Uitvoer bring hoop vir boere
DIE landbou het in 2017 ’n leeue-aandeel daarin gehad om te verseker dat die land ’n positiewe handelsbalans handhaaf. Dié sektor sal na verwagting in 2018 met uitvoer blý presteer.
Mnr. Sifiso Ntombela, hoof van internasionale handel en belegging by die landbousakekamer Agbiz, het op sy organisasie se vooruitskouing vir 2018 gesê die primêre en sekondêre landbou het vanjaar vanaf Januarie tot Oktober R123,82 miljard op buitelandse markte verdien. Dié sektor het ’n positiewe handelsbalans van R38,6 miljard gehad.
Gegewe die positiewe nasionale handelsbalans van R4,56 miljard, is dit duidelik hoe belangrik die rol van die landbou was, het Ntombela gesê.
Vanjaar se uitvoerprestasie is veral deur vrugte, graan, melkprodukte en suiker aangedryf.
“Dit is noodsaaklik om ’n ge- sonde internasionale vraag na Suid-Afrikaanse landbouprodukte te handhaaf omdat dit werkgeleenthede behou, groei bevorder en dus armoede verlig.”
BETER BESTUUR
Ntombela het wel gesê daar is werk nodig ten opsigte van handelsooreenkomste. “Die vraagkant moet deur die vestiging van doeltreffende, deursigtige en voordelige handelsooreenkomste beter bestuur word. Sulke ooreenkomste is noodsaaklik om die nodige belegging na die sektor te lok,” het hy gesê.
In 2018 sal landbouhandel volgens hom na verwagting betreklik goed presteer, met uitvoer wat invoer na verwagting met sowat R40 miljard kan oorskry.
“Die belangrikste aandrywers sal na verwagting vrugte, graan en melkprodukte wees, terwyl invoer hoofsaaklik deur verwerkte kos en koeldrank oorheers sal word.”
SKUIF NA ASIË
Suid-Afrika se landbou-uitvoer na Afrika en die Europese Unie was vanjaar effens laer, terwyl uitvoer na lande in Asië stewig gegroei het. “Alle uitvoer skuif geleidelik al hoe meer na Asië.”
Ntombela het gesê van die redes waarom dit van Europa na Asië skuif, is eersgenoemde se toenemende sanitêre, fitosanitêre en ander tegniese handelsversperrings. In Asië is daar ’n groeiende verbruikersvraag na gesonde en hoëwaardeprodukte. Daarom is daar goeie geleenthede vir Suid-Afrikaanse vrugte, neute en wyn.
Suid-Afrika het egter ’n agterstand teenoor lande soos Australië en Argentinië wat bilaterale ooreenkomste met lande in Asië het. “Ons is in ’n benadeelde posisie, wat ons produkte relatief duur maak. Ons moet meer aandag daaraan gee om seker te maak dat ons bilaterale handelsooreenkomste met lande in Asië sluit om die voordele ten beste te kan benut.”
Ntombela sê Suid-Afrika gebruik beperkte toegangspunte tot markte in Asië. Dit beteken van die produkte het gehalte verloor teen die tyd dat dit by die eindbestemming uitkom. Hy meen dis belangrik om meer toegangspunte tot daardie markte te kry.
‘Ons is in ’n benadeelde posisie, wat ons produkte relatief duur maak.’