Plaasaanvalle: Werk saam teen dié euwel — Zokwana
TOT tyd en wyl die suikerbedryf aan die nagenoeg 18 000 swart suikerrietboere betekenisvolle inspraak gee in hoe die bedryf sy sake bestuur, gaan hy nie toegang hê tot sy ledegeld nie.
Dit kom nadat die Parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid onlangs opdrag gegee het dat die Suikervereniging van Suid-Afrika (Sasa) se grondwet teen einde November gewysig moet word ten einde die South African Farmers Development Association (Safda) amptelik as ’n suikerrietkewekersvereniging te erken.
Tans word slegs die suikerrietkwekersvereniging CaneGrowers en die Suid-Afrikaanse Suikermeulevereniging in Sasa se grondwet erken.
Die portefeuljekomitee onder leiding van die voorsitter, me. Joanmaria Fubbs, het ook gelas dat Sasa dadelik ophou om enige ledegeld wat hy namens CaneGrowers insamel, aan suikerrietkwekers uit te betaal.
Die komitee het ook uitgelig dat die Suikerwet (Wet 9 van 1978) oud is en dus maklik uitgebuit word. Hy sal die Departement van Arbeid versoek om na werknemers van CaneGrowers se werkstoestande te kyk.
As CaneGrowers nie gehoor wil gee aan die Parlement se opdrag dat Safda ook erken word nie, sal die komitee dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, versoek om die ooreenkoms tussen die suikerbedryf en Sasa, ingevolge waarvan CaneGrowers die enigste erkende suikerprodusenteliggaam is, nietig te verklaar.
ERKENNING GESOEK
In ’n emosionele betoog aan die komitee het ’n oudpersoneellid van die CaneGrowers, wat nou ’n Safda-lid is, mnr. S’fiso Mnguni, gesê die bestuur van die suikerbedryf is geheel en al in wit hande, ofskoon daar 18 000 swart en slegs 1 900 wit suikerrietkwekers is. Hy het ook beweer dat CaneGrowers nie wil transformeer nie en dat die organisasie swart mense vir vertoon gebruik. Daar is ook uitgelig dat lede van die G6-Kleinskaalse Suikerrietvereniging, die swart filiaal van die CaneGrowers, jare lank geen suikerriet geproduseer het nie.
Safda het ook uitgewys dat sy lede groot verliese ly wanneer hul suikerriet moet lê en wag om na die meule vervoer te word. Omdat hierdie boere nie individueel ’n 30 ton-vragmotor kan vul om hul suikerriet na die meule te neem nie, moet elkeen self sy produk by die opgaarsone besorg.
Dit gebeur baie keer dat die suikerriet verrot het en diegene wat die produk na die meule vervoer, gee nie om of dit vrot is nie. Boere moet dan steeds daardie
vervoergeld betaal.
CaneGrowers sal mettertyd kommentaar lewer op die bevel van die komitee. Landbouweekblad het teen druktyd verneem dat ’n opvolgvergadering met die Departement van Handel en Nywerheid versoek is.
NUWE STRUKTUUR NODIG
Suid-Afrikaanse Suikermeulevereniging het daarop gewys dat Suid-Afrika onder die 20 doeltreffendste suikerproduserende lande ter wêreld is.
“Die bedryf is ’n nasionale bate wat kan voortgaan om ’n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van provinsies, die land en al sy mense.” Hy sê die interafhanklikheid van die meulenaars en die kwekers onderstut hul volhoubaarheid wat deur die regulatoriese raamwerk versterk word. Die interafhanklikheid tussen kwekers is ook net so belangrik, veral wanneer plae, siektes, brande en ander plaaslike kwessies aandag moet kry soos dit opduik.
Die vereniging het saam met die Departement van Handel en Nywerheid ingegryp en ’n eksterne mediasieproses gefinansier en daaraan deelgeneem.
“Die diversiteit van die kwekers het toegeneem en daarom word ’n ander struktuur benodig om die diversiteit te verteenwoordig.”