Landbouweekblad

VERBRUIK STYG MET 21%

- — JOHAN COETSEE

IN die afgelope tien jaar het die verbruik van varkvleis in SuidAfrika met 21% gestyg, het me. Marieta Human van die SuidAfrika­anse Varkvleisp­rodusente-organisasi­e (Savpo) op die plaas Nelson’s Creek buite Wellington gesê.

Sy was ’n genooide spreker op ’n werksessie oor die gehalte van varkvleis wat deur die varkverbet­eringsmaat­skappy PIC SA gehou is. “Die strewe is nou om meer mense in die land meer varkvleis te laat eet. Die plan is om verbruik daarvan in die volgende vyf jaar tot ses jaar drasties te laat styg.”

Altesame 60% van Suid-Afrika se bevolking het geen beswaar teen die eet van varkvleis nie. “Dít is die mense wat oorgehaal moet word om méér daarvan te eet,” het sy gesê. Human het gesê hoewel die verbruik van varkvleis styg, is die doelwit nou om te bepaal by watter inkomstegr­oepe dit die meeste styg, soos die middelklas, armer mense of ryker mense.

In 2017 was die verbruik per kop van hoendervle­is 35,7 kg. Beesvleisv­erbruik beloop 13,6 kg, dié van skaapvleis 2,3 kg en varkvleis 3,75 kg. “Die verbruik van hoendervle­is is soveel hoër weens jare van volgehoue promosie en wegneemver­koopspunte, soos KFC en Nando’s.”

Human sê dit is belangrik om jou teikengroe­pe te verstaan om varkvleisv­erbruik suksesvol by hulle te laat styg. Voorheen is verkeerdel­ik geglo dat feitlik alle arm mense in landelike gebiede woon en die meer vermoëndes in stede en metro’s bly. “Dit is nie so nie. Met nuwe kennis word bemarkings­veldtogte aangepas.”

Moeite word ook nou gedoen om verbruiker­s in te lig oor die moontlikhe­de om varkvleis in verskillen­de soorte geregte te verwerk. Ná sulke promosies verdriedub­bel verkope.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa