verskillende somergewasse wil beplant, na verwagting meer gaan wees as verlede jaar se syfers. Verlede jaar is juis rekordopbrengste behaal met groot oeste, wat ’n baie neerdrukkende uitwerking op pryse gehad het.
Die skok was omdat die aangeplante aantal hektaar mielies net met sowat 158 000 hektaar gaan daal teenoor verlede jaar se oppervlakte wat die rekord-mielieoes van 16,7 miljoen ton gelewer het.
Wat voornemens betref om mielies te plant, het die aantal hektaar dus net met sowat 6% gedaal. Dit is ten spyte daarvan dat Graan SA boere aangeraai het om sowat 30-40% minder hektaar te beplant om die mieliemark weer in balans te bring. Dit gaan egter nie gebeur nie.
Die vraag wat nou gevra word, is waarom mielieboere soveel hektare beplant as hulle kla dat hulle nie hul volle koste by mielies – die grootste enkele gewas – kan dek nie.
Die totale aantal hektaar onder somersaaigewasse sal na verwagting van 3,98 miljoen hektaar in 2016-’17 se produksiejaar toeneem tot 4,025 miljoen hektaar in die produksietyd van 2017-’18.
Die teenvraag vir hoekom boere nou weer so baie mielies wil plant, is: Wat staan die boer dan nou anders te doen? Hy het opgehoopte skuld van die droogtejare wat betaal moet word. Hy kan nie bekostig om drasties af te skaal nie. Banke raak baie senuweeagtig as die omset deur ’n boer se rekening daal.
Solank jy regstreekse produksiekoste en ’n gedeelte van jou oorhoofse koste kan dek, is jy steeds beter daaraan toe as wanneer jy niks produseer nie. Boere het dus nie veel van ’n ander keuse as om hul verpligtinge minstens gedeeltelik te probeer nakom deur te plant en oeste te lewer nie.
’n Soortgelyke situasie heers in Amerika, waar die Chicago-graanbeurs se pryse ook die afgelope drie jaar met sowat 40% gedaal het. Boere hou aan oeste lewer solank hulle hul regstreekse produksiemiddele en ’n deel van hul vaste koste kan betaal. Dit is soos ’n hamster in ’n trapmeuletjie – jy trap ál vinniger terwyl jy eintlik stilstaan.
Onthou, boere het al geleer pryse in die vrye mark daal nie net nie; dit beweeg siklies. Heelwat mielieboere berg nog hul mielies op met die verwagting dat pryse kan styg weens ’n skerp verswakking in die wisselkoers voor die nuwe seisoen. Dit lyk tans of die span van pres. Jacob Zuma en mnr. Malusi Gigaba, Minister van Finansies, dit wél gaan regkry.
Met ’n verwagte goeie reënjaar wat voorlê, is daar ’n aantal kwessies wat na vore tree. Die TABEL gee ’n opsomming van die afgelope seisoen se aantal beplante hektaar, opbrengste en eindvoorraad-beraming voor die nuwe seisoen se oes inkom. Die tweede deel van die tabel gee boere se plantvoornemens, met ’n oesraming teen 90% van verlede jaar se opbrengste. Dit sluit ook my eie ramings in van die verwagte oordragvoorraad in 2019.
MIELIES EN ALTERNATIEWE BENUTTING
Die afgelope mielie-oes van 16,7 miljoen ton bly ’n tameletjie. Dit is omdat die uitvoertempo traag is. Teen die huidige tempo gaan daar sowat 4,5 miljoen ton mielies in die silo’s wees as boere die nuwe oes in aanstaande Mei begin stroop.
Die oordagvoorraad, asook ’n groot, nuwe mielie-oes en groot oliesaadoeste beteken daar gaan nie genoeg plek in die silo’s wees nie. Dit kan ’n bottelnek veroorsaak. Onthou, uitvoer verloop stadig. Alles moet per pad uitgevoer word en dit veroorsaak ’n verdere potensiële bottelnek.
Baie boere het besluit om eerder hul mielies
op te berg pleks daarvan om dit teen die lae pryse te verkoop. Daar is dus tans ’n “kunsmatige” tekort aan mielies in die kontantmark.
Pryse word dus nou gestut bokant werklike uitvoerpryse (wat groot hoeveelhede by die hawe sal laat uitgaan). Die dilemma is natuurlik dat sodra daar sekerheid oor die nuwe oes is, die mielies bemark sal moet word, maar die uitvoertempo sal te stadig wees.
Suid-Afrika het na raming ’n houvermoë van sowat 16 miljoen ton in sy silo’s. Groot landboubesighede het min daarby gevoeg. Die skatting is wél dat daar plaassilo’s is wat ongeveer 1 miljoen ton kan hou.
Entrepreneurs gaan waarskynlik tans met ’n plan vorendag kom om plaassilo’s só in te rig dat hulle Safex-sertifikate kan uitreik en dus met gewaarborgde gehalte bemark kan word. Dit gaan ’n nuwe speelveld open, veral as saaiboere nou inspring en plaassilo’s begin bou vir ekstra opbergplek.
Daar is ook baie gesprekke oor die vervaardiging van etanol uit mielies en mielie-suikerstroop wat – nes in Amerika – suikerrietsuiker vervang. Dié opsies is nog ’n paar jaar weg.
Intussen is die grootste veebedryf – hoenders – in trurat, wat die vraag na veevoer en/of mielies in die binnelandse mark demp.
SORGHUM
Die afgelope jare het sorghum ’n stiefkind geword. Tans word navorsing gedoen wat glo in die volgende twee jaar die gebruik van sorghum in nuwe voedselprodukte sal verdubbel. Dit kan die druk op mielieproduksie verlig.
OLIESADE
Daar is wél ’n toename in die produksie van sojabone en sonneblomsaad. Die verwagting was egter dat daar met beter winsmoontlikhede ’n groter swaai na soja’s en sonneblomme moes gewees het om die druk op die mieliemark te verlig. Dit is egter nie die geval nie.
Hoewel die oordragvoorraad van sojabone en sonneblomme na verwagting effens groter gaan word, is daar genoeg parsvermoë in die mark om die oeste binnelands te verwerk. Onthou, Suid-Afrika voer steeds jaarliks sowat 800 000 ton se soja-oliekoek en bykans 600 000 ton kookolie in. Plaaslik is dus baie ruimte om nog invoervervanging te doen.
Die produkte se pryse is ook tans reeds by uitvoer-prysvlakke en dit kan deur die jaar styg. Grondbone as ’n uitvoerproduk begin weer belangstelling in die meer westelike dele van Suid-Afrika wek. Nuwe produksiemetodes en nuwe kultivars gee boere moed vir moontlikhede om produksie verder uit te brei.
Jaarliks word nagenoeg 80 000 ton tot 100 000 ton droëbone ingevoer (hoofsaaklik uit China). Suid-Afrika se mark is egter redelik ongeorganiseerd en groot landboubesighede is nie betrokke by opberging en bemarking nie, wat produksie demp.
VEEBEDRYWE
Die grootse knelpunt vir Suid-Afrika se intensiewe veebedrywe oor die afgelope paar jaar was dat hulle meestal invoerpryse betaal het vir voergraan en oliekoek. Terselfdertyd moes hulle meeding met lande, soos Amerika en Suid-Amerika, waar voergraan by uitvoerprysvlakke baie goedkoper is.
Dit was ’n groot struikelblok. Die feit dat Suid-Afrika heel moontlik in die volgende twee tot drie jaar uitvoerbare hoeveelhede voergraan en oliesaadprodukte teen uitvoerprysvlakke gaan hê, gaan die binnelandse veebedrywe ’n groot hupstoot gee.
Hoe lank die siklus van surplusmielies gaan aanhou, is debatteerbaar, maar die siening is dat Suid-Afrika nou in die sewe vet jare is. Die produksietegnologie by mielies het ook só verander dat ons eerder surplusse as tekorte kan verwag.