Dekgewas-wins binne drie jaar
Een jaar se proewe en twee jaar se dekgewasaan plantings waarmee dié Hoëveldse boer sowat R4300 wins per hektaar behaal het, het hom oortuig dekgewasse kan ’n integrale en winsgewende deel van sy saaiboerdery word.
As hy aan boer dink, kom dit vir hom altyd terug na die beeld van ’n groen waterdruppel, sê mnr. Izak Dreyer van die plaas Skulpspruit buite Vrede: Die simbool van die strewe om elke liewe druppel water op jou plaas in iets groen om te skep.
“Elke druppel wat val, moet groen word. Met alle water wat wegloop of verdamp, verloor jy koolstof. Ons grootste beperkende faktor is nie vog nie, maar organiese materiaal in die grond (wat die grond se waterhouvermoë, binnedringingstempo en biologiese aktiwiteit verhoog).”
Die geenbewerkingsaadjie is al 20 jaar gelede by hom geplant toe dr. Hendrik Smith hom aan die bekende oom Ant Muirhead, een van SuidAfrika se eerste geenbewerkingsboere, en sy studiegroep buite Winterton in KwaZuluNatal bekend gestel het.
Terug op die plaas by Vrede was die destydse gebrek aan goeie geenbewerkingsplanters egter die beperkende faktor, en goedkoop glifosaat was ook nog nie te koop nie.
Soos elders ter wêreld is dié stand van sake sedertdien omgekeer en Izak het vyf jaar gelede 100% na geenbewerking omgeskakel. Hy gaan vanjaar die sesde keer al sy lande met geenbewerking beplant.
Die tweede, selfs groter, omwenteling in sy boerdery het twee jaar gelede begin, toe Hendrik, deesdae bewaringslandboukoördineerder by Graan SA, en sy oudkollega dr. Gerrie Trytsman van die Landbounavorsingsraad dekgewasproewe op Skulpspruit begin plant het.
PROEWE ONMIDDELLIKE SUKSES
Dit was so ’n onmiddellike en groot sukses dat Izak verlede jaar 15% van sy kontantgewaslande onder dekgewasse gesit het, Hy beoog om vanjaar en in die komende jare dié proporsie aansienlik uit te brei, veral ná ’n onlangse besoek aan die Amerikaanse MiddeWeste, wat hom verder oortuig het van die noodsaaklikheid van diverse dekgewasse wat bewei word.
Izak plant al sy dekgewasse op droëland. Sy twee kontantgewasse is mielies en sojabone. Die sojabone word met ’n winterdekgewasmengsel opgevolg, en die somerdekgewasmengsel word tussen die groeiende mielierye ingeplant.
Die afgelope produksiejaar was sy vleisproduksie op die dekgewasse, met speenkalwers en lammers, 170 kg per hektaar. Daarmee het hy, nadat saadkoste en diesel afgetrek is, gemiddeld sowat R4 300 per hektaar in die sak gesteek.
Hierdie syfers lyk veral aanloklik gegewe
plaaslike geelmielieprys wat etlike maande gelede al onder die vlak van R2 200/ton inbeweeg het, en sedertdien met ’n rekordoes onder net al hoe groter druk gekom het. Die algemene verwagting is dat dit nie gou gaan kop optel nie.
Izak het in 1994 saam met sy pa, Nan, op die familieplaas begin boer, met 20% kontantgewaslande en 80% natuurlike weiding.
Die eerste jaar toe hy geenbewerking beproef het, het hy dit op ongeveer ’n tiende van
die lande toegepas. Toe dít “nie ’n trainsmash was nie”, het hy volledig omgeskakel.
AS HY SOU OOR BEGIN . . .
As hy vandag terugkyk, glo hy ’n selfs vinniger suksespad sou gewees om eers dekgewasse te plant om die lande wat oor baie jare konvensioneel bewerk is, nuwe lewe te gee, en daarná weer kontantgewasse in die dekgewasse te begin plant, met geenbewerking.
Hy verwys na ’n grafiek ( GRAFIEK 1 ) wat die Amerikaanse dekgewaspionier Gabe Brown graag gebruik, van die kurwe wat die koolstofinhoud van sy grond gevolg het namate hy aanvanklik met geenbewerking begin het, toe wisselbou bygevoeg het, toe dekgewasse, toe dekgewasmengsels met diverse spesies, en uiteindelik beweiding deur ’n veekomponent met sy saaiery geïntegreer het.
“Daardie koolstof wat in die grond opbou, is ons reddingsboei. Daar is ’n groot boodskap van hoop in hierdie hele ding. Ons kán ons grond verbeter en ons kán ons insetkoste afbring,” sê Izak. “Dít aan die een kant; en aan die ander kant die hele konsep van biomimiek, dat jy maar net in jou boerdery die natuur so veel as moontlik moet naboots.
“Die een praktyk lei elke keer amper vanself tot die volgende. Baie gebeur per ongeluk: Ons het byvoorbeeld in die eerste jaar wat ons dekgewasse (op die 5 ha se amptelike proefaanplanting) geplant het, saad oorgehad. Ons het toe bloot aangegaan en die orige saad aanhou plant, en op daardie ekstra dekgewasse die volgende jaar se kontantgewasse. Toe kon ek al duidelik sien (aan die opbrengs van daardie stuk, waarop voorheen dekgewasse was) hier is iets aan die gebeur.”
Hy is nou op die punt waar hy hoëdrukbeweiding met vee ’n integrale deel van sy hele boerderystelsel wil begin maak.
“Ons grootste probleem is kennis. Jy hoor dinge, maar sukkel om die legkaart vir jou eie boerdery te bou.”
Izak raai enige boer wat hierdie pad wil begin stap, aan om by die internet te begin, en die horde YouTubevideo’s te kyk van internasionale fundi’s in herlewingslandbou, soos Gabe Brown, Ray Archuleta en Christine Jones. (Toe sy vrou, Helena, wat saam op die Amerikaanse toer was, daar die eerste keer vir Ray Archuleta, die toerleier, ontmoet, het sy gespot dat dit voel of sy hom al jare persoonlik ken, want sy hoor hom aand na aand vanuit hul kombuis op die plaas gesels, waar Izak sy YouTubevideo’s sit en kyk om meer te leer oor watter praktyke werk.)
MIKPUNT: 1,2% GRONDKOOLSTOF
Izak se aanvanklike mikpunt is nou om baie meer dekgewasse te plant, en ’n gemiddelde punt van ten minste 1,2% organiese
koolstofinhoud in al sy grond te probeer haal. “Op meer as een plek het ek nou al gehoor op daardie punt begin die toorkrag gewoonlik ernstig inskop.”
Hy benadruk nogtans dat dit nie nodig was om ’n paar jaar te wag om die verskil te sien wat dekgewasse maak nie; by hom was dit van die begin af duidelik. Sy stelsel werk tans as volg: ’n Winterdekgewasmengsel word op die sojaboonlande geplant sodra hulle gestroop is, ongeag die grondvoginhoud. (’n Kortgroeiersojaboonkultivar word verbou.) Die plan is om vanjaar ook so veel as moontlik winterdekgewasse tussen groeiende mielierye te begin plant, want die groot uitdaging is om in die winter ook groen plante op die mielielande te hê, sê Izak. Die afgelope jaar se mengsel het rog, radyse, rape en wieke ingesluit, en hy oorweeg dit om die komende planttyd ook erte in te sluit. ’n Somerdekgewasmengsel word tussen die groeiende mielierye geplant, voordat die mielies te hoog is om met die tussenryplanter in die lande te kom. Dit lewer nou wel nie dieselfde volume weimateriaal as die winterdekgewasse nie, sê Izak, maar dit het die afgelope jaar redelik goed gewerk sodat daar darem groen materiaal tussen die droë mielies en gestroopte mieliereste was. In hierdie mengsel was wieke, radyse, swarthawer, withawer en klawers. Dit is met ’n tussenryskyfplanter geplant wat sy een bestuurder, mnr. DD Roets, op die plaas gebou het. Hy wil voortaan ’n groter deel somerdekgewasse plant, en sê die kwessie sal wees om hierdie somergewasse dan ekonomies onder ultrahoë druk met vee te bewei. Benewens die tussenryplanter plant hulle ook dekgewasse met ’n Equalizer-skyfplanter wat Izak intussen aangeskaf het.
GROEN IN DIE WINTER
Hy sê sy beleid sal van nou af wees om soveel moontlik dekgewasse op al sy lande te plant. “Ja, daar sal wel tye wees dat die reën nie op die regte tye gaan val nie, maar meestal behoort daar kans te wees om van die laaste reën (van die reëntyd) te vang (en in dekgewasproduksie om te skakel).”
Izak is veral opgewonde oor die groen winterdekgewasse wat hy vanjaar tussen dooie kontantgewasoesreste op sy lande deur sy vee kon laat benut. “Dit was nou lekker luuks om in die winter so te kan boer,” wys hy op ’n foto. “Op die agtergrond is dit droog, maar hier loop beeste op groen. Dít is iets wat ons nooit in die verlede gehad het nie: Groenvoer in die winter.”
Vanweë die lae mielieprys het dit vanjaar vir hom sin gemaak om hierdie weiding met ’n energielek aan te vul.
Sy uiteindelike som wys dat hy met die dekgewasse, nadat lek- en saadkoste afgetrek is, sowat R4 300/ha wins gemaak het uit die vleis wat speenkalwers en -lammers daarop gelewer het.
Die wintermengsel se saadkoste was R460/ha, en die somermengsel R550/ha vir die saad, plus R1 000/ha vir kunsmis (60N, 15P en 8K). Die totale plantkoste (saad ingesluit) was gemiddeld sowat R1 000/ha vir die wintermengsel, die energielek sowat R720/ha, en die gemiddelde prys wat hy vir die speenkalwers verdien het R35/kg, en vir die speenlammers R40/kg.
Hy benadruk dat die afgelope jaar se winterdekgewasse op Skulpspruit maar tussen 20 en 30 mm reën gekry het nadat hulle geplant is ( GRAFIEK 2 ).
Daar was wel nog vog in die grond nadat die sojabone geoes was. Hy het hierdie dekgewasse verlede September doodgespuit en mielies daarin geplant.
Sedert hy op die Amerikaanse toer was, het hy egter besluit om volgende keer nie die winterdekgewasse dood te spuit nie, maar sojabone net so in die groen winterdekgewasse te plant.
Hy sê die grootste hupstoot vir ’n daaropvolgende kontantgewas wat hy nóg uit dekgewasse op Skulpspruit gesien het, was toe hy die winterdekgewasmengsel met sojabone opgevolg het, en die sojabone in die groen winterdekgewasse geplant het.
Hy bemes nie sy winterdekgewasse nie, en hoop dat hy mettertyd ook aan bemestingkoste vir die daaropvolgende sojabone (as kontantgewas) sal kan spaar.
Ná net twee jaar wys sy ondervinding reeds sy kontantgewasse presteer altyd beter op lande waarop dekgewasse was teenoor dié wat nie deur dekgewasse voorafgegaan is nie, “selfs al het hulle niks water oorgelos nie, want jou organiese materiaal (danksy die dekgewasse) maak waterbinnedringing en -houvermoë net soveel beter, en laat die biologie onder die grond net soveel beter vir jou werk.”
MINDER GRONDVOG VERDAMP
Namate organiese materiaal in die grond opbou, verhoog daardie grond se netto waterbalans teenoor dié van grond met minder organiese materiaal.
Al onttrek die dekgewasse dus van die grondvog om te groei, gaan minder grondvog aan die ander kant weens verdamping na die atmosfeer en loging na onder verlore. Daarby is sulke grond in staat om ’n nuwe toevoeging van vog, soos ’n reënbui, in groter hoeveelhede op te neem en op te berg waar dit vir plantopname beskikbaar is.
Terwyl hulle nooit voorheen erdwurms in die lande opgemerk het nie, is daar nou erdwurms oral op die lande waar dekgewasse was, sê Izak.
Sy somerdekgewasmengsel vir vanjaar (2017-’18) is soetsorghum, babala, akkerbone, swarthawer, withawer, radyse en rape. Hy het begin Oktober al dit begin plant. Hy probeer soveel moontlik hiervan saai voordat onkruid in die lande begin opkom omdat onkruiddoder nie op die somerdekgewasmengsel gespuit kan word nie.
Gevra oor wat sy antwoord is as ’n boer sê toestande op sy plaas is van so ’n aard dat dekgewasse nooit daar sal werk nie, sê Izak hy dink dan maar net altyd aan ’n skyfie wat Ray Archuleta graag wys – van die koolstofsiklus. In enige ekostelsel, en dus in enige boerdery, geld daardie siklus, en op enige plaas is daar ’n regstreekse korrellasie tussen die koolstofinhoud in jou grond en jou boerderywins, glo hy.