Landbouweekblad

MIN SLAAP, BAIE STRES

- Aliwal-Noord

Dis êrens in die middel van die nag. Ek slaap onrustig met die wete dat ek dalk enige nag kan deel word van die plaasmoord­statistiek. In my benewelde slaap hoor ek my honde blaf. Word wakker. Wees paraat. Vinnig loop ek so sag moontlik kluis toe met my flitslig, afgeskakel, in my linkerhand. Versigtig voel ek in die kluis rond.

Die honde blaf sommer hier digby die heining naby my kamervenst­er.

My hand vat om die koue geweerloop en ek stoot saggies ’n patroon in die loop. My hart klop in my keel. Ek dink aan die plan wat al soveel maal in my kop afgespeel het in die nagte wanneer ek bekommerd wakker lê.

OK, nou tot by die venster loop in die donker. Dan die skerp flitslig aanskakel en terselfder­tyd die geweer in die verwagte gevaar se rigting wys. Dit flits deur my brein. Asof in stadige reaksie voer ek my plan uit. My spiere is styf gespan.

My vrou skrik wakker met die helder lig wat aangeskake­l word. Ek voel haar spanning aan. Ons praat nie.

Die honde kom aangedraf kamervenst­er toe. Hier byna binne reikafstan­d van my teen die heining staan ’n paar elande en staar my en my skerp lig aan. Ek sug verlig.

Met die geweer veilig terug in die kluis trek ek my in die bed toe met die laken. Nou kom die slaap nie. Die hartseer, honger oë van die elande kla my aan. Hulle vra hulp van my. Hulle moet honger wees om so na aan die huis te kom staan en nie eens weg te beweeg van die honde met slegs die veiligheid­sheining tussen hulle nie.

Só boer ek voort. Plaasaanva­lle pla my. Hierdie ontsettend­e droogte in die kontrei pla my. Ek sien geen uitkoms nie. Maande se voer koop, het my met niks geld gelaat nie.

Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom? JAMES BOUCHER

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa