SA pluimveeprodusente baklei verder teen Namibiese perk
SUID-AFRIKAANSE pluimveeprodusente het ’n tweede kans gekry om Namibië se beperking op die invoer van Suid-Afrikaanse hoender in die Namibiese hooggeregshof te betwis.
Die beperking is in April 2013 ingestel om die jong Namibiese pluimveebedryf te beskerm.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) en vyf pluimveeprodusente het in April 2014 ’n aansoek in die Namibiese hooggeregshof gebring dat dit tersyde gestel moet word, aangesien dit volgens hulle strydig met internasionale handelsverdrae is.
Die Namibiese regering, pluimveebedryf én vleisraad het die aansoek teengestaan.
Die hof het nie hul argumente aangehoor nie, aangesien die aansoek so laat ingedien is.
Die Suid-Afrikaanse partye het geappelleer. Die hooggeregshof het nou op 17 Januarie die laat indiening van die aansoek gekondoneer en die saak vir verhoor na die hof van eerste instansie terugverwys.
Die regters wat die appèlaansoek aangehoor het, sê in hul uitspraak hoewel die Suid-Afrikaners geen verduideliking gegee het oor waarom hulle veral die eerste ses maande ná die afkon- diging van die beperking niks gedoen het nie, en die vertraging in hul optrede onredelik was, is dit in openbare belang dat sekere kwessies aangehoor moet word.
Dit sluit in die omvang waartoe, indien wel, internasionale verdrae in plaaslike howe afgedwing kan word.
GEBREKE
Prof. Gerhard Erasmus, ’n vennoot by die handelsregsentrum (Tralac) in Stellenbosch, sê daar is interessante en belangrike regsaspekte in die saak, sommige waarvan Namibiese howe nog nie voorheen oor beslis het nie.
“Normaalweg word internasionale handelsdispute deur internasionale tribunale besleg omdat dit oor geskille tussen state handel. In Suider-Afrika is sake egter nie so eenvoudig nie.
“Afrika-regerings litigeer nie teen mekaar wanneer onderlinge handelsverdrae geskend word nie. Hulle beweer geskille word deur middel van diplomatieke weë geskik. Daar is egter weinig bewys daarvan.”
Zimbabwe skend byvoorbeeld al jare lank die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se handelsprotokol.
Die lande skep ook nie die nodige internasionale howe nie.
“Toe die SAOG-tribunaal in 2010 in ’n grondeis teen Zimbabwe beslis het, is die tribunaal summier afgeskaf. Die nuwe SAOG-tribunaal is nog nie in werking nie, maar sal in elk geval nie private eise mag aanhoor nie.”
Die tribunaal wat volgens Erasmus kragtens die SAOG-verdrag van 2002 ingestel moes word, is nooit geskep nie.
GRONDWETLIK
In die huidige hofsaak oor die Namibiese beperking op hoenderinvoer, moet ’n mens in gedagte hou dat private partye (die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging en produsente) die eisers is, sê Erasmus.
“Hulle beweer (die Namibiese) maatreëls skend nasionale regsbeginsels van Namibië, asook sekere internasionale handelsverdrae van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie, die SAOG, asook die Wêreldhandelsorganisasie.
“Laasgenoemde argumente verwys na artikel 144 van die Namibiese grondwet, wat internasionale regsbeginsels en verdrae deel van die nasionale regsorde sou maak. Die verweerders betwis natuurlik hierdie eise en argumenteer dat internasionale handelsverdrae nie vatbaar is vir sulke eise nie.
“Die uiteindelike uitspraak behoort groter duidelikheid te bring oor die omvang van nasionale industrialiseringsbeleide en die invloed daarvan op handelsverdrae.
“Die uitspraak hoef nie noodwendig oor die interessante vraag oor artikel 144 van die Namibiese grondwet te beslis nie,” sê Erasmus.
‘Toe die SAOG-tribunaal in 2010 in ’n grondeis teen Zimbabwe beslis het, is die tribunaal summier afgeskaf.’