KRY WATER UIT DIE ZAMBESIRIVIER
Die wêreldberoemde Suid-Afrikaanse ingenieur dr. Henry Olivier het in sy boek Damit geskryf “die riviere van Afrika moet ingespan word om elektrisiteit en water aan die inwoners te verskaf”.
Afrika het ’n reeks groot riviere, waarvan ’n paar reeds groot damme en kragsentrales bevat. Daar is die Nylrivier met sy Aswandam wat krag en water aan Egipte verskaf, die Owenfallsdam by die uitloop van die Victoriameer wat elektrisiteit aan Kenia en Uganda verskaf, die Karibadam wat 1 100 MW elektrisiteit aan Zimbabwe verskaf en die Cahora Bassadam wat 1 750 MW elektrisiteit aan Suid-Afrika en Mosambiek verskaf. Laasgenoemde elektrisiteit word per kraglyn na Irene by Pretoria gelei.
Die Kariba- en Cahora Bassadam kan vir Suid-Afrika nuttig wees gegewe droogtes en waternood. Ons moet net die water uit die Zambesirivier by Tete
pomp met elektrisiteit wat reeds daar is. Wat nodig is, is om die pype aan te lê van Tete na Suid-Afrika tot by Pafuri, ’n afstand van ongeveer 850 km, en van daar na Musina, Tom Burke, Buffelsdrif, Zeerust, Hotazel of Van Zylsrus, Upington, Lutzville, Saldanabaai en Kaapstad.
Ek besit ’n eksemplaar van The Times Atlas of the World. Die hoogte bo seespieël word in verskillende kleurskakerings aangedui. Tete, aan die oewer van die Zambesi, lê op ’n hoogte van ongeveer 500 m bo seespieël. As die pyplyn daar in Mosambiek al langs die grens van Zimbabwe gaan, is dit op dieselfde hoogte bo seespieël as Tete. Dit beteken dat min energie nodig sal wees om water te pomp, afgesien van die wrywing.
’n Verdere voordeel daarvan om die pyplyn deur Mosambiek na Pafuri te bring, is dat van die water daar afgetap kan word vir besproeiing en die landboubedryf in Mosambiek.
BOU EN AANLÊ VAN DIE PYPLYN
Indien die pype in Vanderbijlpark vervaardig word, kan dit per spoor na Richardsbaai vervoer word en van daar per skip na Beira en dan per teerpad na Tete. Ek was al drie keer via Tete na Malawi, asook per bus van Tete na Chisolo na Umtali, en weet dus hoe dit daar lyk.
Ander pype kan van Vanderbijlpark na Pafuri per spoor vervoer word of padlangs na Musina en dan na Pafuri en Ellisras.
Op Ellisras kan baie krag verkry word van die reusesteenkoolkragsentrale wat hope- lik teen daardie tyd in werking sal wees.
Die pype vir die westekant van die republiek kan van Saldanha per spoor na Hotazel vervoer word.
Die pyplyn behoort uit vier pype van ongeveer 250 mm in deursnee elk te bestaan, maar ’n ingenieur sal die werklike deursnee moet bepaal. Elke pyp het sy eie pompe van ongeveer 400 MW. Die voordeel om die water deur vier pype te vervoer, is dat water by Pafuri afgetap kan word vir besproeing in die binneland.
In die Wes-Kaap word die water via Vredendal, Tulbagh, Wolseley en Worcester na die Theewaterskloofdam gepomp.
FINANSIERING
My voorstel is dat die skema ’n Suid-Afrikaanse landbouskema moet wees. Tyd is die faktor, want die Weerburo sê daar is elke 11 jaar ’n droogte in Suider-Afrika en elke 30 jaar ’n rampdroogte. As dit ’n landbouprojek is, skakel dit van die politiekery en rompslomp uit.
Geen ander land ter wêreld het so ’n bron van elektrisiteit en water tot sy beskikking nie. Die Cahora Bassa is reeds gebou. Die water en die elektrisiteit is daar. Al wat nodig is, is om die pype aan te lê.
Die vraag sal wel gevra word of Suid-Afrika die 1 750 MW van Tete na Irene kan afstaan. Binne 10 jaar behoort van die beoogde kragsentrales egter reeds voltooi te wees. Verder word daar reeds wind- en sonkrag opgewek.
DR. S.H. PELLISSIER