Groot gaping vir veldvleis
DIE groeiende gewildheid van veldvleis, wat gepaard gaan met groter omgewingsbewustheid, is ’n rede tot optimisme vir Suid-Afrikaanse vleisprodusente, meen lede van die veldvleisorganisasie Grass-Fed South Africa (GFSA) en die Wildbedryf SA.
Navorsing deur die Universiteit van Oxford in Engeland het in 2016 bevind 40% belasting op rooivleis en 20% belasting op suiwelprodukte sal mense aanspoor om minder van daardie produkte te verbruik, wat weer die hoeveelheid gasse wat tot aardverwarming bydra, sal verminder.
Die studie het bevind ’n prysstyging van 40% sal ’n afname van 13% in vleisproduksie teweegbring. Hoewel daar nog nie plaaslik of oorsee werklik stappe gedoen is om vleisbelasting in te stel nie, sê Amerikaanse boere hulle voel reeds die druk van verbruikers af.
Boere wat hul vee ekstensief laat wei, slaan egter munt uit die polemiek. Hulle verdien nou selfs ’n premie vir veldvleis omdat dit meer omgewingsvriendelik is. Volgens mnr. Lee Graese van Rice Lake, Wisconsin, wat ekstensief boer met bison, loop industriële produksiemetodes al hoe meer deur onder bewaringsgesindes, diereregte-organisasies en verbruikers. Hy meen die vraag na veldvleis groei omdat verbruikers wil weet diere is aan so min stres moontlik onderwerp, selfs as hulle geslag is.
WINSGEWEND
Volgens navorsing deur die Stone Barns Center for Food and Agriculture het veldvleis in 2012 slegs $17 miljoen in Amerika verdien, maar teen verlede jaar het Amerikaners $272 mil- joen se veldvleis gekoop.
Hoewel gewag gemaak word van metaangas wat veral deur beeste se spysverteringstelsels vrygestel word, is die groot sondaar glo die uitlaatgasse van trekkers en landboumasjinerie wat ingespan word om voer vir die veevoerbedrywe te lewer.
Die navorsers by Oxford sê voedselproduksie is verantwoordelik vir ’n kwart van die kweekhuisgasse wat tot aardverwarming bydra – en veeboerdery is die grootste sondaar. Dit word boonop erger namate mense oor die wêreld heen welvarender raak en meer vleis eet.
MEER GESOND
Dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildbedryf SA, sê soortgelyke geleenthede bestaan vir Suid-Afrikaanse wildsvleis. “Hoewel ’n groot deel van Suid-Afrika se verbruikers se kooppatrone deur prys bepaal word, is daar ’n groeiende vraag na gesonde vleis van diere wat ekstensief gewei het en op etiese wyse en sonder stres geslag is.”
Oberem sê sodra die regulasies vir Suid-Afrika se wildsvleisskema gereed is, sal die wildbedryf begin om sy vleis daadwerklik in die binne- en buiteland te bemark.
Dr. Mphane Molefe, direk- teur van veterinêre en openbare gesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het verlede jaar aangedui dat mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, binnekort gevra gaan word om nuwe regulasies te promulgeer wat wildsvleis kragtens die Wet op die Veiligheid van Vleis (Wet 40 van 2000) reguleer. Dit sal dit moontlik maak om wildsvleis wettiglik plaaslik te verkoop en ook uit te voer.
Oberem meen die regulasies sal dadelik byna 20 miljoen hektaar se wildplase in potensiële vleisproduksiegebiede omskep.
BELOWEND
Mnr. Adrian Cloete van die GFSA sê daar is reeds ’n sterk vraag na veldvleis in veral Suid-Afrika se groot stede. Die probleem is eerder om in die plaaslike vraag te voorsien as om uitvoermarkte te ontwikkel.
“Ons is nog nie op Eerstewêreldvlakke wanneer dit kom by verbruikers se onderskeid tussen veld- en voerkraalvleis nie. Daar is egter definitief ’n groeiende groep verbruikers wat wil weet dat hul aankope herlewingslandboupraktyke ondersteun en dat hulle bydra tot ’n groener planeet.