KRISISBESTUUR
“Moet nooit ’n goeie krisis onbenut laat verbygaan nie,” het Winston Churchill, die Britse oorlogsleier en staatsman, droogweg opgemerk.
Tye van nood bied aan ons die geleentheid om iets te leer. In die landbou hoef ’n mens net te kyk hoe bewaringsboerdery inslag vind ná een of ander krisis, soos die verspoeling van lande ná groot reën. In probleme is altyd lesse verskuil.
Churchill het krisisse natuurlik goed geken. Die landing op Gallipoli se strande, onder sy bevel as hoof van die vloot in die Eerste Wêreldoorlog, het die lewens van honderdduisende Britse en koloniale troepe geëis toe die Turke reeds vir hulle gesit en wag het. Churchill moes uiteindelik in skaamte bedank.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog moes hy, terwyl hy met depressie geworstel het, die volk bymekaarhou terwyl Nazi-bomwerpers Londen en ander kus- en nywerheidstede, soos Coventry en Sheffield, in puin gelê het. Tog kon Churchill steeds die Britte (en koloniale vlieëniers, soos Sailor Malan, die heldhaftige Suid-Afrikaanse vegvlieënier en bevelvoerder van die Biggin Hill-vleuel) inspireer om die skares Duitse Messerschmitt-vegters terug te dryf.
Churchill sou dus wragtig trots gewees het op die gemors waarin Kaapstad en die omliggende landbougebiede en dorpe tans gedompel is. Dit is soos die Slag van Brittanje, as’t ware geskiedenis in wording.
Nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het ’n stad so groot soos Kaapstad se water opgeraak nie. Niemand weet dus presies wat gaan gebeur wanneer die krane toegedraai word en ’n paar mijoen mense elke dag by 200 waterpunte moet toustaan om 25 liter water te ontvang nie. Die somme klop nie. Jy gaan mos heeltyd in ’n ry moet staan. Besighede sal nie kan funksioneer nie. En wat van die riool wat skielik nie meer deur water weggespoel gaan word nie?
Pleks van om iets te leer en planne te maak, beskuldig ons mekaar eerder. Ons hou almal verantwoordlik — die DA, die stadsraad, die nasionale Departement van Water en Sanitasie, die toeloop van mense wat Kaap toe verhuis — almal behalwe onsself. Meer as die helfte van alle Kapenaars steur hulle steeds nie aan die betreklik matige waterbeperkings (vergeleke met byvoorbeeld geen water) wat die Stad Kaapstad ingestel het om ’n waterlose Dag Zero te vermy nie.
’n Groot gewag word gemaak van die toestroming van mense uit veral die Oos-Kaap wat water gebruik. Hoekom word die watertoevoer na die informele nedersettings nie ook afgesny nie?
Volgens beramings gebruik dié nedersettings ongeveer 4,7% van die stad se water. Hulle het in elk geval min of geen lopende water en staan buitendien reeds elke dag by waterpunte in rye.
Die grootste verbruikers bly in die voorstedelike woonbuurte en hulle gaan nou begin voel hoe dit is om in ’n township te bly.
Ja, maar wat van die boere, vra die paniekerige dorpenaars? Hoekom gebruik hulle nie minder water nie? Wel, byna alle boere se waterkwotas is reeds met 60-87% verminder, terwyl ander se waterkwotas al opgebruik is. Waar moontlik is die watertoevoer ook reeds afgesny. Dié toedrag van sake is nie net ’n blote ongerief, soos in die stad of dorp nie. Ons praat hier van boere en hul werkers se voortbestaan en miljarde rand se verlore inkomste vir die Wes-Kaap.
Nee wat, die vingerwysery gaan ons dus niks in die sak bring nie. Dit het nie gehelp toe die bomme op Londen neergereën het nie en dit gaan ook nie nou help nie. En dít is seker die eerste les.
— CHRIS BURGESS