BOERE NIE ALLEEN IN GRONDSTRYD
Dis die onsekerheid van die grondkwessie wat ’n mens vang. Een of ander tyd moet jy ’n besluit neem wat reg is vir jou. Vir boere is dit veral moeilik, want hulle moet optimiste wees om te kan boer.
Hier is ’n paar opmerkings vir die optimiste onder ons. Eerstens, alles wat ons in die wandelgange hoor, dui daarop dat pres. Cyril Ramaphosa deeglik verstaan wat op die spel is. Dit is hoekom Nhlanhla Nene en Pravin Gordhan terug is in die Kabinet. Onteiening sonder vergoeding is ’n teenaanval wat deur Zuma se staatsplunderaars geloods is.
Almal weet ook dat arbitrêre onteiening nie net plaasgrond gaan raak nie. Almal — van voorstedelike bankiers tot townshippolisiemanne — sal van ’n werklike bate besteel word. Dit sal die hele ekonomie in die maag skop, insluitend internasionale beleggers wat hul geld hier ingestoot het op grond van internasionale ooreenkomste wat in goeder trou gesluit is.
Dit beteken boere het meer bondgenote as wat hulle dink. Die betekenisvolste daarvan is swart eiendomseienaars wat, volgens die ekonoom Mike Schussler, taamlik konserwatief geskat teen einde vanjaar 60% van die residensiële eiendom in Suid-Afrika sal besit. Dit is afgesien van die 26,7% van landbougrond wat reeds deur eienaars van kleur besit word, soos ons grondoudit bevind het.
En voor dit by vat kom, moet die proses nog wye draaie loop. Die voorgestelde veranderinge sal seker nog deur die Brahmanboer hoofregter Mogoeng Mogoeng in die Grondwethof bekyk moet word as dit op prosedurele vlak uitgedaag word. Dan is daar ook swaargewig- swart regslui, soos die vuurvreter-advokaat Tembeka Ngcukaitobi. Hy voel sterk daaroor dat daar nie aan die klousule oor private eiendomsbesit in die Grondwet getorring moet word nie (sien bl. 16), al het hy al onder meer die EFF verteenwoordig.
’n Mens tel ook toenemende teenkanting teen die EFF se voorstelle uit swart geledere in die media op. As dit nie vir Louis Botha se Wet op Naturelle-grondbesit van 1913 was nie, sou daar vandag ’n paar miljoen meer ontstoke swart Suid-Afrikaners gewees het.
En hier lê die knoop. Hoe kry ons meer mense vinnig genoeg in die breë ekonomie opgeneem en produktief op landbougrond gevestig om die politieke angel uit die grondkwessie te haal, en ook om uiteindelik Suid-Afrika op ’n ekologies volhoubare manier meer vooruitstrewend en suksesvol te maak?
Die staat kan nie grondhervorming bestuur nie. Gelukkig is daar al oor die jare genoeg boerdery- en finansieringsmodelle deur die landbou self ontwikkel wat ons toelaat om byna onmiddellik te begin. Maar dit gaan ’n meer aktiewe en gekoördineerde poging verg as wat tot dusver die geval was. En nie net die landbou sal betrokke moet wees nie. Die breë sakewêreld, soos die handelsbanke, sal ook moet inspring, want hierdie storie raak ons almal, en ons moet almal — nie net op die platteland nie, maar ook om die stede, en wit en swart — beter daaraan toe wees as nou.
Kom ons wees ook maar eerlik oor Julius Malema se EFF. Dit is g’n linkse politieke party nie. Hulle is ’n klomp fasciste wat ’n bedreiging vir die land inhou. Hul optrede het ook reeds groot skade berokken — plase verkoop skielik nie en uitbreidings word gestaak.
Net groter sekerheid gaan verligting bring, en dit lyk al hoe meer of ons dit self sal moet bewerkstellig. — CHRIS BURGESS