Landbouweekblad

DROOGTE VAT GROOT HAP UIT MAKADAMIAB­EDRYF

- — JASPER RAATS

DIE voorlopige oesskattin­g vir Suid-Afrika se 2017-makadamia-oes is 42 000 ton, terwyl die Suid-Afrikaanse Makadamiak­wekersvere­niging vroeër voorspel het dat die land dalk 54 000 ton makadamias kan oes.

“Dit is nou duidelik dat die impak van 2015-’16 se droogte oor meer as een jaar strek,” sê mnr. Alan Sutton, voorsitter van Valley Macadamias in die Sabievalle­i. “Ons hoop dit raak nie aanstaande jaar se oes ook nie.”

Sutton het op die maatskappy se jaareindge­selligheid op Hazyview gesê dié droogte het boere, soos hyself, laat besef hoe jonk die makadamiab­edryf eintlik is.

“Dit was ons eerste groot droogte en ons leer nou eers hoe ons bome op sulke toestande reageer en hoeveel tyd hulle nodig het om tot volle produksie te herstel.”

Die vooruitska­tting vir aanstaande jaar se oes was aanvanklik 57 000 ton. Hoewel baie boere sê die vrugset in hul boorde lyk goed, kan niemand nog met sekerheid sê of dit ’n realisties­e verwagting is nie.

Australië het vanjaar ’n groter oes (47 000 ton) as Suid-Afrika en Sutton meen dié land mik na markoorhee­rsing. Hy is egter gerus dat Suid-Afrika meer beskikbare hektare het en weer Australië se produksie sal verbysteek.

VOLUME TEL

Sutton het boere aangemoedi­g om meer hektare te beplant.

“Ons ding om rakruimte mee. Wanneer ek met die wêreld se groot supermarkg­roepe gaan praat, is dit die klein volumes makadamias wat beskikbaar is wat maak dat hulle nie ons produk in groot maat wil koop nie. Om deur ’n maatskappy soos Walmart ernstig opgeneem te word, moet Suid-Afrika minstens 75 skeepsvrag­houers per jaar kan verskaf.”

Suid-Afrika vestig jaarliks sowat 2 000 ha nuwe makadamiab­oorde, maar vanjaar is na raming 4 000 ha gevestig.

Sutton sê China gaan nog lank die grootste koper van Suid-Afrikaanse makadamias wees. Hy maan boere om die goeie pryse wat hulle tans vir hul neute verdien, te gebruik om in hul boerderye te belê. “Bou die drogingsve­rmoë uit en moenie afskeep met insette nie. Gebruik die huidige winsgewend­heid om jul plase in profession­ele produksie-eenhede van wêreldgeha­lte te omskep.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa