Groot kommer oor boere se geldsake
TE midde van gebrekkige reënval en skuld wat oploop heers daar groot kommer oor saaiboere se finansiële oorlewing.
In dele van Noordwes is dit die vierde of vyfde jaar waarin boere abnormale weerpatrone ondervind, terwyl sommige boere in die Vrystaat nou vir die sesde agtereenvolgende jaar droogtetoestande ervaar.
Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, sê hy het al met talle boere gepraat wat baie vrae het oor die reën wat dié somer weer wegbly. “Al reën dit nou, is die risiko net te groot om so laat te plant, veral met die lae kommoditeitspryse.”
Hy sê twee jaar gelede was daar wel boere wat die kans gewaag het om laat te plant, aangesien graanpryse op goeie vlakke was, “maar daar is vir baie boere nou geen aansporing om te plant nie”.
Buiten die gebrek aan reën is Graan SA baie bekommerd oor die sielkundige impak van al die samelopende faktore op boere.
OPNAME OORWEEG
Die landbousakekamer Agbiz het by navraag gesê hy is ook bekommerd oor boere se geldsake weens die ongunstige klimaatstoestande.
“Daar is kommer by Agbiz oor die moontlike verswakkende finansiële posisie van ’n groot deel van ons lede se kliënte (boere), gegewe die droogtes van die afgelope aantal jare, insluitend die huidige droogte, en die lae pryse
met verlede jaar se groot oes.”
Só sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof. Volgens hom is dit tans onmoontlik om te oordeel presies hoe benard die situasie kan wees.
Agbiz het in Februarie 2016 laas ’n opname oor boere se finansiële posisie gedoen. Finansiele instellings kon boere wat toe onder druk was, meestal help met die konsolidering van skuld, waar nodig.
“Agbiz oorweeg tans weer so ’n finansiële opname vir Wes-Kaapse produsente weens die verswakkende situasie daar,” sê Purchase.
Hy sê verder Agbiz bearbei die Regering al jare lank om ’n staatsoesversekeringskema in te stel om boere se oorlewing in rampdroogtesituasies te verseker. Die Nasionale Tesourie sou die loodsprojek in dié verband in die derde kwartaal van die huidige boekjaar in werking gestel het.
“Gegewe die onderstrominge by die Nasionale Tesourie is dit onduidelik of daar enige vordering
in dié verband gemaak is,” sê Purchase.
BANKE ‘WIL NIE BOER’
Banke en ander kredietverskaffers behoort vanjaar opnuut hul kliënte sover moontlik te help om op die plaas te bly na gelang van elkeen se individuele verdienste, sê mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB.
“Ons wil nie boer nie. Ons wil sien dat die boer op sy plaas bly sodat ons met hom kan aanhou sake doen.”
Gevra oor die impak van kleiner aanplantings op die finansieringsektor, meen Maree dit gaan nie noodwendig so groot wees nie omdat hul vooruitbeplanning vir hierdie produksiejaar taamlik konserwatief was. Dit is dus reeds in berekening gebring dat boere waarskynlik vanjaar beduidend minder hektare as verlede jaar sou beplant het weens die lae graanpryse.