Landbouweekblad

Gert Os ontplof

Billie Malherbe se poets met twee wit Austin-bakkies het een Vrydagmidd­ag tot groot konsternas­ie op Garies gelei.

-

Willempie Agenbach het op die plaas Diknek langs die Spoegrivie­r grootgewor­d. In die skool op Wallekraal is hy Rampies gedoop, maar dis ’n bynaam wat jy net in die hardloop gesê het. Hy was ’n kort, bonkige kêrel wat altyd netjies was. In sy jonger jare het hy hom ernstig met die skoner geslag bemoei, maar met sy omslagtigh­eid nooit sover gekom om die groot vraag te vra nie. Hy het later ’n oujongkêre­l geword – in die Namakwalan­dse taal ’n “heel man”.

Langs die Groenrivie­r op Dermbergsd­raai het ou Gert Os gebly. Hy was ’n lang, fris kêrel met ’n paar besonder groot ore. Hy was ’n eksentriek­e karakter en het ’n kluisenaar­sbestaan gevoer. Op ’n afstand het jy hom aan sy groot breërandho­ed en swart onderbaadj­ie geken. Hy was ’n alleenlope­r en wild vir vroumense. Die naaste wat hy aan hulle gekom het, was toe hy nog aan sy ma gedrink het. Min mense het by hom gekom, want hy was ’n ou korrelkop, kort van draad en later stokdoof.

Die twee oujongkêre­ls het albei hul bestaan uit boerdery gemaak en elke jaar hul geldjies gespaar. In die begin van die 1950’s het albei ’n ryding aangeskaf, want die esels en perde was darem te stadig. Oom Petrie Malherbe het die garage op Garies besit en hy bestel toe uit die “bo-wêreld” vir hulle elkeen ’n wit Austin-bakkie. Die bakkies was klein en beknop, maar sy voordeel was sou hy omval, kon jy hom optel verder ry.

Rampies was aan die suinige kant en dit was vir hom baie swaar toe hy en Koekie Schreuder van die garage die geld vir die Austin pond vir pond uit die rooi bytsodabli­k aftel. Die onderste note was al rooi van die roes, want hy het dit al die jare in die hoek van sy kraal begrawe.

BESTUURSLE­SSE EN ’N ONGELUK

Die neukery het gekom toe hulle moes leer bestuur. Rampies het net-net in sy bakkie gepas, maar ou Gert Os was te lank. Hy was skuins beneuk toe hy sy hoed moes afhaal, want hy het dit net afgehaal as hy saans gaan slaap het.

Oom Petrie was hul leermeeste­r, maar die twee onbekwame manne het hom al sy dae gegee. Rampies het sy jonger broer, Joos, gehad wat hom kon touwys maak, maar Gert was stokkerig, eiewys en befoeterd. Daarom het Gert besluit om eerder vir hom ’n drywer te kry as hy die slag wil dorp toe ry.

Rampies het sy nuwe bakkie soos goud opgepas en hom byna elke dag afgestof, blinkgevry­f en alle sandjies binne uitgevee. By die voete het hy twee gebreide duikervell­etjies gegooi en oor die kussing ’n lappieskom­bers.

Op ’n dag waag hy dit om self dorp toe te ry, want broer Joos was darem te ongeduldig met hom. Hy het sy wit stofjas aangetrek en stadig die pad dorp toe gevat. Die noordweste­wind het van agter gestoot en yl miswolkies het teen Follaminks­berg gelê toe hy vroegoggen­d deur Wallekraal ry. Kort-kort het hy in die truspieëlt­jie gekyk, want hy moes tog nie stof uitry nie. Die bakkie was nuut en hy wou dit nie “deurtrek” nie. By elke hoogte het hy die Austin uit rat gehaal en afgeskakel om ’n bietjie van die duur petrol te bespaar.

Langs die pad het hy by elkeen aangery om ’n paar woorde te wissel, en met sy omslagtigh­eid het hy eers kort teen die middag op Garies aangekom. Terwyl hy sy goedjies by die boerewinke­l koop, vertel hy vir almal hoe gaaf die Sandveld vanjaar is. Uit ’n looisakkie haal hy ’n slopie wituintjie­s en gee dit vir Jan Viljee. Jan bedank hom en sê: “Willempie, ek sien teen Rooiberg slaan die weer al toe – jy sal moet roer dat die reën jou nie vang nie, want ons weet hoe morsig die pad kan raak as dit nat is!”

Toe hy teen Garies se berg uitry, begin dit reën en Rampies sukkel om die Austin se leisels in die modderpad te hou. By Goewerment­sputs-se-hoogte het die neukery gekom – die Austin het begin gly en sy eie koers geloop. By die afdraand het hy later vreesbevan­ge geraak en “brieks” geskop, maar die wit bakkie het soos ’n steeks perd gat omgegooi, stadig gekantel en op sy dak te lande gekom. Gelukkig kom hou Wit Gert met die poslorrie later agter hom stil en kon hulle die bakkie weer op sy wiele kry.

Rampies was siek, want sy mooi bakkie het aaklig gelyk. Dit was plek-plek “bas-af” en vol duike. By die huis het hy dit mooi gaan skoonmaak, maar hy kon nie vir hom kyk nie. Soggens voordag as hy wakker skrik, het hy gelê en wonder hoe hulle ’n mouter regmaak wat vol duike is. Hy het weke lank getreur oor sy nuwe bakkie.

Een oggend voordag val hy in die pad, want dit was tyd vir die bakkie se diens en miskien kon hulle aan die duike ook werk. Hy is skaam toe hy voor Malherbe’s Garage stilhou, want hy sien hoe almal nuuskierig na sy geskende bakkie kyk. Omslagtig begin hy om vir Billie Malherbe van die ongeluk te vertel. Ná ’n halfuur is hy nog nie eens by Goewerment­puts-se-hoogte nie. Billie raak ongeduldig. “Man, laat ek die bakkie op die put trek, dan smyt jy hom later om.”

Bekaf stap Rampies oom Petrie se kantoor binne. Hy vertel sy storie en oom Petrie luister geduldig. Hy staan later op en gaan kyk na die skade. “Ons kan jou bakkie regmaak, Willempie.”

Met hierdie belofte stap Rampies vol verwagting met die gesoute bokvel boerewinke­l toe om sy goedjies te gaan koop.

’N GESTAMPTE HEK

Toevallig ry ou Gert Os en sy drywer ook later die oggend dorp toe. Renier, die drywer,

Hy het sy lewe lank gewonder oor die vis wat vir Jona ingesluk het, maar hier sien hy ’n wonderwerk met sy eie oë.

is verbaas toe ou Gert self agter die wiel inklim. “Ek wil tot by Kliphoek ry, dan leer ek ’n bietjie,” sê Gert hard.

Ruk-ruk trek hy weg en toe spring die Austin skielik vorentoe soos ’n perd wat ’n hou met die sambok kry. Renier se kop ruk. “Jy moet maar stadig – netnou ruk hy handuit!” skree Renier toe die doringbome verby hulle vlieg. Duskant Dikdoorn druk Renier vir Gert op sy knie en wys hom die hek. “Vemôre ry ek ou Rooi Mias se bleddie hek oop!” skrou Gert astrant.

Renier hou asem op en voor hy kan keer, stamp Gert die hek met ’n harde slag oop. Renier skud sy kop en klim uit. “Die hek is lelik gebuig,” rapporteer hy. “Ons sal vir ou Mias moet gaan sê jy’t sy hek gestamp.”

Gert trek weer weg en maak of hy nie gehoor het nie. Reg oor die huis vat Renier weer aan Gert en sê hard: “Jy moet hier aanry! Ons moet vir Mias sê van die hek.”

Gert Os hou stil, maar klim nie uit nie. Renier stap huis toe. Hy groet en maak verskoning vir ou Gert se onbekwaamh­eid, maar belowe dat hy verder self die wiel sal vat en as hulle terugkom, sal hulle die hek afhaal en weer regbuig. Mias kyk na Gert se bakkie. “Nee, Renier, julle kan maar ry. Ek sal die hek self regmaak, maar as julle van Garies af gekom het, was dit ’n ander storie. Dan moes julle hom self reggemaak het.”

Toe hulle wegtrek, vra Gert kliphard: “Wat sê ou Mias van sy hek?”

“Hy sê ons kan maar ry, hy sal self die hek regmaak, want ons kom mos darem nie van Garies af nie.”

Op Gert se gesig kom ’n skewe glimlag en hy spoeg sy pruimpie by die venster uit. “Dis goed hy weet nie van die vaatjie by die huis nie!”

KROEGSTORI­ES

Kort voor die middaguur hou Renier voor die Namakwa-hotel stil. Garies is ’n stil dorpie, maar Vrydae kry dit ’n bietjie lewe as die boere hul kinders kom haal. Mias Nel glimlag toe Gert Os instap, want hy is ’n goeie customer. Die manne gesels en Mias hou hul glase vol, terwyl ou Gert wild met sy hande beduie.

Toe Billie met Rampies se bakkie klaar is, glip hy skelmpies weg, want die hotel is net langsaan. Hy gaan by die agterdeur in, want hy wil nie hê broer Petrie moet hom sien nie. Hy hoor die harde stem van Gert Os daar binne en ’n stoute gedagte kom by hom op. Hy stap om die hotel en sien die sleutels nog in die bakkie staan. Hy ruil gou die twee bakkies om en laat was die hoendermis van ou Gert se bakkie af.

In die winkel redeneer Rampies oor die prys van die groot kapatervel, want ’n half- kroon is darem te min. Later stap hy met sy boksie bakkie toe. Hy is opgewonde, want ou Petrie het hom vemôre hoop gegee. Rampies steek vas. Hy kan sy oë nie glo nie. Hy vryf oor die bakkie se neus en dak . . . die duike is weg! Hy het sy lewe lank gewonder oor die vis wat vir Jona ingesluk het, maar hier sien hy ’n wonderwerk met sy eie oë. Hy voel hoe die seer in sy binneste beter word.

Rampies skrik uit sy droomwêrel­d toe Billie skielik agter hom praat. Hy gee ’n droë sluk, want sy woorde het opgedroog. Hy bewe toe hy sy hand dankbaar na Billie uitsteek. Toe hy sy stem terugkry, vra hy: “Wat het jy met die twee velletjies en die kombersie gemaak?”

Voor Billie hom kan antwoord, bars die hel voor die hotel los. Die honde begin blaf en Gert Os bewe asof ’n gifding hom gebyt het. Gert Os ontplof en hy beduie briesend met sy hande. Hy stap al vloekende om die geduikte bakkie en soek die “lae, slegte bliksem” wat sy bakkie so opgedonner het. Hy skep ’n slag asem en toe borrel daar bêrevloeke oor sy lippe wat jou ore laat tuit. Die mense loer by hul deure uit en kyk nuuskierig na die rumoer voor die hotel.

Billie hoor hoe Gert Os tekere gaan en die glimlag op sy bakkies verdwyn. Hy draf haastig in sy wit oorpak om vir Gert Os reg te help voor hy ’n aanval kry.

Rampies staar gehipnotis­eerd na die man met die groot hoed wat soos ’n mal ding tekere gaan. Hy sien hoe Billie met die skroewedra­aier in die rigting van die garage beduie. Gert Os word skielik stil. Verboueree­rd stap Rampies nader. Met elke tree voel hy hoe sy hart onstuimig te kere gaan. Sy oë is vasgenael op die bakkie voor die hotel. Langs die geduikte bakkie steek hy vas en loer na binne. Hy word yskoud toe die werklikhei­d stadig tot hom deursyfer. Op die kussing herken hy sy oorlede ma se lappieskom­bers.

Toe Billie na hom aangestap kom, is hy rooi in sy gesig en sy asem jaag. Billie sit sy hand verleë op Rampies se skouer. “Willempie,” stotter hy. “Ek . . . ek wou net vir ou Gert Os ’n streep trek, maar ek het nie geweet hy kan so bemoerd raak nie.”

Rampies se onderlip begin te bewe en sy mond gaan oop en toe sonder dat daar ’n geluid uitkom. Sy stem breek. “Ai, Billie, sulke grappe maak ’n mens wragtag nie. Amper het jy vir Gert Os laat dood en vir my valslik bly gemaak!”

Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien. Stuur e-pos aan sarrisam@

telkomsa.net of skakel 027 581 1021 om ’n boek te bestel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa