Koringbemarking: Wisselkoers bepalende faktor
Een van die min faktore wat die koringprys in die komende jaar skerp kan laat styg, is as die rand kwaai teenoor die dollar verswak. Die koringboer moet mooi daaroor dink voordat hy besluit hoe hy sy koringoes gaan bemark.
Koringboere in Suid-Afrika het begin stroop aan die oes wat geraam word op sowat 1,7 miljoen ton, wat kleiner is as verlede jaar se 1,9 miljoen ton. In die lig van ’n binnelandse verbruik van sowat 3,2 miljoen ton per jaar word geraam dat vanjaar ’n rekord van 1,8 miljoen ton koring ingevoer moet word.
As ’n mens oppervlakkig na die gegewens kyk, lyk dit asof koringboere weens die binnelandse tekort redelik goeie pryse behoort te behaal. Daar is ook ’n gebruik onder saaiboere om party jare met strooptyd koring eerder op te berg en te hoop op beter pryse later in die bemarkingsjaar as invoer begin knyp en moontlike tekorte ontstaan.
Die dilemma met koring is dat die invoertarief wissel, wat grootliks tot gevolg het dat binnelandse pryse in die afgelope jaar tot 18 maande meestal sywaarts beweeg het selfs al wissel internasionale pryse.
Daarom sal koringboere koelkop moet bly wanneer hulle besluit of hulle hul graan wil opberg tot volgende jaar, met die hoop op heelwat hoër pryse, want opbergings- en silokoste is duur. Boonop, anders as by ander graan, is die koringprys reeds op invoerprysvlakke, wat beteken tekorte sal nie die pryse opjaag nie.
INTERNASIONALE POSISIE
GRAFIEK 1 toon die opbou van eindvoorraad in die internasionale mark oor die afgelope paar jaar en die afwaartse druk wat dit op dollarpryse het. Die dollarprys het met bykans 40% gedaal sedert 2012-’13 toe voorraad begin opbou het vanweë toenemende groei in produksie in verskeie lande.
Koringproduksie in die wêreld vir 2017-’18 word geraam op sowat 751 miljoen ton en eindvoorraad op sowat 268 miljoen ton – die hoogste voorraadvlakke nog.
Dit lyk nie of die lae pryse die internasionale uitbreiding in produksie – meestal in die sogenoemde “nuwe” koringuitvoerlande – aan bande lê nie.
Die aandeel van Amerika in wêreldkoringuitvoer daal reeds die afgelope paar jaar. Vir 2017-’18 word Amerikaanse uitvoer op sowat 26 miljoen ton geraam. Die meeste Amerikaanse uitvoer geskied met die hulp van uitvoerkrediet deur die Amerikaanse regering.
Daarteenoor word verwag dat Rusland in 2017-’18 sowat 32,5 miljoen ton koring gaan uitvoer en die Oekraïne sowat 16,5 miljoen ton. Die Europese Unie (EU) verwag om vanjaar 28 miljoen ton koring uit te voer.
Die Swartsee-lande – Rusland en sy buurlande – belê baie geld in koringproduksie op groot kommersiële of korporatiewe plase, asook uitvoerinfrastruktuur.
Daarby is hulle gunstig geleë vir lande wat koring invoer, soos Suid-Afrika. Meer as die helfte van Suid-Afrika se koringinvoer kom vanaf die Swartsee-lande – veral Rusland – omdat dit heelwat goedkoper is as Amerikaanse koring.
Die opbrengste op droëland in Europa en die Swartsee-lande is sowat drie tot vier keer groter as dié van Suid-Afrikaanse boere en daarom is hul produksiekoste per ton noodwendig heelwat minder as in Suid-Afrika.
Hierby moet ’n mens ook in gedagte hou dat koring die stiefkind was met ontwikkeling van GM-tegnologie. (Die regulerende maatreëls is intussen verslap.) Die verwagting is daarom dat nuwe tegnologie – soos by mielies en sojabone – daartoe gaan lei dat koringopbrengste in die volgende paar jaar beduidend gaan toeneem.
Die feit dat koring vanaf Kanada tot Australië verbou en uitgevoer word, beteken dat ’n misoes in een land eintlik ’n klein uitwerking het omdat produksie en uitvoer so wyd verspreid is.
Die vooruitsig dat koringpryse op die internasionale mark in die volgende jaar skerp weens ’n misoes kan styg, is bitter skraal en Suid-Afrikaanse koringboere moet nie hul hoop daarop vestig nie. Hou ook in gedagte dat die huidige berekening van die invoertarief daarop neerkom dat die tarief verlaag word as internasionale pryse styg.
INVOERTARIEF OP KORING
Die invoertarief wissel na gelang van stygings en dalings in die internasionale prys. Die verwysingsprys is gegrond op die prys van Amerikaanse harde rooi koring, vry aan boord by die uitvoerhawe, wat tans $279/ton is. As die werklike prys tot onder die verwysingsprys daal, is die tarief die verskil, wat tans sowat $65/ton is. Dit moet dan omgeskakel word in rand, maar die Reserwebank se geweegde wisselkoers word gebruik, wat beteken dat die heersende wisselkoers teen die Amerikaanse dollar verminder word met ’n faktor van 0,88.
GRAFIEK 2 toon die verloop van die prys van ingevoerde koring (basis Randfontein) en Safex se koringprys, asook die invoertarief soos dit wissel. Dit staan tans op sowat R910/ton nadat dit in die eerste week van November ingevolge die formule verhoog is van R752,40/ton. Internasionale pryse het gedaal en daarom is die tarief verhoog.
Dit is belangrik om te onthou dat die formule van die koringinvoertarief aan die begin
van die jaar verander is. Gevolglik sal die tarief minder skerp styg en daal. GRAFIEK 3 toon dan ook die verloop van die Safex-koringprys en die wisselkoers van die rand teenoor die dollar. Hou in gedagte dat die koringprys in die afgelope jaar gewissel het van sowat R4 100/ton tot R4 200/ton, grootliks vanweë die verandering in die invoertarief.
OPBERG OF VERKOOP MET STROOP
Een van die min faktore wat die koringprys in die komende jaar skerp kan laat verhoog, is as die wisselkoers van die rand teenoor die dollar baie skerp verswak.
Dit is natuurlik raaiwerk om te voorspel hoe die wisselkoers van die rand in die komende jaar teenoor die dollar gaan verander. Tegniese ontledings van die verandering in die wisselkoers dui egter daarop dat die rand in ’n verswakkende neiging begin beweeg het sedert mnr. Malusi Gigaba as Minister van Finansies aangestel is. Die verwagting is ook dat Suid-Afrika se kredietgradering verlaag gaan word.
Verskeie ontleders meen dat hierdie feite in die mark bekend en reeds grootliks verdiskonteer is.
Die enigste kritieke faktor is die ANC-konferensie in Desember, wat die rand in enige rigting skerp kan laat verander.
As jy koring wil opberg met die hoop op ’n hoër prys teen middel volgende jaar sal jy die siening moet neem dat die rand minstens swakker as R16/$ moet beweeg vir die Safex-prys om genoeg te styg om jou te vergoed vir rente, opbergkoste en die tekort aan kontant.
Onthou, dit kos ’n aardige bedrag om graan vir ’n jaar op te berg. Dit is nie net die opbergkoste nie, maar ook die feit dat jy dan rente moet betaal op jou produksiekredietrekening wat nie afgelos is nie. Dit strem ook jou besigheid se kontantvloei.
Tensy jou oorwoë mening is dat die wisselkoers van die rand teenoor die dollar skerp gaan verswak, sal ek nie al my graan opberg nie. Daar is verskeie goeie bemarkingsplanne in omloop waar jy graan kan verkoop (stelselmatig) of termynmarkinstrumente waar jy potensiële prysstygings kan benut nadat jy jou graan verkoop het, maar nie nadelig geraak word deur prysdalings nie.