DIÉ PLAN SAL G’N ‘TUIN VAN EDEN’ SKEP
Die ANC se opspraakwekkende besluit om grond sonder vergoeding te onteien, kan meer as net landbougrond raak, waarsku die SA Instituut vir Rasseverhouding. NICO VAN BURICK berig.
PLEKS van die “Tuin van Eden” wat die nuutverkose ANC-leier, adj.pres. Cyril Ramaphosa, onlangs in ’n toespraak beloof het indien onteiening sonder vergoeding van grond plaasvind, “sal dit net ‘dorings en dissels’ meebring, soos wat reeds gesien kan word by die meeste plase wat vir grondhervorming herverdeel is en waar niks geproduseer word nie”.
Só waarsku dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV). Hy sê sonder die R150 miljard wat in kommersiële boere se lenings opgesluit lê, sal produksie in duie stort, daar sal geen ontwikkeling wees nie en kospryse sal styg. “Daar is geen manier waarop die staat daardie gaping sal kan vul nie.”
Eiendomsreg vorm die grondslag van die landelike ekonomie. “As dit ondergrawe word, sal dit die ekonomie ernstig benadeel en groot maatskaplike en poli- tieke gevolge inhou. Selfs die politieke voordele wat dit op kort termyn mag inhou, is te betwyfel. Meningspeilings wys die meeste Suid-Afrikaners wil nie grond hê om op te boer nie, maar eerder werkgeleenthede, onderwys en beter lewensomstandighede.”
PATENTE EN AANDELE
Mnr. Terence Corrigan, ’n navorser by die SAIRV, sê omdat die eiendomsklousule in artikel 25 van die Grondwet gewoonlik genoem word met verwysing na grondhervorming en die landbou, aanvaar almal dikwels verkeerdelik dat die eiendomsreg net op landbougrond gemik is.
Dié klousule verwys egter nie net na grond nie, maar alle eiendom, wat kan wissel van intellektuele eiendomsreg tot mynregte tot aandele in maatskappye. Onteiening daarvan kan gedoen word vir ’n “openbare doelwit” óf “in openbare belang”.
“Die Regering se pogings veral oor die afgelope dekade om sy onteieningsmagte uit te brei, was nie net beperk tot grond nie. Daar is ook geen versekering dat onteiening sonder vergoeding tot grond, en nog minder landbougrond, beperk sal bly nie. As die grondwetlike vereiste van vergoeding uit die weg geruim is en die eerste onteienings sonder vergoeding vind plaas, sal die druk toeneem om dit ook in ander sektore van die ekonomie toe te pas.
“Dit kan byvoorbeeld lei tot onteiening van maatskappye se aandele ter wille van bemagtigingsdoelwitte of die onteiening van waardevolle kultuurskatte in private besit.”
‘WESENLIKE BEDREIGING’
Corrigan meen sulke onteienings beteken dan nie noodwendig dat dit onder Suid-Afrikaanse burgers herverdeel sal word nie, maar bloot aan die staat oorgedra word – soos reeds die geval met grond is waar mense geen titelaktes ontvang nie.
“Ons wil hê die sakewêreld en gewone Suid-Afrikaners moet besef hierdie is ’n wesenlike bedreiging vir die land se ekonomie. Hulle moet hulle op elke moontlike geleentheid daarteen uitspreek.”
In nog ’n meningstuk het prof. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, die ANC-leiers gevra om drie dinge in gedagte te hou: Die meeste mense se “grondhonger” gaan oor ’n eie blyplek en nie noodwendig grond om op te boer nie. Tweedens is artikel 25 van die Grondwet in sy huidige vorm voldoende vir grondhervorming. Derdens sal die resolusie oor onteiening die ekonomie benadeel – en het dit reeds in ’n mate gebeur.
Die goeie dele wat hy in Ramaphosa se uitlatings sien, is die erkenning dat grondhervorming tot dusver nie gewerk het nie en die strewe dat die landbou en voedselsekerheid nie geskaad moet word nie. Ramaphosa meen dat dit eerder die landbou moet bevorder. Die landbou word ook uitgesonder as ’n bedryf waarvan die potensiaal ontwikkel moet word om werk te skep en die ekonomie te hervorm.