Grondboonbedryf laat eliteproewe herleef
Nadat die plaaslike grondboonbedryf voorverlede jaar sy kleinste oes tot nog toe behaal het, het die bedryf kragte saamgesnoer en met teling nuwe lewe in die bedryf geblaas. Dié kultivars is die uitskieters in verskillende streke.
Grondbone was eens op ’n tyd een van die hoofoliesaadgewasse in Suid-Afrika. Die sektor is wêreldwyd beskou as een van die voorste uitvoerders van grondbone van ’n hoë gehalte na markte in Europa en die Verre-Ooste. Weens ’n aantal redes, waaronder die vorige knellende droogte, het die produksie van dié gewas egter skerp gedaal tot vlakke van minder as 80 000 ton per jaar. Suid-Afrika het afhanklik geword van invoer om in die plaaslike vraag te voorsien.
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se verslag Grondboonwaardeketting in Februarie 2012 het geleenthede vir die bedryf uitgelig, maar ook daarop gewys dat daar ’n behoefte bestaan om nuwe maniere te vind om die opbrengs van grondbone te verhoog.
Een daarvan is die teling van nuwe lyne. Daar was sedert die produksiejaar 2006-’07 sulke grondboonproewe, maar dit het in 2011-’12 tot ’n einde gekom. Daarna is die proewe vervang met evaluasieproewe van geregistreerde kultivars en internasionale kultivars wat vir plaaslike toestande getoets is.
Betrokkenes in die Suid-Afrikaanse grondboonbedryf werk egter nou saam om die nasionale elite-grondboonkultivarproewe te laat herleef. Huidige geregistreerde plaaslike kultivars van verskillende maatskappye sowel as ’n aantal teellyne van die Landbounavorsingsraad (LNR) word sedert die afgelope produksiejaar getoets.
Me. Adri Botha, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Grondboonforum, sê die bedryf het op ’n vergadering van die forum in Oktober 2016 besluit om die kultivarproewe op die been te bring ten einde produsente te help in hul besluitneming oor kultivarkeuses.
Mnr. Lourens de Kock, uitvoerende hoof van Roba Foods, ’n verwerker van grondbone en ondervoorsitter van die SA Grondboonforum, is saam met mnr. Frans Minnaar, voorsitter van Graan SA se grondbonewerkgroep, en me. Lorraine Muller, agronoom van die LNR se Instituut vir Graangewasse, aangewys om die projek te bestuur.
“Grondboonprodusente het die afgelope tyd gefrustreerd begin raak met die beskikbare kultivars, veral nadat navorsing oor mielie- en sojaboonkultivars groot spronge vorentoe gemaak het, terwyl die ontwikkeling van nuwe grondboonkultivars grootliks agterweë gebly het,” sê Lourens.
Hy sê formele saadtelers het ook uit die produksie van saad getree weens die wisselvalligheid van die grondboonmark. “Die LNR het dus later uitsluitlik die teler van grondboonsaad in Suid-Afrika geword wat nuwe lyne ontwikkel het. Boonop duur dit vier jaar voor ’n nuwe lyn die produsent bereik omdat