Landbouweekblad

G’n keer aan diewe wat boorde leegdra

- — JASPER RAATS

PRODUSENTE van subtropies­e gewasse in die Laeveld van Limpopo en Mpumalanga sê daar word nou daagliks tonne vrugte en neute uit hul boorde gesteel.

Selfs elektriese heinings hou nie diewe, wat met vragmotors en bakkies kom plunder, uit nie. “Hulle lig eenvoudig die elektriese draad met ’n stok op en sleep die sakke avo’s onderdeur,” sê mnr. Chris Richter, ’n avokadokwe­ker van Karic Farming naby Mbombela (Nelspruit).

Richter het onlangs die meegaande op sosiale media gesirkulee­r. Die sakke vol avokado’s is op ’n buurplaas gekry waar diewe dit gelos het nadat hulle ’n alarm geaktiveer het toe hulle hul buit in die oggendure van Sondag 21 Januarie wou oplaai.

Die avokado’s, wat netjies in ’n ry in sakke gepak is, gereed om opgelaai te word, is op Saterdag 20 Januarie deur diewe gepluk. Daar was 3 ton avokado’s langs die draad gepak, sê Richter, en hy wys daarop dat daar reeds ’n klomp sakke onderdeur gesleep en opgelaai is. ’n Mens kan die sleepmerke duidelik op die foto sien waar ’n stok die draad ophou.

WAARDELOOS

Richter sê die hartseer van die situasie is dat hierdie avokado’s waardeloos is, want dit is nog in die groeifase en sal nie ryp word nie. “Dit is Pinkertons. Die olie- en vogpersent­asie in die vrugte is nog te laag vir die avokado’s om ryp te word,” verduideli­k hy.

Richter sê verbruiker­s moet bewus gemaak word van die probleem, want daar moet tonne sulke avokado’s op die mark wees. “Hier word vragte vol in ons omgewing gesteel. Ek en my pa het Sondag, net nadat hierdie vonds gekry is, diewe in ons boorde betrap. Verlede jaar het ’n ander buurman beeldmater­iaal van ’n vragmotor met 4 ton avokado’s wat reeds gelaai is, met sekuriteit­skameras op sy plaas vasgevang.”

Dié avokado’s word oral verkoop en verbruiker­s wat dink hulle kry ’n winskoop by informele stalletjie­s langs die pad, moet twee keer dink. “Daar is nie nou ryp avokado’s in Suid-Afrika nie. Nie voor middel Maart nie. Verbruiker­s wat nou ‘goedkoop’ avokado’s kry, koop ’n kat in die sak, want daardie vrugte word nie ryp nie en dit proe na niks. Dit is hoekom ’n mens dié tyd van die jaar byna R50 vir twee avokado’s betaal. Ryp, wettige avokado’s word van elders ingevoer.”

Dit is ook nie net avokado’s wat gesteel word nie, sê hy. Lietsjies en makadamias word op dieselfde skaal gesteel.

OPVOEDING NODIG

Richter meen die enigste manier om die probleem hok te slaan, is deur verbruiker­sopvoeding. Hoe meer verbruiker­s besef dat “goedkoop” avokado’s buite seisoentyd nooit ryp gaan word nie, hoe minder sal hulle die onwettige mark ondersteun en hoe kleiner sal die vraag na sulke groen vrugte wees.

Hy sê leidrade wat boere tot op hede opgevolg het, toon dat baie smouse mense van sakke voorsien en betaal om vir hulle gesteelde avokado’s te bring. “Die dief en die verkoper is die enigstes wat baat vind. Die boer verloor sy oes en die verbruiker mors sy geld.” 1

 ?? FOTO: CHRIS RICHTER ?? Mnr. Chris Richter het in die vroeë oggendure van 21 Januarie afgekom op sakke vol gesteelde avokado’s wat netjies gepak is, gereed om weggery te word.
FOTO: CHRIS RICHTER Mnr. Chris Richter het in die vroeë oggendure van 21 Januarie afgekom op sakke vol gesteelde avokado’s wat netjies gepak is, gereed om weggery te word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa