TAKEL PLAASMOORDE OP DIÉ MANIERE
Ek bespeur ’n uiterste bekommernis en magtelose woede,
byna paniek, in die gemeenskap waarin ek leef. Die talle plaasmoorde is besig om emosies op loop te sit en wanindrukke en wantroue is besig om die oorhand te kry. Meningsvormers binne die gemeenskap benodig feite ten einde gemoedere te kalmeer en rasionele besluite te neem oor praktiese stappe wat gedoen kan word. Ek het gewonder of Landbouweekblad kan feite insamel en tesame met goeie, ondersoekende joernalistiek ’n maandelikse rubriek (met ’n jaarlikse opsomming) kan publiseer. Die doel van die ondersoek moet wees om die indruk te takel dat ons te doen het met polities gemotiveerde volksmoord. Indien so iets wel bewys kan word, sal ander stappe gedoen moet word as wanneer dit net gewone misdaad is. Die internasionale gemeenskap se hulp sal dan ingeroep moet word.
Indien dit byna uitsluitlik gewone misdaad is, is die situasie minder benard, dog steeds baie ernstig.
Die rubriek moet die volgende feite bevat: ■ Die totale aantal moorde in Suid-Afrika die afgelope maand met ’n aanduiding van die getalle per distrik (ongelukkig net moorde aangesien aanrandings te omvangryk is en dit onmoontlik gaan wees vir joernaliste om ernstige aanrandings te onderskei van ligte aanrandings). ■ Die aantal plaasmoorde in dieselfde tydperk (die plaasmoorde is dus ingesluit in die totaal hierbo). Dit is belangrik om die aantal plaasmoorde in perspektief te sien vergeleke met die totale aantal moorde in Suid-Afrika. “Plaasmoord” moet enige moord buite stedelike gebiede wees, ongeag waarvoor die landbougrond inderdaad gebruik word of wat die slagoffer se hoofbron van inkomste is. Wanneer dit by plaasmoorde kom, moet die volgende inligting verskaf word: Die naam, ouderdom en ras van elke slagoffer (ras is ongelukkig belangrik ten einde die indruk te takel dat ons hier met volksmoord te doen het). Die ligging (distrik) waar die moorde gepleeg is. ’n Poging moet aangewend word om die motief vir die moord vas te stel uit die unieke feite van die voorval, asook die indrukke van die slagoffers en menings van sekerheidsagente, soos die polisie. Joernaliste moet hierdie deel versigtig, onemosioneel en objektief benader en in ag neem dat indrukke en vooroordele dalk tot foutiewe gevolgtrekkings kan lei. Sodra arrestasies gemaak word, moet die identiteit, ras en nasionaliteit van die oortreders bekend gemaak word. Enige relevante inligting wat uit die polisie-ondersoek en strafregtelike vervolging verkry kan word, moet
gepubliseer word. Strafregtelike vervolging moet gevolg word tot die uiteinde daarvan. Mag ek ook sommer van die geleentheid gebruik maak om my voorstelle oor hoe plaasmoorde aan bande gelê kan word, ter tafel te lê.
Die eerste stap is om ’n denkskuif te maak. Word deel van Suid-Afrika en Afrika.
Vergeet van die droom dat wit mense Suid-Afrika weer sal regeer. Maak vrede daarmee – Suid-Afrika sal nooit weer ’n wit regering hê nie. Vergeet ook van die droom van ’n wit volkstaat. Suid-Afrika is ’n roereier en kan nie “ontroer” word nie.
Moenie apartheidsimbole (soos die ou Suid-Afrikaanse vlag) aanhang nie – jy haal jou die gramskap en vyandiggesindheid van mede-Suid-Afrikaners en die internasionale gemeenskap op die hals.
Doen afstand van snobisme, ook genoem rassisme. Swart mense is wit mense se gelykes en ons het mekaar nodig.
Bly in hierdie stadium weg van oorlogspraatjies, subversie, terrorisme en hoogverraad. Die wetgewing is daar. Belhamels en opstokers kan vasgevat word ingevolge gewone wetgewing, en private vervolgings is ’n moontlikheid. Julius Malema, byvoorbeeld, het opgehou met “One settler, one bullet” nadat ’n hofbevel teen hom verkry is. Niemand wil tronk toe gaan nie.
Bid as jy wil bid, maar gebruik jou gesonde verstand. As julle wil bid, nader swart Christene en nooi hulle om saam te bid. Bid dan vir álle boere en teen