DIE ANDER SÊ
IN ’n nuwe boek, Strikes and the Law, ondersoek sewe arbeidsregkenners onder meer die toenemende probleem van gewelddadige stakings. Onder die redes wat hulle daarvoor aanvoer, is ál meer wantroue tussen vakbondleiers en -lede, asook kwessies buite die werkplek wat opnuut ’n faktor raak in loononderhandelinge. Daar is ook ál meer gevalle waar werkgewers hofbevele bekom wat geweld verbied, maar waar die polisie niks doen om die hofbevele af te dwing nie.
Daar is ’n al hoe groter indruk by werkers dat ’n mens beter resultate kry deur “nie volgens die reëls te speel nie”, ’n les wat uit die 2012-mynstaking geleer is. Solank ’n kollektiewe ooreenkoms daargestel is, word geen staking toegelaat oor enige kwessies wat deur daardie ooreenkoms gereguleer word nie. Tog was 2012 se staking gemik op ’n bestaande ooreenkoms – en het dit gelei tot beter lone en beter werkstoestande.
Solank die uiterste armoede voortduur, “is daar ook geen werklike vooruitsig op nywerheidsvrede nie”, sê die skrywers. Weens die hoë werkloosheidsyfers moet diegene wat wél werk het, vir ’n veel groter uitgebreide huishouding sorg – soms selfs veelvuldige huishoudings – waarvan die meeste lede werkloos is. Daar is dus geen “mededinging” tussen die werkendes en die werkloses nie, aangesien hulle dikwels in dieselfde huishouding is. Die enigste manier vir werkendes om al hul verpligtinge na te kom, is om aan te dring op hoër lone.