Brangusboer soek gehalte met gehardheid
Met alles van droogtes, donderstorms, erge koue en hitte wat in die Oos-Vrystaat kan voorkom, is ’n geharde bees nodig wat by dié omgewing kan aanpas. Een van die land se voorste Brangustelers vertel hoekom hierdie ras vir hom die antwoord is.
Sowat ’n uur se ry van Bloemfontein af lê Tweespruit. Net om die draai van dié Vrystaatse dorpie boer mnr. Mornay Verster van Le Roc Brangus op die plaas Brandsdrift.
“Ek het op die buurplaas grootgeword en hierdie omgewing is in my bloed. Ons boer reeds die afgelope 25 jaar in die distrik Tweespruit.”
Mornay se boerdery word op twee plase, Brandsdrift en Eastry, bedryf. Dit beslaan altesame sowat 5 400 ha.
Die Verster-gesin bestaan uit Mornay, sy vrou, Nerina, en hul twee volwasse kinders, Nelise en Jan-Paul. Mornay-hulle hou van hegte familiebande en hul wortels is diep in die Vrystaatse aarde. Sy pa, Thabo, broer, Jan-Daan, en suster Lynette boer op buurplase in dieselfde omgewing. Sy ander suster, Cristelle, woon in Bloemfontein.
Mornay was aanvanklik as ’n kommersiële beesboer net op speenkalfproduksie toegespits.
“In die proses het ons bulle van verskillende rasse met ge-
mengde welslae gebruik.”
Hy het in 1998 sy eerste Brangusbul, RO 95488, op ’n veiling by Hertzogville gekoop.
“Hierdie bul se kalwers was duidelik in ’n ander klas. Teen 2001 was ek oortuig dat ’n nuwe rigting nodig was. Ons het 25 van ons Branguskoeie geselekteer en laat keur en met RO 95488 laat dek. Só is Le Roc Brangus-stoetery gebore en sedertdien kyk ons nie terug nie.”
Mornay het sy volgende bul, MV 01589, ook op die Hertzogville-veiling gekoop om die kudde verder uit te bou.
“Hierdie bul het baie diep spore in ons kudde getrap
en daar word nou nog van sy kleinseuns in ons kudde gebruik. Vandag doen ons ons seleksie uit ’n kudde van sowat 800 Branguskoeie. Dit is hierdie seleksiedruk wat ons by ons missie uitbring,” sê Mornay.
MISSIE
Le Roc Brangus se produksieveiling is op kommersiële kopers en stoettelers gemik.
“Ek probeer om ’n dier te lewer wat oral in Suid-Afrika aanpasbaar is. In die praktyk beteken dit my beeste kan op enige plaas aankom en hul gewig handhaaf of verbeter. Daar kan nie ’n groot gewigsverlies by die beeste wees nie, want dit is regstreeks gekoppel aan prestasie.”
Mornay het ’n spesifieke stel vereistes waaraan die ideale Brangusbees in sy kudde moet voldoen: Loopvermoë en stamina. Sterk agterkwart. Mediumraam. Min onderhoud. Langlewendheid. Geboortegemak. “Hier by Le Roc Brangus loop al ons koeie die hele jaar op natuurlike grasweiding. My ideaal is om ’n veldaangepaste, mediumraamkoei aan te hou wat elke jaar kalf. Die ideale bul moet ’n vrugbare, veldaangepaste, mediumraambul wees wat gemaklik kan beweeg en ver kan loop om sy koeie te dek.”
WEIDING EN VOER
Hier waar die Oos-Vrystaat begin, het die plaas ’n gemengde grasveld wat soetveld en suurveld insluit. Aangeplante weiding bestaan hoofsaaklik uit
Eragrostis en smutsvingergras. Net twee groepe vee kry ekstra voer of spesiale weiding, sê Mornay. Speenkalwers en eerstekalfverse word ’n bietjie voorgetrek om hul oorgangstres te verminder.
“Ek plant elke jaar 100 ha mielies aan. Die mielies word gestroop en verkoop, of gehou vir die lekke. Die beeste wat veiling toe gaan, word op die lande afgerond nadat ons gestroop het.
“Ons het ook aangeplante hawer vir die grootmaak van speenkalwers. Ons speen gewoonlik van April tot Mei wanneer die kalwers sowat sewe maande oud is,” sê Mornay.
“Vir die dragtige verse plant ons akkerbone vir voer nadat hulle gekalf het. Só verseker ons goeie melkproduksie en ’n gesonde kondisie. Die akkerbone help hulle om gou te laat herstel uit die negatiewe energiekurwe. Dit help ook om die kalf mooi vinnig groot te kry en die koei raak gou weer dragtig.”
Mornay gebruik twee dektye vir die verse in sy kudde. Die eerste groep wat gereed is, word in Maart en April gedek. Hierdie verse is tipies 17-18 maande oud en weeg sowat 350 kg.
Die syfers is egter nie al waarna Mornay kyk nie. As ’n boerseun wat beeste leer ken het nog voordat hy kon kruip, maak hy staat op sy waarneming en instink in kombinasie met dit wat op papier staan.
“Ek kom tussen die beeste en kyk hoe hulle lyk. Ek maak baie staat op die visuele en die vers moet ‘reg’ lyk vir die bul. ’n Mens moet die dier in geheel raaksien. As sy nog te jonk lyk, sal ek haar eerder na die tweede groep skuif wat in November bul toe gaan.”
Hierdie seleksiestelsel wat gewig, ouderdom en visuele waarneming kombineer, werk goed vir Le Roc se Brangusse wat bykans glad nie met besettings probleme sukkel nie. In Augustus begin die kalftyd.
“Die afgelope paar jaar verloop dinge ’n bietjie anders, maar gewoonlik kry ons einde Oktober al reën en dus is die weiding in November al goed.”
Die vleikampe loop gewoonlik al kort na die winter uit en word normaalweg eerste benut deur koeie met kalwers. Mornay bestuur sy weidingskampe na gelang van toestande. Só moes hy in die afgelope somer sy beskutte kampe tussen die rante en bome benut wat hy gewoonlik vir die winter spaar.
HOOGTEPUNTE
Die afgelope twee jaar het uitstekende resultate vir Le Roc Brangus opgelewer.
Tydens die 2016 Brangus Miss World-kompetisie het die stoetkoei Le Roc Madame L’Amour LR13325 met die kroon weggestap. Dié wêreldeerbewys is behaal teen inskrywings uit 70 lande wat deur ’n paneel internasionale beoordelaars beoordeel is. Inskrywings is beoordeel op grond van foto’s en produksiesyfers. Die kudde het ook vir ’n uitstekende veiling gesorg wat Oktober verlede jaar op Eastry aangebied is.
“Dit was ons sewende produksieveiling en bykans 450 diere is aangebied. Ons het 39 bulle
teen ’n gemiddelde prys van R39 200 verkoop. Die duurste bul is vir R80 000 aan mnr. Kenneth Mafokeng van Deneysville verkoop,” sê Mornay.
Nie-dragtige verse is teen ’n gemiddelde prys van R11 300 verkoop, terwyl dragtige vroulike diere en koeie wat pas gekalf het, teen gemiddeld R20 900 van die hand gesit is.
SPANWERK
Mornay sê sy personeel is deel van ’n span. “Ek probeer die lesse wat ek al geleer het aan my personeel oordra. Hulle moet selfstandig kan optree en sien wat nodig is en wat nie.”
Mnr. Kobus Taljaard, die plaasbestuurder, lê klem op die onderhoud van masjinerie, soos die trekkers, bakkie sen windpompe, en die 18 ha besproeiing s lande.
Mnr. Joseph Mosobela is die kuddebestuurder. “Hy ken die beeste so goed of selfs beter as ek,” sê Mornay.
Die ontwikkeling van vaardighede en talente is vir Mornay belangrik. Een van sy staatmakers is mnr. Setchaba Sehloho, wat al meer as 20 jaar in diens is.
“Setchaba is ’n betroubare vragmotorbestuurder wat ook grootliks verantwoordelik is vir voerbestuur. Setchaba het as ’n algemene plaaswerker hier begin en het homself bekwaam om toesig te hou oor belangrike take, soos produksie lek bestuur, toesighouding oor algemene werkers en die vee se daaglikse versorging.”
Nerina het haar waarde in die kantoor reeds deur en deur bewys. “Die rekordhouding was aanvanklik ’n groot kwessie, maar ek hou daarvan om dinge georden te hou. Dit is baie lekker om die eindresultaat te sien van die stamboomrekords en produksie prestasies wat ons bygehou het.”
PRODUKSIE EN TELING
Die afgelope drie jaar is Le Roc Brangus se gemiddelde tussenkalf periode( T K P) minder as 400 dae.
“Een van ons koeie uit die 2003-groep het hierdie seisoen haar 13de kalf gelewer. Sy handhaaf ’n TKP van 373 en haar laaste kalwers was selfs ’n tweeling. Dít is die tipe koei wat ek vir embriospoeling sal oorweeg.”
Bulle word bó kunsmatige inseminasie (KI) verkies, hoewel Mornay wel KI gebruik om spesifieke teelmateriaal in sy kudde te bring.
“Ek koop elke jaar een of twee nuwe bulle in. Die tien beste 17 maande oue bulletjies uit my eie kudde soek ek met die hand uit om by spesifieke verse te gebruik. Jong bulle loop saam met agt tot tien verse en die ouer, meer ervare bulle dek 20 tot 25 koeie,” sê Mornay.
Mornay sê hy teel rooi en swart Brangusse, hoewel rooi beeste in Suid-Afrika die gewildste is.
“Baie van my swart bulle dra ook die rooi geen. Geboortegemak is belangrik vir volhoubare produksie. Spiergewig op die regte plek wat met goeie marmering en vleissagtheid ontwikkel, is weer belangrik vir die bemarking van speenkalwers.”
Mornay gebruik oogspier skandering en pel vis metings by bulle én koeie om diere van topgehalte vir verdere teling uit te kies.
“Die verbruiker soek méér as net ’n stuk vleis. Mense is kieskeuriger en jy moet jouself binne die mark posisioneer. As ’n stoetteler kan jy nie net volg nie, jy moet leiding neem.”
Díe kennis doen hy nie in afsondering op die plaas op nie en meen daar is baie om te leer in die buiteland.
“Ek reis baie en sien hoe ver vooruit is lande, soos Amerika, wat vleisgehalte betref. In Australië ondersteun en finansier die staat navorsing.”
Mornay neem ook deel aan die Bra n gus-bees telersgenootskap van Suid-Afrika sege no-mika projek.
“As die resultate eers daar is, sal telers baie vinniger hul kuddes kan verbeter.”