Grond: Landbou, mynbou vat hande
Anglo American Platinum het besluit om nie meer geld in landbouprojekte te stort wat nooit aan die gang kom nie. Nou het die maatskappy ’n konsultant gehuur wat gemeenskapskoöperasies stig en mense oplei om winsgewend en volhoubaar te boer. Daar is nou al
Deur koöperasies op die been te bring en lede te leer hoe om produktief en volhoubaar te boer, is ’n private bemagtigingskonsultant saam met Anglo American Platinum besig om welvaart te skep in van Limpopo se landelike gebiede. Mense daar worstel al geslagte lank om uit die kloue van ’n sukkelbestaan te ontsnap.
Mnr. Peter Coombes, die konsultant aan die stuur van die projek, sê sy mandaat van dié mynmaatskappy is eenvoudig om volhoubare ondernemings te vestig in gebiede waar die myn werk. Die landbou is die logiese keuse. Die mense is daar, die grond is beskikbaar en hoewel Anglo American Platinum nie meer bereid is om jaar ná jaar geld in mislukte projekte te belê nie, is daar finansiering beskikbaar om landbouprojekte aan die gang te kry.
“Die dae dat projekte vir altyd aanploeter en myne geld daarin stort om gemeenskappe te paai, is verby,” sê Peter. “Ons bied mentorskap, monitor en lei op, maar die mense moet hul eie inkomste uit hul boerderye verdien.”
Peter was voorheen aan die Wêreldbank verbonde en het aan die hoof van sake-ontwikkeling en skakeling gestaan. Sy oogmerk met die landbouprojekte is om die gemeenskap se vergoeding vir die ontginning van ’n nie-hernieubare hulpbron te omskep in ’n hernieubare bron van inkomste wat toekomstige geslagte ook tot voordeel sal strek.
Etlike suksesverhale sedert hy in 2014 ’n landboubesigheid-ontwikkelingsmeganisme vir die Mogalakwena-platinummyn gestig het,
wys dat sy model’ n wenresep vir landbou transformasie in Suid-Afrika kan wees.
‘BROEIKAS’ VIR NUWE BESIGHEID
Die kern van die projek is die Mogalakwena Incubator, ’n “broeikas” vir landboubesighede waar mense in verskillende aspekte van boerdery en verwante bedrywe opgelei word. Dit bied ook noodsaaklike steundienste, soos finansiële beplanning, bemarking en landboutegniese dienste (soos grond- en waterontleding, verpakking en ploeg- en plantdienste).
Die ontwikkelings meganisme word deur Anglo American Platinum se Mokalakwenamyn gefinansier en word op die plaas Groenfontein naby Bakenberg buite Mokopane bedryf. Sedert 2014 is 650 volwassenes as boere opgelei. Die meeste van hulle werk by een van die koöperatiewe boerderye in die Mogalakwena-omgewing.
Mogalakwena is ’n munisipale gebied van net meer as 6 000 km² met sowat 380 000 inwoners in Limpopo se Waterberg-distrik. Afgesien van die formele dorpsgebied van Mokopane bestaan dit uit landbougrond en tradisionele grond wat voorheen as tuislandgebiede geklassifiseer was. Hier breek die ontwikkelings meganisme die juk van armoede.
Afgesien van die mense wat by die koöperasies werk, het ’n klein persentasie van die studente intussen ook vir hulself begin boer en is daar ook op Groenfontein self al meer as 120 poste geskep.
DIE KOÖPERASIES
Die plase wat as koöperasies bedryf word, word deur die gemeenskappe besit. Hoewel die Mogalakwena Incubator die aanvanklike finansiering vir die koöperasies werf en dit bestuur, bewerkstellig hy ook volhoubaarheid deur leweringskontrakte met maatskappye, soos Fresh to Go, te sluit danksy ’n GlobalGap-geakkrediteerde verpakkingsgerief.
Die reëls is eenvoudig: Die koöperasie moet ’n werkerskoöperasie wees, met ander woorde die mense wat daar werk, is die mense wat die koöperasie besit. Die plaaslike hoofman moet toestemming gee dat die grond vir die doeleindes van die koöperasie gebruik word en die koöperasie moet by die CIPC (die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom) geregistreer wees.
Tydens die beplanning van ’n koöperasie se bedrywighede word daar na die wyer omgewing gekyk. Die toestand van die omgewing en die ekonomie van daardie gebied, veral die informele markte, speel ’n belangrike rol.
Daar is tans vyf koöperasies in die gebied wat deur die Mogalakwena Incubator gevestig is en waarvan die produkte deur hom bemark word. Die Ga-Mashishi-projek is ’n groenteboerdery met twee groot tonnels in die Twickenham-gebied naby Burgersfort. Die kooperasie het tien lede en lewer tans boontjies volgens die Fresh to Go-plantskedule.
Die Ga-Molekane-koöperasie is in die Mogalakwena-distrik. Sy 24 lede verbou ’n verskeidenheid gewasse onder drupbesproeiing op 3 ha, ook na gelang van die Fresh to Go-skedule.
Die Mapela-koöperasie spog met ’n plaas van 90 ha, waarvan 50 ha onder Floppysproeiers is, 2,5 ha onder spilpuntbesproeiing en die res onder drupbesproeiing. Hierdie koöperasie met sy 60 lede was voorheen deel van ’n staatbesproeiingskema, maar voor die projek onder die Mogalakwena Incubator se vaandel gekom het, was dit tien jaar lank onproduktief. Die eerste produksie in ’n dekade was 50 ha hawer wat in 2015 vir veevoer aangeplant is. In 2015 is daar in alle erns met groenteverbouing begin. Gewasse sluit boontjies, murgpampoentjies, skorsies, broccoli, blomkool, sprietuie en babamielies in. Daar word ook proefnemings met preie en rissies gedoen.
Die Phafola-boerdery naby Mogalakwena het 3 ha onder drupbesproeiing. Dié koöperasie met sy 20 lede gaan hom op groenteverbouing toelê sodra daar ’n volhoubare waterbron gekry is. Die Mogalakwena Incubator onderhandel tans met die Mogalakwena-munisipaliteit vir water.
Die Rooibokfontein-boerdery is deel van die nuwe tuiste van ’n gemeenskap wat deur die Mogalakwena-platinummyn verskuif is. Die plaas was taamlik onderontwikkel, al is daar in die verlede met sitrus geboer. Die 17 lede van hierdie koöperasie het egter besluit om eerder braaihoenders en eiers te lewer. Hulle spog nou met ’n 1 000 hen-eiereenheid en sewe hoenderhokke wat elk 1 500 braaihoenders op ’n slag kan voer.
SÓ WORD HULLE KOMMERSIEEL
“Mense kan baie gou leer om landbouprodukte kommersieel te verbou. Die meeste van hulle het reeds ’n mate van landboukennis wanneer hulle hier aankom,” sê mnr. Lytton Sadomba, die man aan die stuur van Groenfontein, die hart van die Mogalakwena Incubator. Op dié plaas word lede van die verskillende koöperasies opgelei en van daar word die koöperasies met verskillende dienste ondersteun. Een van die grootste probleme vir hierdie taamlik klein koöperatiewe boerderye is marktoegang. Peter sê hoewel die “tweede ekonomie” aan baie Suid-Afrikaners informele werk en inkomste verskaf, neig dit om bloot ’n oorlewingsbestaan te wees. “Ons gebruik bloot die geleenthede om