Willemse: Mieliepenarie looi ekonomie
Besonder goeie reën in die somersaaigebiede van Januarie tot Maart het verlede jaar tot die redding van die landbou gekom. Dit lyk egter of boere daarmee vrede sal moet maak dat produksie vanjaar aansienlik laer as verlede jaar sal wees.
Die nuus dat die landbousektor in die derde kwartaal van 2017 sy bydrae tot die BBP met sowat 44,2% opgestoot het, het grootliks meegehelp om die ekonomie uit die resessie te lig tot ’n groeikoers van 2%. Dit volg ná die vorige kwartale se negatiewe groei (sien GRAFIEK 1 ).
Daar is heelwat in die media geskryf oor die positiewe bydrae wat die landbou gelewer het, maar dit was meestal te danke aan die besonder goeie graanoeste verlede jaar ná die droogtejare.
Hierdie prestasie gaan vanjaar heeltemal gat omswaai soos sake tans staan in die land se landboustreke. Onthou, die redding verlede jaar was die baie reën in Januarie, Februarie en Maart, waarna dit oor die hele land opgehou reën het. Groot dele van die sentrale en westelike binneland het met die skrywe hiervan in Maart verlede jaar laas reën gehad. Die situasie is weer besig om kritiek te word.
SAAITYD VERBY
Die somersaaityd vir mielieboere is verby. Na raming is sowat 300 000-400 000 ha minder mielies aangeplant en baie van die 2 miljoen hektaar wat wel beplant is, kort dringend reën. Die grootste deel van die land se veeweigebiede gaan gebuk onder jare lange droogtes. Die somer het tot dusver weinig reën opgelewer en die groeityd begin baie min raak.
Die winterreënstreek het ook verlede jaar baie min reën gekry. Dele van die Karoo wat aan die Wes-Kaap grens, het drie tot vier jaar laas reën gehad. Voeg daarby die heersende droogte en skaarste aan water in die Wes-Kaap en ’n baie klein koringoes wat daar ingesamel is, asook die verwagting dat vrugte- en druiweproduksie erg geknou gaan word. Dan is dit voor die hand liggend dat die produksie van die landbou vanjaar heelwat laer gaan wees as verlede jaar.
Daar word byvoorbeeld geraam dat die mielieoes vanjaar min of meer die helfte gaan wees van verlede jaar se rekordoes. In die afgelope drie jaar het die aantal beeste en skape wat geslag is, aansienlik afgeneem namate kuddes uitgedun is en produksie daal.
Tog hou die SA Weerdiens sedert Oktober vol met sy maandelikse langertermynvoorspellings dat die somer bogemiddeld nat en koel gaan wees. Die warm, droë somer is meer as halfpad verby en die SA Weerdiens hou by die voorspelling.
Stedelike joernaliste wil altyd weet of boere hul beplanning doen volgens die weervoorspellers.
Na dese moet boere hulle maar gereedmaak dat elke jaar ’n swak jaar is en konserwatief beplan, want boere sal gou bankrot wees as hulle hul beplanning doen volgens die SA Weerdiens se voorspellings.
Dit is bekend dat baie van die diens se weerstasies in onbruik verval het, dermate dat van die groot graanhandelaars hul eie weerstasies in produksiegebiede opgerig het in ’n poging om akkurater inligting te bekom en daarvolgens te kan beplan. Dan moet ’n mens byvoeg dat selfs weerkenners van mening is dat hul skaars sewe dae vooruit akkuraat kan voorspel.
Die lyk egter of die normale klimaatspatrone nie meer geld nie. Elke boer sal daarom ernstig moet besin oor sy risikobestuur en hoe hy ’n skynbaar toenemend onstabiele klimaat gaan probeer bestuur in sy boerdery. Onthou, Suid-Afrika is ’n droë en waterskaars land en dié feit is in die afgelope paar jaar bevestig. Sogenoemde normale jare is eerder die uitsondering.
HOE LYK BEDRYFVOORUITSIGTE VIR 2018 ?
Die TABEL toon die bruto inkomste van die belangrikste bedrywe vir die jaar wat strek vanaf Oktober 2016 tot September 2017. Dit gee ’n aanduiding van die bedrywe wat bygedra het tot die groei in Suid-Afrika se bruto binnelandse produk.
Indien ’n mens teen middel Januarie ’n oor-
sig en verwagtinge van die plaaslike landbou moet gee, kan die volgende verwag word:
Die mielieoes gaan waarskynlik sowat 50% kleiner as verlede jaar wees en die kans is goed dat die oliesaadoeste kleiner gaan wees. Die grondboonoes kan drasties kleiner wees. ’n Mens kan gevolglik verwag dat die
akkerbou se inkomste heelwat kan daal. In die WesKaap sal die vrugte en druiweoeste in die volgende twee jaar ondernormaal wees weens die beperkte besproeiingswater. Selfs sitrusuitvoer uit die WesKaap sal geknou word.
Die afgelope koringoes in die WesKaap (November en Desember verlede jaar gestroop) is sowat 40% kleiner as die vorige jaar. In die Swartland is boere wat baie swak — en selfs geen — oeste behaal het.
In die WesKaapse ekonomie is die landbou ’n belangrike werkverskaffer en bydraer tot die ekonomie. Die afname in produksie sal die streek se ekonomie en die nasionale ekonomie knou. Werkloosheid veral onder seisoenswerkers gaan ’n probleem wees.
In die tuinboubedrywe kan in die WesKaap ’n daling van tot 25% in die produksie van vrugte, druiwe en sitrus verwag word. Die heelwat sterker rand knou ook uitvoerverdienste.
WEIDINGSTREKE DROOG
In die veebedrywe – veral beeste en skape – is die grootste deel van die land se weidingstreke in die sentrale en westelike dele en in die Oos Kaap erg geknel deur droogte. Weiding is op en die tyd loop uit om voor die winter genoeg weiding te kry. Talle boere het net kernkuddes oor, wat dit moeilik maak om verder af te skaal.
Die daling is slagsyfers in die afgelope paar droogtejare vir beeste en skape word in GRAFIEK 2 getoon. Die syfers is verkry van die agentskap wat rooivleisheffings invorder en is redelik akkuraat vir geregistreerde abattoirs. Die dalings in slaggetalle is baie duidelik.
Kuddes gaan verder geknou word en die slagaanbod gaan verder daal.
Deesdae word sowat sowat 23 000 minder beeste en sowat 156 000 minder skape per maand geslag. Dit verklaar die hoë pryse wat tans behaal word.
Die skaap en beesbedryf se bydrae tot ekonomiese groei gaan vanjaar verder daal weens die gebrek aan weidings.
In die geval van die hoenderbedryf word geraam dat bykans 5 miljoen teel en lêhenne verlede jaar uitgeslag is, wat ook produksie sal knou. Dit is net die varkbedryf wat tans groei danksy goedkoop voerkoste.
Die huidige stand van sake in groot dele van die land se landboustreke is besig om in ’n baie slegte situasie te ontaard weens ernstige tekort aan reën en die onstabiele klimaat. Dit gaan landbouproduksie en die plattelandse ekonomie vanjaar knou.
Die kans is redelik goed dat die bydrae van die landbou tot ekonomiese groei negatief gaan wees.