Herlewingslandbou: Bring die diere in
Met die opgang wat dekgewasse maak, het die belangrikheid van ’n derde noodsaaklike komponent van grondherstel – vee – byna outomaties na vore getree.
Nie net vergoed vleisproduksie vir die koste van die vestiging van dekgewasse in die plek van ’n kontantgewas op ’n tradisionele saailand nie, maar die biologiese en bemestingvoordele van beweiding deur diere vir grond raak ál duideliker.
Mnr. Darrell Oswald van Menoken in die Amerikaanse deelstaat Noord-Dakota het eens ook, nes die meeste ander boere in sy distrik, net gesaai, en meestal net een gewas. Lande waar 37 jaar opeenvolgens jaarliks hooi gebaal is, was ’n biologiese woestyn. Oor die jare moes hy al hoe meer stikstof toedien om dieselfde opbrengste te behaal en die finansiële stres het hom ingehaal.
In 2008 het hy dekgewasse begin plant, wat hy net vir ’n seisoen of twee met Anguskoeie met kalwers bewei voor hy ’n kontantgewas daarin plant. Dié aanpassing het só ’n omwenteling in sy boerdery se winsgewendheid meegebring dat hy besef het boer hoef nie nét ’n gesukkel te wees om voor te bly nie, sê hy.
Die Browns buite Bismarck, ook in Noord-Dakota, het al ’n hele paar jaar gelede die kopskuif gemaak om nie net dekgewasse nie, maar ook ’n diereproduksie-komponent in hul boerdery te integreer. Daaruit het hul seun, Paul, ’n florerende nuwe onderneming opgebou wat vleis van vrylopende diere in ’n wye verskeidenheid produkte en verpakkings oor die internet aan verbruikers van die omgewing verkoop. Hy behaal stewige premiepryse daarmee.
Brown’s Ranch was eens hoofsaaklik ’n wintergraanplaas wat somers braak gelê het. Vandag beslaan dit net meer as 2 000 ha, waarvan meer as 1 200 ha onder meerjarige weidingmengsels is.
Die Browns se opbrengs met mielies op droëland is ’n bewese 8 ton/ha, teen ’n fraksie van die koste van konvensionele mielieproduksie. Die distrik se gemiddelde is sowat 6,3 ton/ha.
Mnr. Darin Williams van Waverley in die staat Kansas glo hopeloos te min saaiboere benut die voordele van weidingdekgewasse.