Regering doen niks met dié grond
LANDBOUGROND in staatsbesit wat in onbruik lê, verteenwoordig nagenoeg 1,7% van alle grond in Suid-Afrika wat as plase geklassifiseer word.
Mnr. David Nhleko, Minister van Openbare Werke, het onlangs in antwoord op ’n parlementêre vraag onthul dat amper 1,9 mil- joen hektaar grond in staatsbesit tans in onbruik is. Daarvan is 1,64 miljoen hektaar as plase geklassifiseer, en die res as stedelike of dorpsgrond.
Volgens die grondoudit wat einde verlede jaar deur Agri Development Solutions (ADS), Agri SA en Landbouweekblad voltooi is, beslaan Suid-Afrika se totale landbougrond nagenoeg 93,5 miljoen hektaar. Uit die data, wat inligting van 12 359 individuele eiendomme bevat, blyk dat die meeste van die onbenutte grond in munisipaliteite is wat voorheen die tuislandgebiede opgemaak het (sien TABEL 1 ).
Mnr. Johann Bornman, voorsitter van ADS, sê die rede hoekom soveel van dié grond in die voormalige tuislandgebiede geleë is, is omdat besproeiingsprojekte in dié gebiede misluk het toe die tuislandregerings in 1994 plek moes maak vir die nuwe bestel. Verder, ofskoon die ou tuislandgebiede hoë boerderypotensiaal het, is in daardie gebiede meestal bestaansboerdery beoefen en die grond het nooit sy volle potensiaal bereik nie.
Hy sê dit maak sin dat die grond se potensiaal in daardie gebiede ontwikkel word in plase wat vir mense gegee kan word om te boer.
EISPATRONE
Hoewel daar dikwels beroepe op die Regering gedoen word om ongebruikte staatsgrond aan landsburgers oor te dra, sê Bornman sulke grond kan nie goedsmoeds vir restitusie aangewend word nie, omdat die “grondeispatrone nie saamloop met die staatsgrond nie”.
Eisers eis die grond waarvan hulle voorheen verwyder is, en daardie grond is nie in dieselfde gebiede geleë as die onderbenutte staatsgrond nie.
PRODUKTIEF
Gesien uit ’n politieke oogpunt meen hy die ANC kan baie punte aanteken deur onderbenutte meentgrond in produktiewe eenhede om te skakel.
Hy sê adj.pres. Cyril Ramaphosa, die nuwe leier van die ANC, kan die beweegruimte wat bestaan vir grondonteiening, asook boere se landbouskuld in berekening bring om ’n oplossing vir die land se grondhervormingsideale te bied.
Bornman glo daar bestaan beweegruimte om onteiening te gebruik as deel van ’n grondhervormingstrategie, maar dan moet daar ’n oplossing vir landbouskuld gevind word. Hy glo nie so ’n program sal lei tot ’n situasie soos wat Zimbabwe die afgelope 20 jaar ervaar nie, want anders as daardie land is die landbou se bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie maar sowat 3%.