Cyril word 65 jaar oud
ADJ. PRES. Cyril Ramaphosa se 65ste verjaarsdag was ’n swierige geleentheid. Manie se kollega was daar – so ewe tussen die uitgelese gaste wat gewissel het van ’n groot groep familielede, sake-kennisse, ’n paar bekendes van die landbou en ’n interessante groepie politici.
Daar was whisky van allerhande kleure, die geurigste geregte en gaste wat met die jongste ontwerpersklere gespog het. Manie se kollega het maar laag gelê. Onder die gaste was mnre. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, Pravin Gordhan, talle mense se geliefde oudminister van finansies, en Blade Nzimande, wat ook onlangs deur pres. Jacob Zuma tot die buitenste duisternis verban is.
Gwede het geen geheim daarvan gemaak nie dat hy bankvas agter Ramaphosa staan. Hy het gesê Cyril het uitstekend in die sakewêreld gevaar – en die beste van alles is dat daar nooit enige beskuldiging van plundery of diefstal teen hom was nie.
Die rede was dat Cyril die wese van kapitalisme verstaan: Hy gebruik ander mense se geld om ’n wins te toon. Hy het immers ’n vakbond, die mynwerksers se NUM, nege jaar lank op ’n oortrokke rekening staande gehou, aldus Gwede.
Hy meen een van die grootste probleme in die land is ’n ANC wat sinoniem met korrupsie geword het. Daar is ’n leier nodig om die skade aan die aansien van die bevrydingsbeweging teen te werk – en Cyril is volgens Gwede dié man wat dit kan doen. “Ek wil by jou staan, want ek ken jou,” het Gwede hom verseker. “Ek weet ook wanneer die skerpioen in jou na vore kan kom.”
Gwede sê hy hou ook van Cyril omdat hy ’n boer is. “Mense praat altyd daarvan oor hoe ’n goeie beesboer Cyril is, maar ek stem nie daarmee saam nie, want hy boer nie eintlik met beeste nie – hy boer met horings,” het hy gesê met verwysing na Cyril se Ankole-beeste met hul reusehorings.
DIE ANKOLEBEESTE
Dié beeste het Cyril se hart gesteel toe hy in 2004 pres. Yuweri Museveni van Uganda op sy plaas besoek het. Hy het Museveni omgepraat om 40 koeie en drie bulle aan hom te verkoop, maar moes daarna vasstel hy kon nie die beeste na Suid-Afrika bring nie weens dieregesondheidsrisiko’s.
Hy het daarna dr. Morné de la Rey, ’n veearts en embrioloog wat in Amerika navorsing gedoen het oor die cholesterolvlakke in Ankolebeeste se
vleis, se hulp ingeroep. De la Rey, wat ook die verjaarsdagviering bygewoon het, het in detail vertel hoe hulle toestemming gekry het om embrio’s van die Ankoles na Suid-Afrika in te voer nadat hulle eers die trop beeste van Uganda na Kenia toe geneem het waar hy met ’n ander navorsingsprojek besig was.
Daar is vandag nog minder as 300 van die beeste in die land en verskeie bekende wildboere het al van die beeste op Cyril se jaarlikse veiling gekoop. Sy oorspronklike trop is steeds in Kenia. ’n Koffietafel-boek oor die manjifieke diere is op die verjaarsdagviering bekend gestel en gaste kon ook aan ’n veiling van afdrukke van die diere deelneem. Maar dit daar gelaat. Manie wil darem ook sy bydrae lewer en Cyril al die beste vir die volgende jaar toewens. Gwede glo hy sal vir nog jare vorentoe deel van die politieke landskap wees . . . en Manie hoop ook só.
OPTOGTE OF NIE?
Manie het die afgelope week nogal baie getob oor AfriForum en ander groepe se protesoptog teen plaasmoorde. In ’n normale samelewing behoort dit elke landsburger se reg te wees om deur ’n protesoptog die regering se aandag te vestig op iets waaroor hy ongelukkig is.
Maar ongelukkig is ons tans nie in ’n normale samelewing nie – veral nie met die leierskapstryd binne die ANC wat binnekort op die spits gedryf word nie. Daarom wil Manie met prof. Mohammed Karaan en ander slim mense saamstem dat dit miskien nie nou die regte tyd vir só ’n optog is nie.
Soos wat dit ook met Swart Maandag die geval was, gebeur dit te maklik dat protesoptogte soms vir eie politieke agendas misbruik kan word en mense verdeel eerder as verenig – veral as dit met opruiende uitsprake gepaard gaan. En, soos Mohammad waarsku, is dit uiteindelik die beeld van die landbou wat skade ly, want ons het die nasionale en internasionale samelewing se oë op ons.
Manie bedoel geensins dat mense moet stilbly oor plaasmoorde nie. Soms het goeie voornemens en aksies wat ’n mens aanpak egter onbedoelde gevolge.
Charl Senekal, suikerboer en ’n direkteur van Agri SA, het ook voor die optog gewaarsku teen enige opruiende gedrag. Hy meen ten opsigte van veiligheid moet boere hulself organiseer en hulle op paraatheid en veiligheid toespits. Hulle moet ook inligting oor moontlike bedreigings en gevare so gou moontlik aan hul medeboere oorvertel.
Die wildboer Piet Warren sê die oplossing lê nie in optogte nie. Hy glo in ekonomiese groei en werkskepping as die antwoord. Daar moet weer ’n optimistiese gees in ons land heers. Dan sal dinge regkom, meen hy.
Aggrey Mahanjana, Nerpo se ou vuurvreter, sê almal loop deur onder misdaad in Suid-Afrika hetsy of dit in landelike gebiede, stede of informele woongebiede is. Hy glo om plaasaanvalle uit te sonder asof net boere onder misdaad deurloop, is nie goed nie. Die Regering gaan, volgens hom, dan nie luister nie.
Hy sê boere is vanweë hul afsondering kwesbaar teen misdaad, maar misdaad bly misdaad – ongeag waar dit voorkom. As almal opstaan teen misdaad, waar dit ook al voorkom, kan ’n mens dalk die algemene publiek betrek en meer met protesoptrede bereik.
BOEREWORS-BANKE
Koos en Jan loop mekaar tussen die koöperasierakke raak. Dit gaan maar broekskeur by Jan op die plaas en hy moes noodgedwonge die bankbestuurder besoek om te hoor of daar geld gaan wees om ietsie te plant vanjaar.
“So,” vra Koos. “Hoe het jou gesprek toe by met die bankbestuurder gegaan? Gaan die trekkers vanjaar loop?”
Jan bly ’n rukkie stil, soos hy oor die saak nadink, voor hy heel filosofies antwoord: “Ag, ou Koos. Jy weet mos hoe bankiers is . . . Baie van hulle is soos goeie boerewors. Altyd ten minste 30% vark!”