Die waterprys en ekonomiese groei
Moenie die landbou of reënvalsyfers blameer vir die watertekort in die Wes-Kaap nie. Kyk eerder na die prys van water en regerings se vermoë om voldoende skoon water te verskaf.
Die Wes-Kaap gaan gebuk onder ’n fel droogte en die streng waterbeperkings raak almal. Water, as ’n hulpbron, bevorder ekonomiese groei. Wanneer dit by die uitdeel van water kom, staan die landbou gewoonlik agter in die ry. Jan Publiek staan heel voor, dan volg nywerhede en daarna produsente.
Produsente in die Wes-Kaap lewer ’n bydrae van 22% tot die provinsie se bruto binnelandse produk. Hulle produseer voedsel en drank teen uitvoerpryse, maar verskaf ook werk in ’n belowende bedryf (gegewe dat ’n werkloosheidsyfer van 26% en armoede van Suid-Afrika se grootste probleme is).
Ironies het die ekonomiese groei en opbloei in Zambië dié land se waterinfrastruktuur beproef – ondanks hoë reënval.
Sonder voldoende water wat deur voldoende infrastruktuur vir ekonomiese groei daargestel word, kan ’n ekonomie nie groei nie. Die onderhoud daarvan (soos kanale) is egter net so belangrik om waterverlies te beperk. In sommige gevalle is die verlies aan water onaanvaarbaar hoog weens swak onderhoud.
Die Wes-Kaapse waterkrisis staan in die pad van ekonomiese groei in dié provinsie. Dit sou kortsigtig wees om meer water van die landbou te vervreem. Indien die koste en prys van water deur vraag en aanbod bepaal word, kan die doeltreffende verbruik van water skuif na waar dit die grootste nut het.
’n Onlangse opname deur die internasionale energiekonsultasiegroep NUS Consulting toon dat die prys van water in 12 uit 14 lande gestyg het.
In Denemarke is water die duurste ($6,70/1 000 liter – teen die huidige wisselkoers is dit ongeveer 8c/liter) en in Amerika is dit die goedkoopste. In die meeste lande wat in die opname betrek is, neem die prys van water meer as die inflasiekoers toe. Die prys van water in Suid-Afrika het volgens die studie van 2015 tot 2016 met 20,4 % toegeneem.
Die verwagte groei in die wêreldbevolking en gepaardgaande verstedeliking en industrialisasie kan ernstige gevolge vir die omgewing inhou.
Volgens die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling bevoordeel hoë waterpryse die omgewing omdat die verbruiker meer waardering vir die skaarsheid en waarde daarvan ontwikkel. Duur water lei tot die besparing daarvan. Indien water teen die regte prys verkoop word, betaal dit om water te bespaar.
Water is polities ’n sensitiewe saak in die Europese Unie en die voorsiening van gehaltewater is ’n groter probleem as die koste wat daaraan verbonde is.
Brittanje en Duitsland oorweeg dit om die watermark te dereguleer. Dit is byvoorbeeld beleid in Denemarke dat alle koste wat met die voorsiening van vars water en die hantering van afvalwater te doen het, van die verbruiker verhaal moet word.
Die landbou is ’n groot waterverbruiker en kan die ergste deur hoë waterpryse geraak word. Waar water in Denemarke duurder geword het, het die verbruik daarvan deur Deense boere gedaal. Hulle sê egter hulle kan nie nog hoër waterpryse bekostig nie. Produsente en die voedselbedrywe in Denemarke het ’n punt bereik waar die doeltreffende verbruik van water nie verder verhoog kan word nie. Hoër pryse vir water kan die bedrywe dus seermaak.
ONS WERKLIKHEID
Let op die meegaande GRAFIEK voordat landbouers se waterverbruik in die Wes-Kaap vir die huidige krisis verantwoordelik gehou word. Die dalende neiging in reënvalsyfers op mediumtermyn skep ook ’n groot dilemma vir produsente, wat van die damme vir besproeiingswater afhanklik is.
Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg