Suig horingvlieë jou wins op?
’n Goed saamgestelde bekamping s program teen vlieë, soos die horingvlieg, kan boere help om meer wins te maak. DR. BRENT SIRRALS van MSD Animal Health gee raad oor dié vlieënde plaag.
Veeboere weet maar alte goed hoe irriterend ’n vlieg kan wees. Wanneer dié plaag egter in swerms van derduisende op jou kudde toesak, verander die blote irritasie in ’n werklike finansiële verlies. Vlieë kan vee só erg pla dat hulle minder vreet, onrustig is en meer stres ervaar. Hulle lê gevolglik ook minder om te herkou. Dit benadeel produksie en die vee se groei.
Vlieë kan ook voer besmet en infeksie in oë of wonde vererger.
Meer as 20 verskillende vliegspesies maak amok op SuidAfrikaanse plase. Dit strek van die gewone huisvlieg (Musca
domestica) tot die skadeliker soorte, soos die stalvlieg (Stomoxys calcitrans) en die horingvlieg (Haematobia irritans irritans). Die horingvlieg is ’n baie alge- mene uitwendige parasiet by vee en kom veral in beeskuddes in Suid-Afrika voor. Dié vlieg kom wydverspreid in Sentraal-, Oosen Suider-Afrika voor. Hy val in dieselfde familie en is soortgelyk aan huis- en stalvlieë.
EIENSKAPPE
Hoe verskil die horingvlieg van ander vlieë? Dié vlieg is baie klein, naamlik 3-5 mm groot. Anders as die stalvlieg sit die volwasse horingvlieg meestal permanent op die rug van die gasheer, soos beeste.
Bedags neem die horingvlieg vele bloedmaaltye en die wyfievlieg verlaat slegs die gasheer om eiers te lê in vars mis, anders as stalvlieë wat slegs op die gasheer sit om ’n bloedmaaltyd te neem.
Horingvlieë sit meestal op die rug, nek en om die kop van die gasheer en stalvlieë sit meestal op die onderlyf en bene.
WINSVRETERS
Hoekom moet veeboere horingvlieë bekamp? Dié vlieë neem elkeen 24-38 maaltye per dag. Wanneer duisende vlieë teenwoordig is, kan dit selfs tot bloedverlies by die gasheer lei.
Soos dié vlieg se wetenskaplike naam aandui, veroorsaak hierdie voedingsproses erge irritasie. Verskeie studies het bewys dit lei tot laer melkproduksie by koeie, verminderde daaglikse groei en ’n laer speengewig by kalwers.
Die vlieg kan ook filariese wurms oordra.
VLIEGBEKAMPING
Geïntegreerde bekamping word aanbeveel om weerstand teen chemiese middels te voorkom. Dit behels ’n kombinasie van monitering en biologiese, meganiese en chemiese bestryding.
Biologiese bestryding behels die gebruik van misbesies of parasitiese perdebye wat kan help om vlieggetalle te verminder.
Meganiese stelsels wat vlieë verwyder wanneer die diere daardeur loop, kan opgestel word. Verwyder vars mis sodat vlieë nie daarin kan eiers lê nie of bestuur die mis só dat dit vinniger kan uitdroog. Dit sal help om die lewenssiklus te verbreek waar die larwes ontwikkel.
Dit is raadsaam om vliegtellings by diere te doen en slegs chemiese middels te gebruik as daar meer as 150-200 vlieë per dier teenwoordig is.
’n Praktiese manier is om opgietmiddels met ’n nawerking te gebruik. Sproeibare gifstowwe kan ook gebruik word as die vlieggetalle hoog is. ’n Produk wat ’n insekgroei-inhibeerder (IGR) bevat, kan help om die lewenssiklus te verbreek. Chemiese oorplaatjies wat tydens die vliegtyd op die diere geplaas word, help ook om vlieggetalle te verminder.
Sekere groei reguleerder s kan ook in dierevoer ingesluit word, wat ’n nadelige uitwerking op die vliegeiers en -larwes het wat tipies in die mis sou ontwikkel.
Dr. Brent Sirrals is tegniese produkspesialis vir beeste en herkouers by MSD Animal Health.