Soja-wenboer dokter eers grond reg
’n Voordelige wisselwerking tussen mielies en sojabone het vanjaar die deurslag gegee vir mnr. Michael Allen van Middelburg, Mpumalanga, in Dupont Pioneer se Weeg-en-Wenkompetisie. Met ’n wenopbrengs van 4,858 ton/ha kraai hy koning in die afdeling vir dr
Vir mnr. Michael Allen van die plaas Hartebeesfontein by Middelburg, Mpumalanga, is grondgesondheid sekerlik die grootste oorweging om top-oeste te behaal. Vanjaar se wenner in die afdeling vir sojabone op droëland in die oostelike produksiestreek het net een leuse wanneer dit by prima-opbrengste kom: Voer die grond, nie die plant nie.
“’n Hoë opbrengs is te danke aan die regte soort grondbewerking en deeglike kennis van die chemiese status van jou grond. Dit is ons erns met ons grond. Selfs die mikro-elemente word in ag geneem om te verseker dat ons plante die beste moontlike kans het om te floreer,” sê Michael.
Hoewel hy vanjaar die wenner in die sojaboonafdeling is, plant hy twee derdes mielies en ’n derde sojabone in rotasie op sy lande. “Sojabone is nou ook ’n kontantgewas, en dit met stikstofvaslegging, wat die mielies verbeter. Deur mielies en sojabone in ’n wisselboustelsel te plant, kan jy boonop dieselfde werktuie ’n langer plant- en strooptyd gee en dus meer grond met dieselfde masjinerie behartig,” sê Michael.
Op die vraag of die huidige lae mielieprys hom gaan noop om vanjaar meer sojabone te plant, sê hy die boerdery vaar goed met die wet van gemiddeldes. “Ons gaan dus nie meer sojabone plant nie.”
GRONDREGSTELLINGS
Die plaas bestaan hoofsaaklik uit rooi Hutton-grond wat op plekke oorgaan na Avalon-tipe grond met ’n gemiddelde klei-inhoud van 17%. Dit is diep gronde van 1,5 m en dieper – tipiese Hoëveldse mielie- en sojahelp
boongrond. “Ons wil graag ’n pH van meer as 6 en ’n fosfaatinhoud van minstens 30 dele per miljoen hê. Die grond kan wel ’n tekort aan kalium hê, maar ons stel dit ook met bemesting reg om ’n kaliuminhoud van sowat 90 dele per miljoen te verkry,” sê Michael.
Hy is die vierde geslag in die Allen-familie en het in 1981 saam met sy pa, Graham, begin boer. Hy staan sedert 1992 aan die stuur van sake. Vandag is sy seun Gareth, die vyfde geslag, deel van die boerdery. Dié pa en seun vorm ’n gedugte kombinasie.
Gareth was verlede jaar een van die finaliste in die Weeg-en-Wen-kompetisie se afdeling vir droëlandmielies in die oostelike produksiestreek.
STREEF NA GEMIDDELDE
Michael verduidelik dat die boerdery nie daarop uit is om ’n kompetisiewenner-opbrengs in te behaal nie, maar deurentyd eerder probeer om ’n soja-oes van gemiddeld 3 ton per hektaar te behaal. Om dit reg te kry, word die grondstatus deurlopend gemonitor. Verstellings word deur bemesting en kalktoediening aangebring om die chemiese status reg te kry.
“Ons bemes die mielies vir twee jaar swaar, waarna ons glad nie die sojabone bemes nie. Vir die voorafgaande twee jaar gebruik ons differensiële toediening en maak ons seker die kalkpeil is op standaard. Ons fosfor- (P) status voor bemesting is ’n minimum van 30 dele per miljoen. Vir die mielies dien ons per ha altesaam 139 kg stikstof (N), 38 kg P en 46 kg kalium (K) toe.
“Dit was ons resep in die verlede, maar na gelang van die grondstatus sal ons vanjaar weer ’n ander plan maak.”
Korrelkunsmis (4:1:1) word voor planttyd uitgestrooi en daarna word ’n vloeibare kunsmis (11:7:4 van Omnia) met die planter toegedien. Om te verseker dat die mikro-elemente in die kunsmis reg geplaas word, gebruik die boerdery Hidrospoor, ’n produk van Omnia, terwyl dolomitiese kalk net ná strooptyd uitgestrooi word om die pH van die grond te neutraliseer.
REGTE LANDBOUKUNDIGE
Michael glo in persoonlike verhoudings met verteenwoordigers van landboumaatskappye en sê die boerdery koop byvoorbeeld sy kunsmis deur ’n mens, nie ’n maatskappy nie. “Die regte landboukundige moet ’n integrale deel van jou boerdery vorm. In dié geval moet mnr. Petrhi van der Linde van Omnia erkenning kry vir die rol wat hy speel om ons te help om elke jaar hoë opbrengste te behaal.”
Danksy gunstige klimaatstoestande was die afgelope produksiejaar se mielie-oes gemiddeld net meer as 11 ton/ha en die sojaboonoes 3,7 ton/ha. Die plaasgemiddelde oor tien jaar beloop 8,8 t/ha by mielies en 2,8 ton/ha by sojabone. “Ons mikpunt is 9 ton/ha by mielies en 3 ton/ha by sojabone in ’n gemiddelde jaar.
Mielies word geplant in rye wat 760 mm uit mekaar is teen ’n stand van sowat 50 000 plante per hektaar. Michael gee toe dat dit ’n besonder digte plantestand vir droëlandtoestande is, maar sê dat plantdigtheid uiteindelik ook deel is van die beplanning om hoër opbrengste te behaal.
Sojabone word ook dig geplant teen 27 0000 plante per hektaar.
PLANTDATUM
Die boerdery wentel om klimaat, en die plaas kry gewoonlik 650 mm tot 700 mm per jaar. “Verlede jaar was egter besonder goed en ons het net oor die 900 mm gehad. Daar was wel ’n effense droogte tydens die mielies se blomstadium, maar dit het nie ’n noemenswaardige uitwerking op die uiteindelike opbrengs gehad nie.”
Dit was egter deur en deur sojaboonweer, en met minder stres weens droogte kon die droëlandsojabone gedy.
Vog bly egter vir Michael een van die belangrikste faktore om ’n volhoubare sojaboonoes te verseker. “Jy kan nie sojabone plant sonder genoegsame vog nie. Onthou, sojabone vereis drie maal meer vog as mielies om te ontkiem. Daarom is plantdatums ook vir ons geweldig belangrik wanneer dit by sojabone kom. Ons behaal gewoonlik die beste opbrengste wanneer ons vanaf 12 November tot 25 November plant. Om vroeg te plant, het nog nie regtig vir ons sukses gebring nie. Ons wag dus effens langer om te verseker dat die toestande heeltemal reg is voor ons begin sojabone plant.”
WENKULTIVAR
Die wenkultivar, Agricol se Don Mario 5953 R van Argentinië af, is een van ’n paar sojaboonkultivars wat die Allens plant.
“Ons plant al lank die Don Mario-kultivars, want hulle pas baie goed by ons boerderybedrywighede in. Hulle groei effens vinniger as ander kultivars, wat ons ’n langer strooptyd gee. Tot dusver behaal ons ook baie goeie opbrengste met die kultivar. Dit is geweldig bestand teen Sclerotinia. Met die hoër reënval wat ons verlede jaar gehad het, het van ons ander kultivars Sclerotinia gekry, maar nie die DM’s nie.
“Wat stres en opbrengs betref, is 5953 ’n uitskieterkultivar.”
GRONDBEWERKING
Vir die swaarder Hoëveldse grond verkies Michael om ’n konvensionele bewerking toe te pas. “Ná die mieliestrooptyd gee ons kalk volgens die land se pH, waarna ons die mieliereste met ’n Case IH 330 Turbotill (10 meter) insny. Indien die vog in die grond dit daarna nog toelaat, sal ons ’n skeurbewerking met ’n Case IH 875-skottel-en-skeurploegwerktuig (13 tand) tot op 400 mm diep toepas. Daarna gebruik ons die Case IH Tigermate-saadbedvoorbereider (18 m) ná die reën, met ’n 24-ry-planter agterna.”
Michael verduidelik dat die bewerking om sojabone te plant, effens anders lyk omdat die grond in voorafgaamde twee mieliejare goed losgemaak word. “Ons sal regstreeks ná stroop weer kalk op die grond toedien. Daarna word die reste ingesny. Ná die reën word ’n Case IH Tigermate-saadbedvoorbereider gebruik, en onmiddellik daarna word die sojabone geplant.”
Michael gebruik ’n Case IH 8240 Axial Flow-stroper met ’n 12-ry-Geringhoff-plukkerkop vir mielies en ’n Case IH Draper-tafel met ’n Crary-windstelsel om sy sojabone te stroop. “Die windstelsel maak beslis ’n verskil in hoeveel ons oes. Dit help veral by die kultivars wat laer groei. Daar stroop ons 150 kg tot 300 kg per hektaar meer.”
Die windstelsel blaas plante op die stropertafel, waar hulle dan gestroop word, met gevolglike minder verliese by van die korter sojabone.
Vir Michael is die Weeg-en-Wen-kompetisie ’n maatstaf om sy boerdery se prestasie te meet. “Prestasie op lang termyn gee jou die geleentheid om jouself voortdurend uit te daag om volgende keer nog beter te vaar. Wat DuPont Pioneer met dié kompetisie regkry, is dat dit ’n goeie geleentheid vir die Suid-Afrikaanse landbou is om te sien tot waar opbrengste kan gaan met die regte bestuur.”