Landbouweekblad

GROOT TRANSAKSIE VAL VAS

- — JOHAN VAN DER MERWE

’N POGING van Greenyard, een van Europa se grootste verspreide­rs van vars produkte, om sy Amerikaans­e eweknie Dole Food Company oor te koop, het vroeër vandeesmaa­nd skipbreuk gely.

Dole doen reeds sake met nagenoeg 200 Suid-Afrikaanse vrugte- en groenteboe­re, en besit sitrus- en tafeldruif­plase in die Noord-Kaap. Greenyard, van België, se finale aanbod om Dole te koop is op 5 Januarie van die hand gewys.

Volgens mnr. Hannes Nieuwoudt, besturende direkteur van Dole Suid-Afrika, was daar ’n paar haakplekke in die aanvanklik­e aanbod van Greenyard.

“Daar is gepoog om hierdie haakplekke uit te stryk, maar selfs ná die finale aanbod van Greenyard het die direksie van Dole gemeen daar bestaan beter moontlikhe­de.

“Ons behoort teen middel Februarie duidelikhe­id te hê oor watter rigting Dole se direksie

gaan inslaan.”

Intussen gaan sake by Dole voort soos gewoonlik.

WAARDEKETT­ING

Dole én Greenyard se strategie is om vertikaal in die waardekett­ing te belê – van die produksiep­ersele tot by die supermark. Nie een van die twee het egter tot dusver in kleinhande­lspersele of platforms vir aanlynverk­ope aan eindverbru­ikers belê nie.

Dole was genoteer tot 2013, en ná afloop van privatiser­ing is mnr. David Murdock, die destydse voorsitter, en mnr. Michael Carter, die uitvoerend­e hoof, beskuldig van aandeelpry­s-manipulasi­e. Murdock is met $148 miljoen (R1,8 miljard) beboet.

Sedert April 2017 is Dole besig om weer op die New Yorkse aandelebeu­rs te noteer.

Greenyard se omset is meer as €3,2 miljard (sowat R48 miljard) en die maatskappy is teenwoordi­g in Wes-Europa, Amerika en in vier lande in Suid-Amerika.

Dole, wat in 1851 in Hawaii gestig is, het in die eerste drie maande van verlede jaar verkope ter waarde van $1 miljard aangeteken, met ’n netto wins van $17 miljoen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa