Uitheemse indringerplante lont vir veldbrande
Onbeheerbare bos- en veldbrande is bestem om van tyd tot tyd voor te kom. Uitheemse plante het egter die natuurlike balans heeltemal versteur en ’n groter aanslag meegebring.
Die rampspoedige bosbrande wat die Suid-Kaapse kusstreek op 6 Julie vanjaar getref het, was nie die eerste keer dat só ’n katastrofe die gebied getref het nie. Dit sal helaas ook nie die laaste wees nie, soos die geskiedenis ons leer. Die grootste bosbrand in die geskiedenis in dieselfde gebied het in Februarie 1869 gewoed. Dit was oor ongeveer 500 km – van Swellendam tot by Uitenhage (D. Edwards, 1984. In P. de V. Booysen & N.M. Tainton se Ecological Studies 48, bl. 19-37, Springer-Verlag).
Soos die jongste brand in Julie, het die grootste brand in die geskiedenis nie op een plek begin nie. Verskeie kleiner brande het saamgeloop tot ’n situasie wat mense nie kon beheer nie. In 1869 was die yl plaaslike bevolking en gebrek aan ’n gesofistikeerde brandweer die hoofredes waarom die groot brand basies buite beheer gewoed het (Sue van Waart, 1998. Outeniqualand: Plek van Melk en Heuning, Lapa Uitgewers).
Toe, soos nou weer die geval was, is die brand deur droogte voorafgegaan en deur warm bergwinde aangeblaas.
Ná die groot brand, wat onder meer groot dele natuurlike woudgebied in puin gelaat en die meeste mense werkloos gelaat het, was daar kleiner brande in die Suid-Kaap – in 1962, 1964, 1984 en 1996-1998. Die verskil tussen hierdie latere brande en die grote van 1869 is dat die kleineres voor 2017 nie beduidende skade aan natuurlike woud aangerig het nie.
Oor die ou grote is aangeteken dat daar op die betrokke dag ’n hittegolf was. Teen 08:00 was die temperatuur 34 ºC en 45 ºC om 14:00 (Edwards, 1984). Beskrywings oor die aard van die groot brand sluit in: “. . . diere is verkool . . . hele skaaptroppe is gaar verbrand . . . voëls het uit die lug dood neergeval . . . mense het in die vleie, strandmere of in riviere of plaasdamme gaan staan . . . boomreuse met stamme van 30 voet in omtrek is tot as verbrand.” (Sue van Waart, 1998.)
INVAL VAN DIE WATTEL
Tiperend van ál die Suid-Kaapse brande is voorafgegaande warm, droë tydperke (vir etlike weke) en warm bergwinde wat in dié streek veral in die wintermaande heers.
Vanjaar is die situasie vererger deur ’n taamlik droë winter. Daarby het digte stande van uitheemse plantegroei, bestaande uit hoofsaaklik Australiese Acacia-soorte, letterlik “brandbane” geskep en in baie gevalle regstreeks bygedra tot die afbrand van talle geboue in so ’n hoogs brandbare sone. Plantasies dennebome (Pinus-spesies) in die gebied het waarskynlik ook nie gehelp nie. Dennebome bevat hars en aromatiese stowwe wat veral in die geval van warm brande aanjaerbrandstof raak.
Teen 1869 was die Suid-Kaap en die res van Suid-Afrika nog grootliks vry van uitheemse bome wat deesdae kommersieel in plantasies verbou word. Die wattelboombedryf, veral die Australiese swartwattel (Acacia mearnsii), het eers vanaf ongeveer 1910 in die George-Knysna-omgewing posgevat toe die behoefte aan wattelbas vir leerlooiery ontstaan het. Die Australiese Acacia melanoxylon (plaaslik bekend as swarthout) is toe ook nog nie in plantasies vir die meubelbedryf aangeplant nie.
Deesdae is veral verskeie Australiese Acacia-soorte, spesifiek waar hulle buite plantasies teenwoordig is, ’n enorme probleem. Hulle verdring inheemse plantegroei, put waterbronne uit en skep weens verdigting ’n brandgevaar. Acacia-soorte wat oor die dekades in Suid-Afrika indringerplant- en onkruidstatus bereik het, sluit in Acacia mearnsii (swartwattel), A. dealbata (silwerwattel), A. decurrens (groenwattel), A. longifolia (langblaarwattel), A. saligna (Port Jackson) en A. cyclops (rooikrans).
NATUURLIKE BALANS VERSTEUR
Omdat vuur ’n natuurlike faktor in die fynbos-, grasveld- en savanneplantbioom is, is die inheemse plantegroei aangepas by periodieke brande en dikwels afhanklik van vuur vir herlewing en die instandhouding van plantgemeenskappe. Die natuurlike balans word egter versteur wanneer uitheemse indringer-