Kom só deur planttyd — topgraanboere
PRODUKSIEKOSTE gaan vanjaar ’n deurslaggewende rol speel in die Suid-Afrikaanse mieliebedryf, sê mnr. AC van Wyk, Graan SA se Graanboer van die Jaar.
“Die belangrikste element vir ’n boer om in gedagte te hou, is sy insetkoste voor hy begin plant. Hy moet weet hoeveel dit kos om ’n hektaar mielies in sy omgewing aan te plant. Hy moet in die voorseisoen bereken wat die uitgawes en moontlike inkomste met ’n beter of swakker oes gaan wees. Daarna kan hy besluit oor hoër of laer risiko’s,” sê hy.
Die verhouding tussen opbrengs en prys speel ook ’n groot rol. In die westelike deel van die land, waar nog nie baie mielies geplant is nie, is daar nog heelwat onsekerheid oor die komende seisoen se opbrengs en prys.
MEER KONSERWATIEF
Van Wyk meen dat boere vanjaar moontlik eerder meer konserwatief met hul produksiemiddele sal omgaan as om minder hektare mielies aan te plant.
“In ons omgewing (Bultfontein), waar sanderige grond geneig is om weg te waai indien dit nie beplant nie is, kan dit sin maak om eerder jou produksiemiddele meer konserwatief op dieselfde aantal hektare aan te wend as om minder hektare
mielies aan te plant. Die afgelope twee seisoene het boere eers uiters lae opbrengste behaal en daarna die hindernis van ’n baie swak prys gekry. Die buffervermoë vir hierdie boere is dus daarmee heen en hulle sal moet plant,” sê hy.
Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, waarsku op sy beurt elke saaiboer moet vanjaar sy somme baie mooi maak.
“Jy moet weet waar toon jy wins en waar is daar ’n verlies. Jy moet ook weet wat die impak is as jy verskillende gewasse plant. Kyk na waar daar markruimte is. Tans lyk dit of daar nie ruimte vir mielies is nie, maar wél vir sojabone en selfs sonneblomme. ’n Mens kan selfs kyk na gewasse, soos droëbone, as jy jou mark vooruit kan vasmaak.”
MÓÉT PLANT
Luidens die Oesskattingskomitee se verslag oor somersaaiboere se aanplant-voorneme wil kommersiële boere 2 470 miljoen ha mielies plant – slegs 6% minder as verlede jaar.
“Ek het gedink boere sou minstens mielie-aanplantings met 10% afskaal,” sê Minnaar. “Maar dit wys jou wat die boere se finansiële posisie is. Hulle kan nie bekostig om nié te plant nie. Die oorhoofse koste hardloop net weg as jy nie plant nie.”
Minnaar wil sowat 30% afskaal op sy mielie-aanplantings en sonneblomme op sy marginale grond plant. “Ek wil my risiko’s soveel moontlik beperk, al beperk ek ook my totale opbrengs.”
40% MINDER HEKTARE?
Me. Petru Fourie, produksiekoste-ontleder by Graan SA, meen Suid-Afrika se mieliehektare moet met minstens 40% afneem om ’n wesenlike verandering aan die mielieprys te maak. “Die baie hoë oordragvoorraad beteken dat die land se mielieprys nog geruime tyd lank naby invoerpariteit gaan bly.”
Dr. Dirk Strydom, bestuurder van ekonomie en bemarking by Graan SA, meen hoe langer dit gaan duur om die surplus mielies uit te voer, hoe langer gaan die pryse onder druk bly.
“Die meeste uitvoermarkte is oop en hulle kan Suid-Afrika se surplus opneem as die prys net reg is. Wat uitvoer verder strem, is dat Amerikaanse mielies nou ook op die uitvoermark begin meeding.”
Hy meen die prys moet nog met sowat R160/ton daal om uitvoer ’n hupstoot te gee, want dan is die prys eers op uitvoerpariteitvlakke en meer mededingend.
“Ons gaan die nuwe bemarkingsjaar in met ’n mielie-oordragvoorraad van 4,1 miljoen ton. As ons weer so ’n goeie oes soos vanjaar het, sal ons 7,5 miljoen ton moet uitvoer en dit kan pryse nog ’n lang tyd laag hou.”
‘Jy moet weet waar toon jy ’n wins en waar is daar ’n verlies. Jy moet ook weet wat die impak is as jy verskillende gewasse plant.’