Landbouweekblad

BESTUUR VAN MELKBOKKE

- DONALD MOUTON

Hier volg ’n paar praktiese wenke oor die doeltreffe­nde bestuur van melkbokke.

Hoe laat ’n mens melkbokke opdroog? Twee tot drie weke voor jy die ooie wil laat opdroog, moet jy begin om die energie en proteïene in hul voer te verlaag. Vervang lusern met strooi- of grashooi (hoë vesel en lae energie). Moenie minder voer gee of water wegneem nie.

Die ideaal is om die ooi ná twee tot drie weke net op te hou melk. As sy nog elke tweede dag of ’n paar keer gemelk word, stimuleer jy steeds die afskeiding van oksitosien, wat verantwoor­delik is vir die afskeiding van melk. As daar bokke is wie se melk steeds baie bly, kan jy soms verligting aan die uier gee deur die ooie vir ’n rukkie te bly melk.

Laktasie Die gemiddelde laktasie van melkbokke is 250300 dae. Melkbokke, veral rasegte melkbokke van Europese afkoms, se oestrussik­lus is seisoenaal en aan dagligleng­te gekoppel. Hoe langer die nagte, hoe meer melatonien (wat oestrus aan die gang sit) word afgeskei. In die somermaand­e is daar geen seksuele aktiwiteit onder ramme en ooie nie.

In Suid-Afrika raak melkbokke gewoonlik in die laat herfs of vroeë winter seksueel aktief sodra die nagte lank begin word. Gewoonlik word die ooie dan gedek en lammers word vyf maande later gebore, gewoonlik van Junie tot Augustus.

Normaalweg word die ooie twee maande voor hulle gaan lam, opgedroog sodat die ooi liggaamsko­ndisie kan herwin en die uier kan herstel en rus.

Weens die seisoenale aard van die melkbokke se siklusse het baie klein kuddes vir ongeveer twee maande nie ’n inkomste nie. Bokke kan egter lang laktasies lewer. Hulle kan 600 dae tot 1 200 dae lank gemelk word sonder dat ramme hulle weer dek. Ooie wat oorslaan, kan dus in melk bly en vir die boer ’n inkomste verdien.

Mastitis Voorkoming is die beste bestryding s metode. Die behuising en stal moet skoon wees. Skoon beddegoed beteken skoon spene én uiers. Jou melkers moet goed opgelei en skoon wees. In die stal moet hulle oorpakke of -jasse en waterskoen­e dra wat net vir hierdie doel gebruik word. Hulle moet hul hande was voor hulle aan die bokke se spene raak. Die bakterie Staphyloco­ccus aureus, wat mastitis kan veroorsaak, kom op die mens se vel en veral in die neus voor. Handhaaf ’n goeie melkregime: Die melker moet die uier met sy hande bevoel en voel of die uier warm is (die een helfte is dalk warmer as die ander) en dit dadelik aanmeld. Voel of daar sere of knoppe is en of die punt van die speen gesond is. Was die spene indien nodig en gebruik ’n doeltreffe­nde voormelk-speendoop. Toets met elke melkslag vir mastitis met ’n strip cup (’n bekertjie met ’n soliede swart oppervlakt­e). Spuit twee trekke melk op die oppervlak van die bekertjie. As daar stukkies of klontjies melk is, is daar mastitis. Wees versigtig om die bokke te veel te melk (as die uier of die een helfte van die uier leeg is en die masjien aanhou suig). Dit kan die speenopeni­ng beskadig. Doop die spene in ’n speendoop as die ooi klaar gemelk is. Dit verseël die opening en hou die speen sag en soepel. Hou die melkmasjie­n skoon. Sorg dat die vakuumpomp se vakuum reg is, dat die masjien gereeld nagesien en die speenhulse vervang word. Moenie ’n ooi met die masjien melk as sy positief toets vir mastitis nie. Merk die ooi en die helfte van haar uier wat mastitis het. Melk haar eenkant nadat jy jou gesonde ooie gemelk het. Stuur van die mastitisme­lk na ’n laboratori­um vir ontleding sodat vasgestel kan word watter kiem die mastitis veroorsaak het en jy die ooi met die regte antibiotik­a kan behandel. Indien jy nie kan nie, behandel dadelik die ooi met ’n binne-uier-antibiotik­a met die samewerkin­g van jou veearts. Hou die ooi weg van jou gesonde melkooie. Hou by die onttrekkin­gsperiode soos aanbeveel deur die vervaardig­er van die produk.

Somatiese seltelling­s Melkbokke se somatiese seltelling­s is baie hoër as dié van koeie. Dit is egter nie ’n goeie aanduiding van mastitis is nie. Die afskeiding van melk by ’n melkbok (apokriene afskeiding) skei epiteel- en sitoplasma­selle saam met die melk af teenoor merokriene afskeiding by koeie, waar net melk afgeskei word. As ’n ooi deurlopend ’n hoë somatiese telling het, stuur haar melk na ’n laboratori­um vir ontleding. Sy het dalk subklinies­e mastitis.

Mnr. Donald Mouton was 16 jaar lank bestuurder van die melkbokkud­de op die plaas Fairview naby die Paarl in die Wes-Kaap.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa