‘DAG ZERO’ BREEK AAN VIR KAAPSE BOERE
TALLE boere in die Kaapse Skiereiland wat van besproeiingskemas se water afhanklik is, se water is amptelik afgesny. Dit laat hulle nou met min uitkoms om hul boerderye aan die gang te hou.
Boere rondom Kaapstad wat van die Bergrivier- en Theewaterskloof-besproeiingskema afhanklik is, is op 22 Januarie vanjaar aangesê dat hulle nie meer water uit die skema mag pomp nie. Volgens mnr. Johan Conradie, plaasbestuurder van die Vorentoe-boerdery in Kuilsrivier, het hulle nog genoeg water om die volgende ses weke lank te boer.
“Ons besproei uit die Theewaterskloof-besproeiingskema en het ’n pompkwota van 30 m3 water per uur, 24 uur per dag. Ons het reeds teen November verlede jaar ons normale 80 ha onder besproeiing gehalveer om by die beperkings aan te pas. As ons met die 40 ha aanhou boer, sal ons in Maart vanjaar nie meer kan boer nie, want ons opgaardam sal dan leeg wees. Dit is ’n katastrofe, want ons het bemarkingsooreenkomste wat eerbiedig moet word, minstens 40 mense in diens en rekeninge wat betaal moet word,” sê Conradie. Boere in die Boland en die Kaapse Skiereiland wat van nasionale besproeiingskemas se waterkwotas afhanklik is, is beperk tot 40% van hul aanvanklike regte, gemeet op die gemiddelde verbruik van 2011 tot 2015. Volgens mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, gaan die boere wat reeds hul kwota water vir die seisoen opgebruik het, se water afgesny word.
“Indien die produsent se totale verbruik vir die seisoen dus reeds bereik is, gaan hy of sy nie meer uit die skema kan besproei uit nie,” sê Opperman.
Boere is woedend oor dié stap deur die Departement van Water en Sanitasie, aangesien boere en die georganiseerde landbou reeds etlike jare noodkrete uitstuur en waarsku dat ‘Dag Zero’ gaan kom.
‘BOERE SE SKULD’
Volgens mnr. Rashid Khan, Wes-Kaapse bestuurder by die Departement van Water en Sanitasie, is die mense wat die meeste geraas maak oor waterbeperkings juis diegene wat die regulasies ignoreer en wette oortree.
“Ek kan nie die boere wat kwaad en ongelukkig is, se griewe aanvaar nie. Ons kommunikeer deurentyd met hulle en geen boer is vrygestel van die gebruik van water nie. Produsente moes dus al lankal alternatiewe waterbronne bekom het, want die departement is afhanklik van reënwater om damme mee aan te vul en water te voorsien. Indien die boere iemand die skuld vir die situasie wil gee waarin hulle nou verkeer, is dit net hulself,” het Khan gesê.
Hoewel Opperman boere maan om nie vinger te wys nie, uit die situasie te leer en hul voortbestaan so goed as moontlik te probeer verseker, sê hy Khan versuim sy grondwetlike pligte.
“Al jare lank, sedert die 1990’s, word daar gewaarsku dat die WesKaap sonder water gaan wees. Daar is talle planne ter tafel gelê om die opgaarvermoë te vergroot, ondergrondse water beter te bestuur en infrastruktuur in stand te hou om vermorsing te voorkom, maar daarvan het niks gekom nie.”
NÓG ‘N FIASKO
Volgens Opperman sou die Clanwilliamdam se vergroting ’n stap in die regte rigting wees, maar selfs dít is ’n fiasko. “Khan moet in gedagte hou dat selfs die alternatiewe waterbronne wat produsente teen koste bekom het, veral boorgate, word nou ook streng gereguleer. Waar is daar dus vir die produsente verligting vir die situasie?”
Opperman sê hy is erg bekommerd, aangesien die totale landbouverwante ekonomie – van primêre produsent en plaaswerker tot by voedselverwerkers – deur die droogte geraak word.
“Ek is egter nie verbaas dat die Wes-Kaap se watervoorsiening ’n fiasko is nie, want Khan, wat aan die stuur daarvan staan, is selde op strategiese gesprekke betrokke wanneer belangrike besluite geneem moet word,” sê Opperman. “Wat gaan gebeur as vanjaar se winter ’n herhaling die vorige winter is?”
—