Ankoles floreer: Gereelde veilings stu Wes-Kaapse wildbedryf
Die Ankole is ’n beesras vir die toekoms, meen die Lerms van Albertinia. Ondanks struikelblokke het dié gesin ’n gediversifiseerde wildplaas met gereelde produksieveilings — ’n eerste vir die Wes-Kaapse wildbedryf — gevestig.
Wild wat by strawwe hartwaterveld en die wisselvallige Wes-Kaapse klimaat aangepas is, kan sonder probleme reg oor Suid-Afrika gestuur word, vertel mnr. Nico Lerm van die wildonderneming Lasarus by Albertinia.
Die vraag na ’n jagervaring in dié provinsie is ook groot, veral onder oorsese toeriste.
“Hulle wil Afrika beleef, maar is baie ingesteld op veiligheid. En hulle voel veiliger in die Wes-Kaap.”
Nico en sy vrou, Sonette, het in die vroeë 2000’s die skuif uit Limpopo aangepak en het vandag wildboerderybedrywighede by Albertinia, Ladismith en Swellendam.
WES-KAAPSE WEER
Om gewone Wes-Kaapse veeplase in wildplase te omskep, was nie sonder struikelblokke
nie. “Die aanpassing was aanvanklik groot. Die meeste van ons wild is aanvanklik uit Limpopo ingevoer, en die nat, koue winter het longontsteking ’n groot vyand gemaak,” sê Nico.
“Die weer is die moeilikste aspek van wildboerdery in die Wes-Kaap – jy kan op een dag wind, reën en koue kry. Die diere het egter mettertyd geakklimatiseer en is nou goed aangepas by die klimaat.”
Die ergste weer wat hulle nóg beleef het, was tydens die Knysna-brande verlede Junie toe die plaas by Albertinia onder fratsrukwinde deurgeloop het – sterk genoeg om die dik pale van die boma om te stoot, visdamme leeg te maak en ’n volstruis oor ’n wildheining te slinger.
“Binne die huis het die sand soos water teen die ruite afgeloop,” vertel Sonette.
“Al die huise was toe onder stof – jy kon nie asemhaal nie. Ons moes asdromme en asdromme sand uitdra. Buite het duwweltjies uit die lande in die bome vasgesit soos die wind gewaai het. As dit nie vir die brande was nie, het dít die nuus gehaal.”
’N RAS VIR DIE TOEKOMS
Lasarus het in 2015 sy eerste jaarlikse wildveiling gehou – die eerste volwaardige produksieveiling in die Wes-Kaap. Aanvanklik het Nico, Sonette en hul jongste seun, Hertie, byna ál die aflewerings – van Musina tot Garies – self behartig.
Op hul jongste veiling verlede jaar het hulle ook jong bulle en verse uit hul Ankole-kudde aangebied. Dié Sanga-tipe bees is bekend vir hul tamaai horings en word onder sekere Afrikastamme as ’n statussimbool en heilige gelukbringer gesien.
“Dit is ’n ras vir die toekoms met baie belangstelling van nuwe toetreders,” sê Nico.
“Hulle vul ’n wildplaas aan en dit is maklik om hulle tussen wild aan te hou. Dit is ’n geharde bees wat by uiterste toestande en vreeslike hitte aangepas is. Ons het Ankoles gekoop op Kimberley, Middelburg, Plettenbergbaai – oral – en aanpasbaarheid was nie ’n probleem nie.
“Hulle is ook taai wat bosluise en parasiete betref.”
Om inwendige parasiete en bosluise by vee en wild te beveg, gebruik die Lerms hoofsaaklik VoerDokter Diatome, wat met voerkorrels gemeng word.
“Die kalwers in die veld is spekvet, want die ras het ook goeie moedereienskappe.
“Die indrukwekkendste is egter hul horings – daardie besonderse dik, lang kolomme.”
Dit is hierdie “sjoe”-faktor wat Ankole in dié stadium laat verkoop, sê Hertie.
“Die Ankole is skaars, soos ’n diamantring.” ’n Goeie teelbul kan jou R150 000 tot R600 000 uit die sak jaag.
“Tans lê die waarde van ’n bul in sy teelwaarde – nie in sy vleiswaarde nie,” sê Nico.
“Party mense koop net vir die horings. Daar is ouens wat met my gaan verskil, maar ek sê in die toekoms moet ons ook na vleiswaarde kyk.
“Die skaars Ankole gaan dieselfde pad as kleurvariante stap. Goue wildebeeste en swart rooibokke was aanvanklik baie duur, maar namate die mark versadig geraak het, het die prys gedaal. Trofees is belangrik, maar wanneer dit by Suid-Afrikaanse jagters kom, kry ons net 10% trofeejagters – die res soek die vleiswaarde.
“Met die Ankole gaan dit oor horings
– hoe dikker, langer en witter, hoe meer is dit werd. Maar aan die einde van die waardeketting sal dit weer oor vleis gaan – ’n deel van daardie dure bul moet op jou bord beland.”
Juis daarom het Nico-hulle onlangs belê in ’n teelbul met ’n bouvorm wat goeie vleispotensiaal bied. Omdat dié bul uit adj.pres. Cyril Ramaphosa se kudde kom, is hy Ramaphosa gedoop.
“Ramaphosa is mooi gespierd, met ’n lang lyf wat baie vleis dra. Sy horings staan egter ook nie terug nie. Dit is hierdie balans tussen horings en bouvorm waarna ons soek.
“Omdat die ras nog skaars is, is dit ’n goeie belegging vir die toekoms. Maar wanneer daar duisende in Suid-Afrika is, moet jy iets koop waarmee jy kan boer. Jy moet diere aan die slagplaas kan bemark.”
Vleis van Ankoles het lae cholesterolvlakke, ’n fyn grein en is smaaklik – ideaal vir gesondheidbewuste verbruikers.
VERSPREI RISIKO
Lasarus se leuse is “Toekoms in verskeidenheid”. Benewens trofee- en vleisjag, vleisverwerking, wildteling en die beeste het die boerdery ook ’n Meatmaster-vertakking en is toegespits op ekotoerisme.
“Kyk wat het oor die jare met landboukoöperasies gebeur,” sê Nico. “Toe hulle net plaastoerusting verkoop het, het net boere soontoe gegaan. Vandag kan jy by ’n koöperasie instap en van kampstoele tot tuingoed, kookolie, vuurwapentoerusting en koeksisters kry. Hulle bied ’n verskeidenheid aan om hul risiko te verminder.
“Verskeidenheid sal jou deurdra. As jy met koedoes én buffels én grysbokke én blouwildebeeste boer, is die kans skraal dat alles se prys eensklaps gaan val. Ons probeer iets vir almal bied – hetsy beginnerboer of megaboer.”
Hul jagpakkette wissel van buffeljag tot die MacNab-uitdaging, waar ’n deelnemer binne ’n dag ’n bok moet jag, ’n voël moet skiet en ’n vis moet vang.
Die Lerms probeer ook hul risiko versprei deur plase in verskillende omgewings te koop.
“As dit nie hier reën nie, reën dit anderdag daar. Dié toertjie het egter nie die afgelope jaar en ’n half werk nie. Die droogte in die Wes-Kaap het almal sleg seergemaak.”
VOLGENDE GESLAG
Die laatlam Hertie ontvang tuisonderrig en skryf vanjaar matriek. Hy is by alles in die boerdery betrokke – van rekordhouding tot bemarking.
“Daar word nie ’n bok afgelaai sonder dat ek by is nie,” sê Hertie. “Ons werk eintlik vir hom,” sê sy ma. Sodra Hertie sy senior sertifikaat het, wil hy sy vlieënierslisensie kry en kursusse in wildplaasbestuur en -boerdery doen, onder meer die veesiekteskursusse aan Onderstepoort.
Hy is ook ’n bedrewe afslaer en hoop om by een van die groot veilingshuise betrokke te raak en uiteindelik sy eie afslaersbesigheid te begin.
“Die goeie, ouer afslaers begin aftree. Te min jong afslaers betree eintlik die mark,” sê hy.