VERMAG DIE ONMOONTLIKE
Dit reën sag en bemoedigend buite, hier waar ek laatnag sit en werk in Landbouweekblad se Pretoria-kantoor. Hoe ver wes dit reën, sal ek eers môreoggend op my boere-WhatsApp-groepe sien, maar die gunstige voorspellings maak ’n mens darem hoopvol dat die planters daar ook binnekort sal begin loop. Hoopvol, soos die nuus van Statistieke SA dat die landbou homself weer bewys het as die onmisbare nasionale bate wat hy is, met verstommende groei van 44,2% in die derde kwartaal van die jaar. Dit is die grootste kwartaallikse groei sedert 1996 en die derde kwartaal van dubbelsyfergroei vanjaar.
Ons boere het weer behoorlik uitgehaal en gewys. Maar belangriker is dat dit ’n prestasie is wat 0,9 persentasiepunte tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) bygevoeg het, iets wat nou wragtig nie te versmaai is nie, veral wanneer jy in ag neem dat die ekonomie maar met ’n flou 0,8% op ’n jaargrondslag gegroei het. Dit is een van die redes vir die land se kredietafgradering.
Maar ondanks die landbou se merkwaardige bydrae tot SuidAfrika moes dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, en mnr. Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging, blykbaar steeds onlangs gaan besoek aflê by Luthuli-huis. Net om die ANC hier skuins voor sy leierskapsverkiesingskonferensie aan ’n paar dinge te herinner — nie net aan die landbousektor se onmisbare ekonomiese bydrae nie, maar ook aan die honderde miljarde rande se skuld wat die landbou nog aan banke moet terugbetaal. En wanneer die landbouskuld eers uitgewis is, sal die duisende miljarde van die voorstedelike eiendomsmark volg. Dit is bedrae wat die R300 miljard wat Suid-Afrika volgens die ekonoom Mike Schussler al vanjaar deur korrupsie verloor het, soos kleingeld laat lyk.
In teenstelling met die politici wat hul bes doen om teen die nasionale belang te werk, probeer gewone Suid-Afrikaners onverpoos ’n bydrae lewer — van boere wat waarde skep tot die sakeleiers wat die siniese politieke opportuniste in toom probeer hou. Doodgewone Suid-Afrikaners, soos me. Gloria Serobe, die grootbaas van die beleggingsmaatskappy Wiphold, wat die afgelope paar jaar stilweg ’n landbouwonderwerk in die voormalige Transkei bewerkstellig het. En dít in die brandarm gemeenskap van Centani. Daar waar ’n menigte al probeer het om landbouproduksie weer aan die gang te kry — van die Nasionaliste tot die huidige ANC-spul.
Met ’n Afrikanerboer en Zimbabwiese grondkundige aan die stuur van landboubedrywighede word daar vandag sowat 2 000 ha mielies en sojabone geplant, met mielie-opbrengste van sowat 10 ton per ha. En gemeenskapslede skroom nie om in die lande te slaap om hul oeste teen diefstal te beskerm nie.
Dit het jare se samesprekings met sowat 45 hoofmanne, stamleiers en duisende gemeenskapslede geverg. Stuk vir stuk is mense se selfvertroue en waardigheid herstel tot waar hulle vandag, soos Gloria trots uitwys, die taal van kommersiële verantwoordelikheid en eienaarskap praat. ’n Verstommende eindbestemming wat in ’n groot mate bereik is deur Wiphold se bereidwilligheid om enigiemand wat nie sy of haar kant bring nie, uit die projek te skop.
Dít is waartoe die mense van ons land in staat is — om met geloof en deursettingsvermoë die byna onmoontlike te vermag. Verbeel jou net wat moontlik kan wees as ons landbouers pleks van ons swak politici Suid-Afrika bestuur en daar nog ’n paar goeie buie in die weste uitsak.