Boere, veeartse reik oor grens om siektes te keer
DIT is nie soseer grensdrade nie, maar getroue monitering en noue samewerking tussen boere, private en staatsveeartse en amptenare van Limpopo se veeartsenydiens wat sorg dat Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status behou.
Só sê mnr. Dricus Botha, bestuurder van die TLU SA Noord, nadat die nuuswebwerf Daily Maverick verlede week berig het oor besoekers wat ontstoke was omdat hulle beeste in die Mapungubwe- Nasionale Park gesien het. Die besoekers meen beeste in so ’n bewaringsgebied is ongehoord. Die park is geleë waar die Limpopo- en Shasherivier en Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe bymekaarkom.
Die beeste behoort glo aan ’n gemeenskap aan die Zimbabwiese kant van die oorgrenspark. Volgens die park se bestuur verdra hulle die beeste omdat dit die eeu oue, interaktiewe grondgebruikspatrone tussen mens en dier in dié wêrelderfenisgebied weerspieël.
“Die vrye beweging van vee en wild in hierdie gebied bestaan al sedert 900 n.C. Mapungubwe is ’n lewende kulturele landskap en ons moet dit waardeer vir wat dit is sonder om dit met die bekende Krugerwildtuin te vergelyk,” sê die reservaat se bestuur in ’n verklaring.
INSTANDHOUDING
Die park se bestuur sê daar word meer beeste in die park gesien omdat die veeartsenykundige heining tussen Suid-Afrika en Zimbabwe nie deur Limpopo se departement van landbou onderhou word nie.
Die verantwoordelikheid vir die instandhouding van dié heining berus volgens verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse weermag se grensbeskermingsafdeling by projek Corona van die Departement van Openbare Werke. Die weermag moet die heining patrolleer.
Botha sê die vee in die omgewing van oorgrensparke steur hulle min aan landsgrense, en dit sal nie oorgrensparke wees as daar heinings gespan word nie. Boere se groot bekommernis rakende sulke parke, asook die res van die grens, is egter die verspreiding van siektes.
Hy sê waar daar wel grensdrade tussen Suid-Afrika en sy noordelike bure is, is dit deur boere opgerig en hulle onderhou dit self.
“Die beskerming van ons status as vry van bek-en-klouseer is ’n
voorrangsaak. Daarom volg ons saam met die departement van landbou ’n streng en noukeurige moniteringsprogram.”
TOEWYDING
Botha loof die departement vir sy toewyding in hierdie verband en sê die opleiding van opkomende boere rakende veesiektes en die voorkoming daarvan in die Limpopovallei is nou dringend.
Hy sê sover sy kennis strek, is daar selfs goeie skakeling met veeboere oor die grense heen. Die departement staan die Maramani-gemeenskap in Zimbabwe by in die monitering van hul vee vir siektes.
Hy sê dit kan nog ’n rukkie duur voor die Zimbabwiese regering weer administratief sterk genoeg is om gemeenskappe soos dié met voldoende veeartsenydienste by te staan. Intussen staan Suid-Afrikaanse boere en die departement in om oorgrensbedreigings vir die plaaslike landboubedryf hok te slaan.