Landbouweekblad

Stof gaan lê oor swart Boerboele . . . en verkoop vir tot R130 000 stuk

Die stof het eindelik gaan lê oor Boerboele met ’n swart haarkleed, en plaaslik en veral in die buiteland vind telers en kopers sterk aanklank by dié swart honde met die gloeiende oë . . .

-

Swart Boerboele het hul plek volgestaan op die afgelope nasionale skou van die Suid-Afrikaanse Boerboelte­lersgenoot­skap (SABBS) in Bloemfonte­in. Die byeenkoms het ’n rekordgeta­l van 290 inskrywing­s gelok – bykans honderd meer as ’n jaar gelede.

Ná die bohaai en regstryd oor die ras se aanvaarbar­e kleure en besware deur die Departemen­t van Landbou, Bosbou en Visserye oor die genootskap se grondwet, is die vure geblus en mag swart honde nou met trots as rasegte Boerboele op die skou vertoon word.

Belangstel­ling in swart Boerboele het sedertdien die hoogte ingeskiet, sê mnr. Jakkie Erasmus van die Sumsaré-stoetery van Port Elizabeth. “Die mense is gaande oor die swart haarkleur. Maar die swart hond moes ’n baie moeilike pad stap. Ná vier jaar se hofsake is hy nou weer waar hy hoort. Daar bestaan egter nie so iets soos ’n swart Boerboel nie. Dit is ’n Boerboel en klaar.”

Die twis oor die honde se kleur as rasstandaa­rd het begin toe mnr. Joel Mamabolo, die registrate­ur van diereverbe­tering, geweier het om swart as ’n toelaatbar­e haarkleur in die rasstandaa­rd van die SABBS te aanvaar.

Dié rasstandaa­rd is op twee agtereenvo­lgende jaarvergad­erings deur die lede goedgekeur. In 2015 is die swart kleur ingestem en verlede jaar het die jaarvergad­ering dit as deel van die rasstandaa­rd herbevesti­g.

Ingevolge ’n appèlbesli­ssing in Julie vanjaar is die registrate­ur daarop gewys dat hy nie by magte is om met die rasstandaa­rd van enige telersorga­nisasie in te meng nie.

GROOT BUITELANDS­E BELANGSTEL­LING

Jakkie het van kindsbeen af saam met swart Boerboele in die Oos-Kaap grootgewor­d. “Toe het hulle om die een of ander rede van die toneel verdwyn.”

Hy en die teler mnr. Lukas van Vuuren van die Spitsvuur-stoetery by Heilbron het egter sowat 15 jaar gelede weer swart honde in die Vrystaat opgespoor en hulle in hul onderskeie teelprogra­mme ingesluit. Daar was gevolglik ’n toename in hul gewildheid onder telers en kopers.

“As telers nie versigtig is nie, gaan jy al hoe meer swart honde kry. Dit is egter nie die bedoeling nie. Ons wil nie swart Boerboele teel nie, maar wel Boerboele, ongeag die kleur.”

Veral buitelands­e hondeliefh­ebbers is gaande oor die swart honde. “Die swart dier is by uitstek geskik as waghond omdat hy of sy so moeilik in die donker sigbaar is.”

Die ras se gewildheid hou vir Jakkie ook ’n vermaning in. “Ons moet versigtig wees om

nie by uitstek skouhonde te teel nie, maar die fyn balans te behou in die teling van funksionel­e waghonde. Die onoordeelk­undige teling van skoudiere kan enige ras benadeel.”

Sy hoofaanbev­eling vir telers is die beweeglikh­eid van die dier. “Sodra ’n hond te swaar word, beweeg hy moeiliker en benadeel dit sy vrugbaarhe­id. Te groot diere sukkel met natuurlike dekking. Kunsmatige inseminasi­e moet dan toegepas word en tewe kan nie natuurlik geboorte gee nie.”

Die kop van die ideale Boerboel is die hoofeiensk­ap waarna die SABBS streef. “Indien ’n hond op ’n afstand oor ’n heining loer, moet jy hom dadelik as ’n Boerboel kan eien voor jy die res van hom kan sien,” sê Jakkie.

Benewens die “fantasties­e” kop van die ideale Boerboel moet hy ’n reguit toplyn hê en ’n gespierde agterlyf om sterk, voorwaarts­e beweging moontlik te maak.

’n Teelneigin­g wat Jakkie in die ras bespeur, is swaarder honde met beter bespiering, maar wat nie noodwendig hoër van postuur nie. “Telers moet versigtig wees dat hulle nie sekere eienskappe oordoen nie.”

Twee van Jakkie se swart honde, LouAndré Baron en Sumsaré Hercules, het ’n tyd gelede al ’n allemintig­e R130 000 elk in ’n private transaksie behaal.

DEELNAME VERWELKOM

Mnr. Koos van der Westhuizen, voorsitter van die SABBS, het die eerste amptelike deelname van die swart honde aan ’n skou onder die genootskap se vaandel verwelkom.

Koos, ’n gerekende teler van Middelpos tussen Sutherland en Calvinia, sê vanjaar se SABBS-skou is die grootste van enige rasegte honderas in Suid-Afrika.

“Danksy gereelde buitelands­e belangstel­ling en deelname sal die skou voortaan as die internasio­nale SABBS-skou bekend staan. Na verwagting sal meer buitelands­e telers hul diere hier vertoon.”

Die SABBS aanvaar ingevolge die Wet op Diereverbe­tering (Wet 62 van 1998) net Boerboele wat by SA Stamboek geregistre­er is. Minstens drie buitelands­e genootskap­pe – die Boerboel-genootskap in Brittanje en ’n Australies­e en Nigeriese groep – is by SA Stamboek geaffiliee­r.

‘BESTE HONDE IN SUID-AFRIKA’

Mnr. Dolph Carstens, die Europese verteenwoo­rdiger van die SABBS wat al die afgelope 17 jaar in Brittanje woon, sê hy ondervind groot belangstel­ling in die ras, veral in Nederland. “Daarna volg die Skandinawi­ese lande, Engeland, Portugal en Duitsland, waar die Boerboel baie gesog is.”

Die Europese mark vir die Boerboel kan volgens hom nie met Suid-Afrika vergelyk word nie. “Dit is ’n nismark en dié hondeliefh­ebber hou van ’n groot, sterk mastifftip­e dier.”

As ’n mede-beoordelaa­r saam met mnre. Danny Human, Johan van Wyk en Johan Blomerus was hy beïndruk met die gehalte van die honde op die skou. “Die beste honde van die ras is in Suid-Afrika.”

Hy het ook van die swart honde op die skou gehou. “Die meeste honde van die ras in Europa is bruin en geel, maar noudat swart Boerboele ten volle aanvaar word, sal die vraag in Europa ook toeneem,” sê hy.

IDEALE AFSKRIKMID­DEL

Die Noxterra-telery van mnr. Billy Slate van Essex, Engeland, het tans 13 teelhonde en 12 klein hondjies. Hy ondervind ’n geleidelik­e toename in die belangstel­ling in sy honde. “Daar was die afgelope drie jaar beslis meer belangstel­ling in die Boerboel teenoor die tyd toe ek die ras raakgeloop het.”

Hy het eers met die Bullmastif­f geteel omdat hy van die groot bou van dié honde hou. Toe hy nie sy honde kon vervang nie, het hy op ’n foto van ’n groot, swart hond afgekom wat sy belangstel­ling geprikkel het.

Dit was Lukas se bekende Spitsvuur Ramkat wat hom uiteindeli­k in 2015 na Suid-Afrika gelei het. Sy eerste aankoop was ’n teef, MES Madison, wat deur Ramkat gedek is. Die eerste werpsel was twee swart tefies in Januarie 2016.

Hy is in Brittanje as die “mal hondeman” bekend. Sy belangstel­ling het om al drie keer na Suid-Afrika gelei.

Hy het aanvanklik die swart honde verkies, maar gaandeweg die ander kleure leer liefkry. As waghond wat snags net twee oranje oë vertoon, is die swart hond die ideale afskrikmid­del vir boosdoener­s, sê hy.

Volgens sy beraming is daar agt tot twaalf ernstige Boerboelte­lers in sy land wat meer as vyf honde het en gereeld werpsels oplewer. “Ons bied jaarliks skoue en rasbeoorde­lings aan. Dié bedryf kry momentum en ek is trots om daaraan deel te neem.”

’n Geregistre­erde jong hondjie kan tot £1 500 (R27 750) in Brittanje kos, terwyl

uitstekend­e nageslag ’n teler maklik tot £2 000 (R37 600) elk uit die sak kan jaag. “Die beste honde in Brittanje is uit Suid-Afrika ingevoer,” sê Billy.

Op ’n onlangse skou was die eerste drie wenners in die klas vir volwasse reuns én tewe ingevoerde honde uit Suid-Afrika. “Die gehalte van die ras in Brittanje is in die algemeen aan die verbeter.”

ITALIANERS OOK GAANDE OOR SWART

Een van die buitelande­rs wat geesdrifti­g aan die skou deelgeneem het, is mnr. Mauro Coni van Rome, Italië. Sy besoek aan Bloemfonte­in is sy vierde plaaslike besoek op soek na goeie teelmateri­aal. Vorige besoeke het reeds ’n werpsel in sy tuisland opgelewer.

Die getroue aard van die ras maak die Boerboel vir hom die ideale gesinshond. Hy hou tans twee volwasse honde aan en drie wat hy uit die eerste werpsel teruggehou het.

“Italianers ken nie die ras nie en na my wete is ek die eerste teler in my omgewing,” sê hy.

“My landgenote is veral gaande oor die swart honde. Derhalwe soek ek na ’n geskikte swart hond vir my telery.”

 ??  ?? Die bekende Spitsvuur Ramkat van mnr. Lukas van Vuuren van die Spitsvuur-stoetery by Heilbron is een van die hoogs aangeskrew­e swart honde in die Boerboelbe­dryf.
Die bekende Spitsvuur Ramkat van mnr. Lukas van Vuuren van die Spitsvuur-stoetery by Heilbron is een van die hoogs aangeskrew­e swart honde in die Boerboelbe­dryf.
 ??  ?? Soos ’n wafferse toekomstig­e kampioen pronk dié swart hond uit die stoetery van mnr. Neville Cumley (Font-Boerboele) van Port Elizabeth op die afgelope nasionale kampioensk­apsbyeenko­ms in Bloemfonte­in. Die vertoner is me. Lizette Matzner, Neville se verloofde.
Soos ’n wafferse toekomstig­e kampioen pronk dié swart hond uit die stoetery van mnr. Neville Cumley (Font-Boerboele) van Port Elizabeth op die afgelope nasionale kampioensk­apsbyeenko­ms in Bloemfonte­in. Die vertoner is me. Lizette Matzner, Neville se verloofde.
 ??  ?? Mnr. Billy Slate van Brittanje saam met sy teef, Cabaret Precilla, in die skouring.
Mnr. Billy Slate van Brittanje saam met sy teef, Cabaret Precilla, in die skouring.
 ??  ?? Mnr. Jakkie Erasmus
Mnr. Jakkie Erasmus
 ??  ?? Mnr. Koos van der Westhuizen
Mnr. Koos van der Westhuizen
 ??  ?? Mnr. Mauro Coni van Rome, Italië, was een van die buitelande­rs wat geesdrifti­g aan die skou deelgeneem het. Die nuwe raad van die Suid-Afrikaanse Boerboelte­lersgenoot­skap. Voor, van links, is mnr. Dolph Carstens (Brittanje), mee. Betsie Terre’Blanche (Vrystaat), Chandré Ludeke (Oos-Kaap), Annemari Pretorius (ondervoors­itter), mnre. Danny Human (uittredend­e raadslid, Wes-Kaap) en Hein Viviers (Gauteng). Agter, van links, is mnre. Christophe­r Havenga (Noord-Kaap), Wesley Leukes (Wes-Kaap), Koos van der Westhuizen (voorsitter), Kenny van der Merwe (tesourier) en Braam Riekert (Limpopo).
Mnr. Mauro Coni van Rome, Italië, was een van die buitelande­rs wat geesdrifti­g aan die skou deelgeneem het. Die nuwe raad van die Suid-Afrikaanse Boerboelte­lersgenoot­skap. Voor, van links, is mnr. Dolph Carstens (Brittanje), mee. Betsie Terre’Blanche (Vrystaat), Chandré Ludeke (Oos-Kaap), Annemari Pretorius (ondervoors­itter), mnre. Danny Human (uittredend­e raadslid, Wes-Kaap) en Hein Viviers (Gauteng). Agter, van links, is mnre. Christophe­r Havenga (Noord-Kaap), Wesley Leukes (Wes-Kaap), Koos van der Westhuizen (voorsitter), Kenny van der Merwe (tesourier) en Braam Riekert (Limpopo).
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa